Kamp-groeipyne
Yandi du Plessis – Ek sien altyd uit na ’n vakansie by die see. Ná ’n lang jaar wat fisies en emosioneel uitputtend was, is sonskyn en vitamien see nét wat ek nodig het om te herlaai en die volgende jaar aan te durf.
Die Du Plessis-gesin het vanjaar weer oudergewoonte die ossewa gepak en die warm, klipperige pad deur die woestyn na Torrabaai aangedurf. Ná ’n chaotiese en onvoorspelbare 2021 was die ou gesinstradisie byna vertroostend.
Daar gekom, lê die kamp wat opgeslaan moet word letterlik soos ’n berg (kamptoerusting) voor jou. Sowat vier jaar gelede het ek in my heel eerste Sê Maar Net geskyf oor die Du Plessis’s se Torra-tradisies. As ek reg onthou, het ek vertel ons gesin doen nie die primitiewe kamp-ding nie.
My ouers se eie bad (want wie is lus vir die kampstorte?), ’n donkie (die soort wat water warm maak, nie die plaasdier nie) en pype om ’n hele hele loodgieterstelsel met warm- en koue krane aan te lê, word alles saamgepiekel. Dít maar net om ’n voorbeeld te gee van hoe ons dinge doen. Inderdaad gerieflik as alles eers afgepak en opgeslaan is.
As daar maar net elfies of seemonsters was wat dit vír ons kan doen. Nadat jy drie-uur daardie oggend opgestaan het en jou tande byna op die pad losgeskud is, is kamp opslaan die laaste ding waarvoor jy lus is.
Eers word gestry oor die uitleg van die kamp. Ondanks die feit dat ons gesin dit letterlik elke liewe jaar doen, kan niemand ooit onthou hoe die kamp verlede jaar gelyk het nie. Was hierdie grondseil bo of onder daardie een? Niemand weet nie, en die hele proses kom vir sowat 15 minute tot stilstand.
Daarna begin dinge stelselmatig afgelaai word en alles beland op een hoop wat eers kan verdwyn as die tente staan. Ek vermoed my ouers is met opslaantyd heimlik dankbaar hulle het ten minste een seun – drie vroue sou nie veel beteken as die weermagtent se middelste pale staangemaak moet word nie.
Ek dink almal wat in een of ander stadium gaan kamp het, het al probeer om vir ’n rukkie te verdwyn sodat die res van die brigade al die voetwerk kan doen. As jy terugkom, staan alles, gereed vir besetting. Om in die kar te gaan slaap of in die toilet weg te kruip terwyl die harde werk sonder jou voortgaan, werk egter net so tot jy agt jaar oud is.
Veral as jy ’n man is, word jou afwesigheid baie intens deur die res van die party gevoel. Tog sal daar gewoonlik die een familielid wees wat op opslaan- en afslaandag elke 20 minute of so koers kies na die toilet en bietjie té lank daar bly.
Afslaan is byna dieselfde storie, minus die opgewondenheid van die see-vakansie wat voorlê. Pleks daarvan voel mens soos ’n kind wat op ’n Sondag jou tasse pak voor jy teruggaan koshuis toe. ’n Hartseer storie vir ’n ander dag.
In elk geval, wat kamp opslaan betref, soos die Engelse sê: It takes a village.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie