Kampvegter teen diabetes
Kampvegter teen diabetes

Kampvegter teen diabetes

Tanja Bause
Tanja Bause - Suster Hileni Samuel het sowat ’n maand gelede die Hileni Wound & Diabetic Care-sentrum in Rhinostraat in Windhoek geopen.

Dit is die eerste sentrum in sy soort.

Samuel het gesê die sentrum fokus op diabete omdat daar tans meer mense aan diabetes-verwante komplikasies sterf as aan vigs, tuberkulose (TB) en malaria.

Samuel en haar broer, Petrus Nalupe, ook ’n verpleër, het Saterdag by ’n inkopiesentrum in Windhoek mense gratis vir diabetes getoets en hulle van raad bedien.

“Diabetes is aan die toeneem en omdat geld dikwels vir die bewusmaking van vigs, malaria en TB gaan, is mense nie oor dié siekte ingelig nie. Ons moet meer doen. By volwassenes is dikwels net ’n leefstylverandering nodig. Dit is hoekom ek besluit het om dit te doen. Dalk word mense vroeg genoeg gediagnoseer. Ek gaan dit een keer ’n maand by verskillende inkopiesentrums doen,” het Samuel gesê.

Samuel is die afgelope 24 jaar in die verpleegberoep en het al by verskillende hospitale as ’n verpleegsuster gewerk.

Sy het later besluit om op die versorging van wonde te fokus.

“Deur my werk as spesialis op die gebied van die versorging van wonde, het ek besef sowat 90% van my pasiënte is diabete,” het sy gesê.

Samuel het drie jaar gelede verskeie kursusse gevolg om haar spesialisveld te verbreed.

Sy het haar eie kliniek oopgemaak wat toegerus is met moderne toerusting. Die toerusting kan onder onder meer bepaal hoe lank dit vir ’n wond sal neem om te genees en of amputasie ’n opsie is.

Bloedtoevoer na die voete kan ook getoets word om te verseker are is nie verstop nie.

Wanneer Samuel ’n probleem ontdek, verwys sy die pasiënt na ’n spesialis.

Samuel se sentrum is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 17:00 en Saterdae van 09:00 tot 12:00 oop.

Diabete en individue wat vermoedelik diabeties is, is welkom om vir raad, ondersteuning en versorging by die sentrum aan te klop.

“Wanneer die mense by my uitkom het hulle dikwels reeds komplikasies. As hulle vroeër kom, kan die siekte beter bestuur word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!