• Tuisblad
  • Sport
  • Kan Helalia ’n wêreldmedalje ná middernag wen?
Kan Helalia u2019n wu00eareldmedalje nu00e1 middernag wen?
Kan Helalia u2019n wu00eareldmedalje nu00e1 middernag wen?

Kan Helalia ’n wêreldmedalje ná middernag wen?

Bedompige hitte en aanpassing by die ongewone wegspringtyd sal 'n faktor wees vir die heel beste langasems in die bedryf.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Tensy iets skeef loop, kan Namibië se Helalia Johannes vanaand beslis onder die aan­spraakmakers wees by die IAAF wêreldkampioenskap se marathon­wedloop vir vroue in Doha, Katar.

Die 39-jarige vegter van die langpad se vlak van mededinging by elite kampioenskappe is bewys toe sy verlede jaar die Statebondspele se titel op 'n warm dag (27 grade) in Gouekus, Australië, verower het.

Boonop is sy in die beste kondisie van haar lewe – sy het immers vanjaar haar persoonlike beste tye (en nasionale rekords) in die drie vernaamste afstande van padwedlope verbeter.

Haar beste tyd in die 10 kilometer was 30 minute 59 sekondes; vir die halfmarathon 1:10:30 en in die marathon 2:22:25 (10 Maart 2019 in Nagoya, Japan).

Die driemalige Olimpiese hardloper van Namibië het reeds in woord en daad gewys dat sy g'n vrees vir die uitdaging van die Keniane, Ethiopiërs of enigiemand anders voel nie.

Vanjaar se IAAF wêreldkampioen­skap marathonwedlope sal onder unieke omstandighede beslis word – met die vroue eerste aan die beurt op die openingsdag van die sport­skouspel.

Om een minuut voor middernag (22:59 Namibiese tyd, regstreeks op SuperSport 13) sal 'n veld van 70 hardlopers onder spreiligte wegspring op 'n roete al langs die waterfront wat Doha-baai met die middestad verbind, met die stad se wolkekrabbers in die agtergrond.

In die nagtelike ure sal die temperatuur na verwagting met skaars vier grade afneem van die voorspelde dagsyfer van 37 grade Celsius (met lugvogtigheid meer as 70%).

Talle elite hardlopers is daaraan gewoon om in warm omstandighede mee te ding, maar niemand het vantevore só 'n wedloop aangepak wat in die vroeë oggendure klaarmaak nie.

Fisiek en geestelik sal dit vir almal 'n nuwe toets wees, want soos die Namibiese afrigter Robert Kaxuxuena uitwys, is die atlete se liggame ingestel om daardie tyd te slaap en sou almal gevolglik aanpassings aan hul oefenpatrone moes maak.

Dit lyk wel veilig om te voorspel – net soos in die mansresies op 5 Oktober – dat die vrouewedloop se wenners uit Afrika of Asië afkomstig sal wees.

Die wentyd sal ook nie naby die bestes van die jaar wees nie – met taktiek, eerder as tye, wat van deurslaggewende belang sal wees.

Die verdedigende kampioen van twee jaar gelede maak haar terugkeer, naamlik Rose Chelimo van Bahrein wie se wentyd in Londen 2:27:11 was.

Chelimo sal weer onder die gunstelinge tel, hoewel twee van haar drie landgenote ook met vinniger persoonlike beste tye as sy kan spog – Desi Mokonin (2:23:39, boonop met 'n 2:23:44 hierdie seisoen), asook Shitaye Eshete wat 2:22:39 as haar beste in 2019 kan wys.

Met hul belewenis van die weersomstandighede in die Midde-Oosterse streek het die hardlopers van Bahrein 'n sterk getuigskrif wat op sukses by die wêreldkampioenskap kan dui.

Tog is dit die twee bekendste groepe – die Keniane en die Ethiopiërs – wat vanjaar weer boaan die wêreldlys in Doha aangekom het.

Kenia se 25-jarige Ruth Chepngetich het vanjaar se Dubai-marathon in 2:17:08 gewen – die derde vinnigste tyd wat nóg aangeteken is afgesien van Paula Radcliffe se wêreldrekord van 2:15:25 en die 2:17:01 waarmee die Keniaan Mary Keitany in 2017 die Londen-marathon beklink het.

Haar spanmaats kan ook bewéég. Visiline Jepkesho spog met tye van 2:21:37 en 2:22.58, terwyl Edna Kiplagat, met 'n beste van 2:19:50, terug is met 'n aanslag om as 39-jarige haar derde wêreldtitel te verower.

Ethiopië word verteenwoordig deur die hardlopers wat vanjaar die derde en vierde beste ter wêreld ná Chepngetich gevaar het – Ruti Aga (2:20:40 vanjaar en 'n beste van 2:18:34) en Roza Dereje (2:20:51 vanjaar en 'n beste van 2:19:17).

Japan en China kan ook nooit buite rekening gelaat word in enige marathonkampioenskap vir vroue nie.

Japan se gekose drietal het almal hierdie seisoen hul persoonlike beste tye verbeter (Madoka Nakano 2:27:39, Ayano Ikemitsu 2:26:07 en Mizuko Tanimoto 2:25:28). China se trio van Ciren Cuomo, Li Dan en Ma Yugui het ook almal hul vinnigste tye gedurende 2019 opgestel.

• Die marathon vir mans is op die aand van 5 Oktober, met Namibië wat deur Tomas Rainhold verteenwoordig sal word. Rainhold, Helalia Johannes en hul afrigter Kaxuxuena is die enigste Namibiërs by die wêreldkampioenskap, met geen kwalifiseerders in die baan- of velditems nie.

– Bygewerk van IAAF.org

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!