Kamp, buitelug en een moewiese rockfees

Lloyd Zandberg
Lloyd Zandberg - Elke vier jaar kry mense die geleentheid om ‘n ekstra dag op aarde te spandeer. Hetsy jy dit gebruik om in die tuin te werk, die spaarkamer oor te doen, dalk die kar te was, jou hare te laat uitblaas of een van die markies in jou area by te woon – dit maak nie saak – elkeen mag doen wat hy wil met sy tyd. Indien jy nie iets vir vanjaar se skrikkeldag beplan het nie, moet jy eenvoudig jou kar pak, die kinders laai en deurjaag Steinheim toe, vir Camp Rock.

Namibiërs van wyd en syd kan begin vere regskud vir wat beskou word as die eerste, en moontlik die grootste rockfees wat die land nog óóit gesien het.

Camp Rock is ‘n drie dag lange buitelug musiekfees, waar jy van die grootste internasionale en plaaslike kunstenaars op die verhoog kan sien.

Camp Rock vind volgende naweek (28 Februarie tot 1 Maart) by Steinheim Farm buite Windhoek op die C26-pad (sien padaanwysings) plaas.

Evane Storbeck is die breinkrag agter dié reuse-geleentheid met die ondersteuning van haar vriendin Beulah du Pont.

“My besigheid, Camping in Namibia, vier vanjaar sy 5de bestaansjaar. Dit sou ’n normale stap wees om die geleentheid op ‘n spesiale wyse te vier.”

Dis toe die twee besluit het om Camp Rock te stig. ‘n Rockfees waar die een helfte oor kamp en die buitelug gaan, en die ander helfte oor musiek. Die kombinasie word gereeld in ander lande gesien. Die formaat van Camp Rock is ietwat soos die gewilde Rocking the Daisies-fees, wat jaarliks in Darling, Suid-Afrika, plaasvind.

“Camping in Namibia is ‘n aanlyn portaal, beide op Facebook en ’n webtuiste, waar kampeerders van oor die wêreld met mekaar kan kommunikeer en kampeerplekke aanlyn kan bestudeer,” sê Evane.

Die Facebook-blad het tans ongeveer 20 000 volgelinge en word deur Evane self bestuur.

“Dis my baba. Ek is trots op wat ek vermag.”

Camping in Namibia se X-faktor is, wanneer ‘n persoon ‘n versoek of raad aan die blad rig, kry jy onmiddellik reaksie.

Camping in Namibia het ook verlede jaar ‘n kaart geloods, waarop kampeerplekke in Namibië aangedui word.

“Die tweede opgedateerde weergawe van die kaart gaan later vanjaar verskyn.”

Evane het ‘n natuurlike aanvoeling vir musiek. Sy hou van kamp en musiek. Dit was ‘n logiese stap om Camp Rock te begin.

“Dit het alles baie vining gebeur. Ons het einde 2019 aan ‘n konsep begin werk en soos dit nou maar is, gebeur daar nie veel oor Kerstyd nie. Dit het beteken ons kon eers vroeg in Januarie vanjaar deeglik aan die idee begin werk en idees neerpen. Ons het die fees in omtrent ‘n maand en ‘n half voltooi. Ek geniet elke oomblik van die beplanning.”

Buiten topklasvermaak bied Camp Rock ook ’n 4x4-roete aan.

“Die 4x4 roete is gratis, maar belangstellendes moet registreer. Dis ‘n lekker familiegeleentheid en ek dink dit gaan vir groot vermaak sorg,” voeg Evane by.

Besprekings vir die 4x4-roete kan by Franciose Lottering by [email protected] gemaak word.

“Vir die fikser ouens, en dié wat hou van wandelpaaie, het ons ‘n trail run gereël. Indien jy dié staptog wil aandurf kan jy by www.webscorer.com/register?raceid=209625 bespreek,” sê Evane.

‘n Ander aktiwiteit wat gratis is, is die gewilde Drumming Circle.

“Alle feesgangers word aangemoedig om aan hierdie lekker manier van ontspanning deel te neem. Daar is net ‘n sekere hoeveelheid plekke beskikbaar, so moenie slaap nie. Maak seker jy is vroeg daar.”

KUNSTENAARS, PLAASLIK EN INTERNASIONAAL

Camp Rock stel glad nie teleur wanneer dit by die musiek en kunstenaars kom nie. Dis duidelik dat Evane en Beulah noukeurige en strategiese besluite geneem het.

