• Tuisblad
  • Landbou
  • Kan Afrika-uitvoere sy ekonomiese vooruitsigte bevorder?
Kan Afrika-uitvoere sy ekonomiese vooruitsigte bevorder?
Kan Afrika-uitvoere sy ekonomiese vooruitsigte bevorder?

Kan Afrika-uitvoere sy ekonomiese vooruitsigte bevorder?

Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is betekenisvolle veranderings in handel met Afrika noodsaaklik.
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Loubscher - Die covid-19-virus sal na verwagting die gang van die wêreldekonomie verander en dit kan blywend wees.

Die Chinese ekonomie se veranderende strukture van basiese vervaardiging na groter verbruikersoriëntering en die gevolglike toename in die vraag na dienste word erg deur die immobiliteit van sy bevolking gestrem.

Altesaam 99% van die wêreld se gevalle van die covid-19 virus is in China, en die afname in die vraag na verbruikersitems is wesenlik.

Die afhanklikheid van uitvoere van lande wat die Chinese draak moet voer, is hard geslaan – dit strek van boere en plaaswerkers in Amerika tot die vervaardigers van sonpanele in Indië, tot selfs werkers in die toerismebedryf.

Chinese het toenemend begin reis en die lande van voorkeur wat besoek is en word, het Chineessprekende toergidse in diens geneem. Hulle is toenemend sonder werk.

Apple se selfone word in China vervaardig, en die afname in vraag as gevolg van kopers wie se beweeglikheid beperk is, het Apple genoodsaak om 'n winswaarskuwing uit te reik.

Werksonsekerheid staar tot soveel as 5 miljoen Chinese in die gesig weens die verminderde vraag na selfone.

Die vraag wat onwillekeurig opduik, is oor die permanensie van dié veranderings.

Terug op Afrikabodem is die hernude belangstelling in Afrika weer onder die soeklig.

Namibië het die eerste Afrikaland geword om beesvleis na die VSA uit te voer en was reeds suksesvol met vleisuitvoere na China.

Die markte sal ook tussentydse aanpassings moet maak, maar volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) is betekenisvolle veranderings in handel met Afrika aangewese.

SEWEVOUDIGE TOENAME

Tussen 2014 en 2016 het Amerikaanse uitvoere na Afrika met amper die helfte verminder. Beleggings uit die Verenigde Koningkryk het meer as verdubbel van 2005 tot 2014, terwyl slegs 2,5% van hul uitvoere vir Afrika bestem was. Kyk mens egter na China se uitvoere na Afrika, dan val die sewevoudige toename tussen 2005 en 2015 op. Die waarde van hierdie uitvoere het 103 triljoen Amerikaanse dollar beloop. Indien Westerse besighede in hierdie uitvoergeleenthede wil deel, sal hulle moet wikkel.

Na verwagting sal meer as die helfte van Afrika se bevolking teen 2030 in hoofsaaklik sewe lande woon, naamlik Nigerië, Ethiopië, die Demokratiese Republiek die Kongo, Egipte, Tanzanië, Kenia en Suid-Afrika. Wat belangriker is, is die feit dat 43% van Afrika se bevolking teen 2030 as middelklas en hoër getakseer sal word. Dit opsigself sal die aard van die vraag na goedere en dienste wesenlik verander.

Indien Afrika nie by die veranderde vraag aanpas nie, kan invoerafhanklikheid die betrokke ekonomieë verander.

TOENAME IN BESTEDING

Verder sal ongeveer die helfte van besteebare inkomste in hoofsaaklik drie lande bestee word, naamlik Nigerië (20%), Egipte (17%) en Suid-Afrika (11%), met uitstekende groeigeleenthede in lande soos Algerië, Angola, Ethiopië en Ghana.

Ghana is een van die lande wêreldwyd wat die sterkSte ekonomiese groei in 2018 behaal het, naamlik 8,3%.

Die groei in besteding sal na verwagting gelei word deur besteding aan voedsel en drank, onderwys en vervoer, behuising en ander meer tipiese verbruikersgoedere.

Ten einde gevolg te kan gee aan die nuwe groei in die vraag, sowel as die veranderde struktuur van die vraag, sal Afrika al afhankliker van buitekontinentale beleggings word.

Die vraag is net wie die inisiatief gaan neem en of Afrika 'n gesamentlik komplementerende beleid gaan daarstel, wat beleggersvertroue waardig sal wees.

Dit is dus baie tydig dat werk gemaak word van beleidsekerheid oor eiendomsreg.

Afrika behoort 'n voorkeurbestemming vir handel met homself te wees, maar gegewe die potensiaal van die vasteland, behoort ontwikkeling verder as net selfvoorsiening te strek.

Afrika behoort vir homself te sorg met genoeg om ook te kan uitvoer.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer