Kampvegters stap vir aborsie

Tydens 'n geskiedkundige protesoptog die naweek het landsburgers op die wysiging van die huidige aborsiewet aangedring.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – Honderde Namibiërs het die afgelope naweek landswyd die strate ingevaar om aan 'n geskiedkundige protesoptog deel te neem.

Hulle dring daarop aan dat die land se 45 jaar oue aborsiewet verander om toegang tot veilige, wettige aborsies aan alle meisies en vroue te verseker.

Die bekende Namibiese oogspesialis, dr. Helena Ndume, het Saterdag meer as 300 deelnemers toegespreek en het gesê haar pro-aborsie standpunt is as gevolg van die aantal kere wat sy moes toekyk hoe jong meisies ernstige beserings opdoen of sterf weens gevaarlike agterstraat-aborsies.

Sy het beklemtoon die Aborsie- en Sterilisasiewet van 1975 keer nie aborsies nie, maar dwing eerder meisies en vroue om onveilige prosedures te ondergaan en stel dus hul lewens in gevaar. Dít is dikwels omdat hulle nie veilige aborsies in Suid-Afrika kan bekostig soos ryker Namibiërs nie.

“Dít is hoekom ek aan hierdie optog deelneem. Vir die minderbevoorregtes in Ombili, in Hakahana, dié wie se stemme nie gehoor word nie,” het sy gesê.

Me. Ndeshi Namupala, 'n sosioloog, het gesê seksuele en reproduktiewe gesondheid en regte vir vroue is kwessies “van lewe en dood, en nie net 'n kwessie van keuse nie.”

Namupala sê die argument teen aborsie ignoreer die realiteit van die arm en gemarginaliseerde vroue en meisies in Namibië wat nie self oor beplande swangerskappe kan besluit nie.

Die redenasie “moenie seksueel aktief wees as jy nie 'n kind kan bekostig nie” is ook nie geldig nie, sê sy. “Ons besef dat nie elke vrou of meisie is in 'n posisie om oor seks te onderhandel nie, wat nog te sê veilige seks. Ons weet die meeste jong meisies se eerste seksuele ervaring vind onder dwang plaas.”



Beperkte keuse

Sy sê “die huidige omstandighede van vroue in gemarginaliseerde gemeenskappe, wat met finansiële uitdagings, huishoudelike geweld en 'n gebrek aan maatskaplike ondersteuning en toegang tot voorbehoedmiddels worstel, word nie deur die anti-aborsie beweging in ag geneem nie.”

Namupala het gesê dit is 'n realiteit in Namibië dat “vroue, veral arm vroue, weens onveilige aborsies sterf omdat hulle nie private dokters kan bekostig nie en hul families hulle nie Kaapstad toe vir veilige aborsies kan stuur nie. Hulle het geen ekonomiese middele om 'n veilige aborsie te ondergaan nie.”

Sy sê die huidige wet moet hersien word “om almal die reg te gee om self te kies. Almal, mans en vroue, moet besluit wanneer hulle wil kinders hê of nie en saam met wié om kinders te hê.”



Gelykheid

Die sosioloog dr. Lucy Edwards het klem daarop gelê dat vroue in Namibië “nie vry is nie, want vryheid beteken jy het die reg om te kies. Ons het nie die reg om te kies nie, ons stryd is nie verby nie.”

Edwards het die pro-keuse beweging wat tans aan die gang is geloof, sowel as die steun van mans wat aan die optog deelgeneem het en diegene wat die afgelope maand die beweging aanlyn ondersteun.

Die optog dui op die groeiende druk op die wetmakers in Namibië om die huidige wet te hersien.

'n Versoekskrif wat op 12 Junie deur die aktivis, me. Beauty Boois, van stapel gestuur is, het dié beweging aan die gang gesit. Dié versoekskrif het ongeveer 70 000 handtekeninge verwerf.

Edwards het gesê ten spyte van die “teleurstelling, veral in ons vroulike parlementslede wat openlik die beleid teen vroue ondersteun”, rus die mag om die wet te verander nou in jong Namibiërs se hande. Sy het bygevoeg hulle moet “voortaan veg vir die bevryding van vroue en geslagsgelykheid.”

Boois het Saterdag in 'n vooraf opgeneemde praatjie aan deelnemers gesê: "Namibiese vroue se menseregte verdien om geprioritiseer en deur ons leiers en die wette van ons land beskerm te word."

Sy sê Namibië is 'n sekulêre staat en “godsdiens moet nie gebruik word om die regte en vryheid van 'n ander mens te skend nie. Jy het die vryheid om jou geloofs­oortuigings te beoefen, sonder teenstand of onderdrukking. Gee ons die vryheid om ons regte van keuse en liggaamlike outonomie uit te oefen.”

Mnr. Ndiilo Nthengwe, die medestigter van die Voices for Choices and Rights Coalition, het gesê die suksesvolle streeksoptog, sowel as die oorweldigende steun wat hulle aanlyn ontvang het, sal ingespan word om te verseker die pro-keuse beweging hou so lank as moontlik aan totdat reproduktiewe geregtigheid geskied.

Een van die mans wat Saterdag aan die optog deelgeneem het, het gesê hy het by die beweging aangesluit omdat hy glo vroue moet self besluit wat met hul liggame gebeur.

Hy sê hy wil ander mans wys “ons is net hier om ons steun as bondgenote te toon, en nie as dié wat die besluite neem nie, want dit is nie ons liggame nie.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!