Die immer gewilde plaaslike kunstenaar Vaughn Ahrens gaan die verhoog met sy hartklanke en unieke styl beklee.

Die man met die rasperstem John Rock Prophet, wat Namibiërs se harte met sy weergawe van Roxette se “It must have been love” gesteel het, gaan ‘n hoogtepunte tydens Vrydagaand se vertonings wees.

“Ek is baie opgewonde om vir Anton Goosen “te open”. Al speel ek net die Vrydagaand gaan ek die hele naweek daar wees. Dis net vir my so lekker om deel van die fees te wees en ek beskou dit as ‘n eer,” het John Rock Prophet aan Kollig gesê

Jacob and Taylor het aan Kollig gesê: "Happy days, ons gaan Camp Rock toe. Ek kan nie wag om almal daar te sien nie. Dit gaan vetpret wees. Al die bands, lekker sonskyn en baie bier. Sien julle daar, Namibië!"

Uit ons buurland se geledere is die lys van kunstenaars dié van swaargewigte.

Die immer gewilde Francois van Coke is een van hulle.

Francois van Coke is ‘n sanger, liedjieskrywer en stigterslid van die Suid-Afrikaanse alternatiewe rockgroep Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en Die Gevaar. In 2016 het hy sy debuutsolo-album vrygestel. In Oktober 2019 was sy derde solo-album, Dagdrome in Suburbia, op die rakke. Hy is die baasbrein agter die suksesvolle Francois van Coke & Vriende-vertoning. Francois het sy eie speletjies- en geselsprogram , Die Van Coke Show, op kykNET gehad, hy was ‘n afrigter op die derde seisoen van The Voice South Africa, en saam met lede van sy sologroep, Die Gevaar, het hy in Kaapstad sy eie ateljee, Van Coke Studios, oopgemaak.

“Ek was al 'n paar keer in Namibië. Ek was op skool op 'n rugbytoer deur Namibië en ek het ook met Fokofpolisiekar, Van Coke Kartel en solo met Die Gevaar al in Namibië gespeel. Ek hou baie van die land en sien baie uit na Camp Rock. Ons kry gewoonlik nie baie tyd om daar te spandeer nie, maar verlede jaar het ek en die Fokofpolisiekar dudes lekker op Swakopmund uitgehang. Dit was nogal 'n lekker plekkie vir my. Ek het 'n draffie teen die kus af geniet en ek het baie van die Duitse-gevoel in die dorp gehou. Natuurlik is die woestyn ook anders as Suid-Afrika en ek het Duin 7 uitgeklim toe ek 'n laaitie was,” het van Coke aan Kollig gesê.

Vir diegene wat spesiaal na sy vertoning uitsien, sê Francois, daar is ‘n paar verrassings wat op julle wag.

“Hey, ek het 'n fantastiese band, Die Gevaar, wat saam met my speel as ek solo-optree. Hulle het op al drie my solo-albums gespeel en speel al saam met my sedert my eerste solo-album in 2015 uitgekom het. Vier fantasties musos. Ons speel tunes van my solo-albums, maar ek sal ook vir die Fokofpolisiekar- en Van Coke Kartel-fans 'n paar classics ingooi. Ons sal 'n lekker wilde rock 'n roll-show vir julle in Namibië kom gooi.”

Hy spot en sê hy dink Namibiërs is “cooler” en “mooier” as Suid-Afrikaners.

Nog ‘n hoogtepunt is dat die legende Anton Goosen ook ’n verskyning op die Camp Rock-verhoog gaan maak.

Anton Goosen, ook bekend as die “Liedjieboer”, het meer treffers agter sy naam as enige ander Suid-Afrikaanse sanger. Sy eerste album, Boy van die Suburbs, het in 1979 verskyn. In sy musiekloopbaan het hy 20 albums uitgereik, waarvan elf goue status bereik het. Hy is al beskryf as die “Vader van Afrikaanse Rock”. Hy is ook ‘n liedjieskrywer, en prominente figuur in die Afrikaanse musiekbedryf, en legendes soos Sonja Heroldt, Carike Keuzenkamp en Laurika Rauch het van sy liedjies opgeneem. Hy het verskeie toekennings verwerf, waaronder twee Sama’s, en 19 van sy liedjies is in die FAK Sangbundel opgeneem. Hy word beskou as ‘n baanbreker vir Afrikaanse musiek.

