Kameras teen masjiengewere
Kameras teen masjiengewere

Kameras teen masjiengewere

Dani Booysen
Operasie Kalahariwoestyn – ondanks sy suksesse – wil ongelukkig weens die verkeerde redes nie uit die nuus wyk nie.

In gister se uitgawe het regslui ronduit standpunt ingeneem teen die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, se reaksie op die skietdood van die 32-jarige mnr. Benisius Kalolo.

Volgens die minister is die afneem van soldate en polisiebeamptes tydens die uitvoering van hul pligte onwettig. Geen so ‘n wetlike verbod bestaan nie. ‘n Verbod geld wel vir persele en geriewe – wanneer veiligheidskwessies ter sprake is.

Regslui verwerp die argument dat sulke foto’s of video’s tot wraakaanvalle teen wetsbewakers kan lei. Ook die minister se bysleep van fopnuus was onvanpas.

Kalolo het ‘n dwelmklopjag op video vasgevang en wou nie sy beeldmateriaal oorhandig nie. Daar was geen rede om te skiet nie.

Aanvanklik is gewag van sy kriminele rekord gemaak, maar uiteindelik het geblyk sy tragiese doodsonde was niks meer as dat hy tonele met sy selfoon opgeneem het nie.

Moderne tegnologie het lankal kameras in byna almal se hande geplaas.

Ook is Kalolo net een van verskeie slagoffers. Mnr. Fambauone Black, ‘n Zimbabwiese taxi-bestuurder, is byvoorbeeld ook vroeër vanjaar doodgeskiet en in 2014 is me. Frieda Ndatipo noodlottig tydens ‘n betoging getref.

Die saak sal soos ander sy gang in die howe gaan, maar die regering durf nie vergrype en die skending van regte met onsinnige en redelose argumente te verdedig nie.

So sê ander

25 September 2019

Hofuitspraak oor lyfstraf vra nugter denke

In ’n tyd waar die geweldskwessie in Suid-Afrika weens die vlak daarvan dreig om die land te laat ontspoor, vra twee verwikkelinge nugter denke en ’n fyn oordeel.

Eers het hoofregter Mogoeng Mogoeng verlede week in die konstitusionele hof uitspraak gelewer dat lyfstraf (ook) in private huishoudings onwettig is. Die dag daarna het pres. Cyril Ramaphosa ’n noodaksieplan aangekondig ingevolge waarvan R1,1 miljard in dié boekjaar toegewys word om geslagsgeweld te takel en vroue te bemagtig.

Die noodplan oor geweld teen vroue wyd geloof. Oor lyfstraf is almal dit nie so eens nie.

Die emosies hieroor en die debat kan nie misken word nie. Maar die kreatiewe uitdaging vir ouers, tensy hulle die wet wil verbreek, skuif na hoe hulle “ander wyses as lyfstraf inspan om hul kinders te dissiplineer” (om regter Mogoeng aan te haal).

Ook (of juis) kinders moet leer regte kom met verantwoordelikheid, wangedrag het gevolge en grense moet nagekom word. Dit moet só gebeur dat die huis die plek is waar ’n weersin in geweld en ’n sin vir regmatigheid en deernis gekweek word – uit respek en nie uit vrees nie. Dis ’n gedugte taak.

• DIE BURGER/VOLKSBLAD (NETWERK24)

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!