Kollig het vir Anton gevra waarna sy aanhangers kan uitsien, en hoekom hulle na sy show moet kom kyk: “Want ons kan nie individueel na elkeen se huise gaan vir ‘n musiekkuier nie. Ons beplan om van die treffers van die afgelope 40 jaar te speel asook een of twee nuwes. Ons sal ‘n klompie van die nuutste CD 40 Jaar liedjieboer innie langpad ook saambring.”

Anton het in 1980 vir die eerste keer besoek aan Namibië afgelê en sedertdien maak hy gereeld ‘n draai in ons land.

“My ouers het in Namibië ontmoet en verloof geraak op Swakop se jettie. (My ma was op WHS en oupa en ouma op Okahandja.) Ek ken die Herero-poppe, die meteoriet naby Grootfontein, het die “Finger of God” (Mukorob) anderkant Keetmans besoek voordat dit in 1988 geval het, ken Gobabis, en het my eerste velskoene by Karasburg se handelshuis aangeskaf. Ek het ook ‘n baie groot liefde vir die oudste woestyn ter wêreld.”

“Schalk Joubert my baskitaarspeler, Albert Frost op elektriese kitaar en Riaan van Rensburg op tromme is van Suid-Afrika se voorste musikante, dus beoog die Bushrockband om ‘n groot rock-partytjie te hou,” sluit Goosen af.

Een van die grootste trekpleisters van Camp Rock is die alternatiewe Afrikaanse rockgroep Spoegwolf.

Spoegwolf bestaan uit Moskou du Toit, Chris von Wielligh, Albert van der Merwe en Danie du Toit. Die groep is in Februarie 2012 gestig. Die groep is gebore toe hulle in 2008 Die Burger se Jip Rockspaaider-kompetisie gewen het. Hulle eerste album, Swaartekrag, is in 2012 vrygestel en bevat die treffers “Somerset-Wes” en “Lenie Blou”. Intussen het hulle die albums Somer, Die Donker Toring en Koma opgeneem en See is verlede Vrydag vrygestel. Die groep het geskiedenis gemaak deur die eerste Afrikaanse musiekgroep te word om die nommer een plek op die Apple Music-trefferparade in Suid-Afrika te beklee.

“Ons was al so 4 of 5 keer in Windhoek vir shows. Dit is altyd 'n interessante ervaring. Dit voel amper soos Suid-Afrika maar jy kry Nam dollars-kleingeld in plaas van rande. Ons het in 2017 laas 'n show daar gespeel, so ons sien baie daarna uit,” het Danie aan Kollig gesê.

‘n Hoogtepunt van Spoegwolf se vertoning gaan die bekendstelling van hulle nuutste album, See, wees.

“Ons sien uit om 'n paar nuwe songs te speel,” sê Danie. Hy is ook jaloers omdat Namibiërs so baie Jägermeister kan drink.

Albert Frost is 'n Suid-Afrikaanse kitaarspeler en sanger, wat op 12-jarige ouderdom reeds begin kitaar speel het en op 17 saam met die legendariese bluesgroep, die Blues Broers, begin speel het. Hy was ook deel van die groep Frosted Orange voor sy eerste solo-album Catfish in 2002 uitgereik is. Hy het al saam met kunstenaars soos Koos Kombuis, Valiant Swart, Arno Carstens en Anton Goosen opgetree, en in 2017 het hy 'n Sama vir sy album The Wake Up gewen. Hy het al by musiekfeeste soos die Grahamstown Festival, die Oudtshoorn KKNK, Aardklop, Woodstock en Oppikoppi opgetree.

“Namibië is een van my gunsteling-Afrikalande, met ’n sterk kultuur en baie vriendelike mense! So ek sien altyd uit om daar te wees. Die Namibiese landskap is asemrowend,” het Frost aan Kollig tydens ’n onderhoud gesê.

Sy boodskap aan Namibiërs is die volgende: “As julle hou van kitaarwerk is dit noodsaaklik om te kom kyk. Ons hou daarvan om die oomblik ten volle aan te pak en musiek te maak wat almal kan verstaan.”

Radio Kalahari Orkes (RKO) maak ook ‘n draai by Camp Rock. RKO se musiek strek van ’n diep gewortelde plek, wat Ghoema-, Latyns- en Africana-musiek aanneem, insluitend enigiets anders wat langs die grondpad te vinde is. Die woorde is egter ferm op die hede. Met akoestiese toerusting amper so oud as hul leuse, speel die klanke uiteen: viool, kitare, dobro, mondfluitjie, bas, trekklavier, gazoos en ’n ou Fender Telecaster. RKO is op 20 April 2017 vereer met ’n FAK - Prestige-toekenning vir die bevordering van Suid-Afrikaanse volksmusiek. RKO beplan om Camp Rock se dak te lig (al is daar nie een nie).

“Elke keer as ons in Namibië kuier, voel dit asof ons familie is. Namibiërs is oor die algemeen rustiger en meer plat op die aarde as Suid-Afrikaners. Ons sien baie daarna uit,” het die groep aan Kollig gesê. “Ons gaan ook ‘n paar nuwe treffers met die feesgangers deel.”

Ons eie Janis Joplin, Andra, is reg om die Namibiese gehoor met haar unieke stem te vermaak. Andra is allermins onbekend in Namibië. Sy het op Swakopmund grootgeword, voor sy in 2007 Pretoria toe getrek het. Sy het intussen twee solo-albums opgeneem en by verskeie musiekfeeste soos Oppikoppi, KKNK, Aardklop en Innibos opgetree. Ná een van haar liedjies vir ‘n advertensieveldtog in die VSA gekies is, het haar musiek gewildheid in Europa en Amerika verwerf. Sy het ook ‘n suksesvolle toer deur België onderneem. Sy het al ‘n verhoog met groot name soos Koos Kombuis gedeel.

Indien jy teen dié tyd nog nie besluit het of jy die beste rockfees in Namibië wil bywoon nie, het jy minder as ‘n week oor om die grootste besluit van jou lewe te neem. ’n Besluit wat dalk jou hele lewe kan verander.

Dis jou kans om jouself aan musiek oor te gee. Jy kan nog die hele Maart jou hare, jou kar en hond was, selfs nog die tuin ook bietjie opknap.

Kaartjies kan aanlyn by https://www.today.com.na/events/camp-rock-2020-2 gekoop word.


DIE REëLS:

- Geen troeteldiere word toegelaat nie. Behalwe dolfyne.

- Daar is gemeenskaplike braai-areas. Feesgangers word nie toegelaat om by staanplekke vuur te maak nie.

- Kampeerders word by die Steinheim se ingang in kampsones ingedeel. Moenie jouself met die semels meng nie, bly in jou sone.

- Kampeerders mag hul eie drankies en kos by die kampterrein geniet, maar mag nie hul eie drankies na die feesterrein neem nie.

- Drank- en kosstalletjies is binne die feesterrein beskikbaar. (Die pryse is billik. Die organiseerders weet almal struggle.)

- Indien jy nie met derdegraadse brandwonde Sondag huis toe wil gaan nie, vat asseblief vir jou ‘n sonhoed en sonskerm saam.

- Daar is ‘n moontlikheid vir reën. Bring ‘n sambreel saam, hoewel enige water ‘n seën is.

- Ongelukkig is alle Glamping-tente uitverkoop. Beskou dit as ‘n uitdaging om die beste kamp van die fees te bou.

- Jy kan ‘n gasbraai by jou kampterrein gebruik.

- Houd en ys sal by die fees verkoop word.

- Kampterreine het geen krag nie. Jy gaan ‘n romantiese benadering moet gebruik.

- Gemeenskaplike toilette en storte toegerus met warm water, sal gratis aan kampeerders verskaf word. (Vuilvoete is ’n teken van vryheid. Niemand woon Camp Rock vir die storte nie by nie. Jy is daar vir die musiek.)

- Die feesterrein is min of meer 800 m van die kampterrein. Pak gemaklike stapskoene in. Dis nie ‘n opera nie, hou die spykerhakke vir later.

- Indien jy maklik seerkry, laai ‘n noodhulpkissie in.

- Feesgangers word versoek om so hard as moontlik voor en na vertonings te gil. Gedra jou tydens vertonings.

- Moet asseblief nie ander mense met skerp voorwerpe of bottels beetkry nie.

- Camp Rock neem geen verantwoordelikheid vir paljas-dinge wat op skrikkeldag mag plaasvind nie.

- Camp Rock vat ook geen verantwoordelikheid vir feesgangers wie se lewens ná die geleentheid gaan verander nie. (Dit blyk of almal beter mense anderkant gaan uitkom.)

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!