Kanadese brande lei dalk tot petrolprys-pyn
Hanlie Stadler
Die olieprys het gister vir die vierde opeenvolgende dag gestyg, onder meer weens die veldbrande wat nou al meer as ’n week in Kanada woed.
Die prys van Brent-ruolie het in Londen tot selfs US$46,48 per vat gestyg. Olie het in April met 21% tot die hoogste vlak nóg vanjaar op US$48,50 per vat gestyg, maar sedertdien effens teruggeval.
Die brande in die provinsie Alberta het na die oliesandvelde noord van Ford McMurray versprei. Byna 90 000 mense is ontruim en die produksie van olie uit skaliesand is daarom met nagenoeg 1 miljoen vate per dag verminder. Dit is nagenoeg 40% van die streek se produksie, raam IHS Energy. Olieprodusente soos Suncor, Phillips 66 en Statoil het force majeure verklaar. Dit is wanneer maatskappye verklaar dat omstandighede buite hul beheer gaan meebring dat hulle nie hul kontrakte sal kan eerbiedig nie, en dit vrywaar hulle van aanspreeklikheid vir kontrakbreuk. Daar is so ver bekend slegs geringe skade aan van die produsente se bedrywighede.
Die wind het intussen weg van die grootste aanlegte gedraai en reën word verwag, wat sal help met die bestryding van die brand. David Lennox, ’n ontleder van Fat Prophets in Sydney, sê die mark se benadering tot die Kanadese brande is “omsigtig”, maar hy is nie oortuig dat pryse lank gaan styg nie weens die opgepotte voorraad. ’n Faktor wat die olieprys dalk verder sal aanhelp, is dat die wêreldwye vraag na verwagting vanjaar met sowat 1,2 miljoen vate per dag sal styg, volgens die Internasionale Energie-Agentskap.
Olie-invoer na China het in April met 3,2% tot 7,96 miljoen vate per dag gestyg vergeleke met Maart, maar is minder as die rekord van 8,04 miljoen vate per dag in Februarie. China voer nagenoeg 30% van sy olie in. China is die wêreld se vyfde grootste olieprodusent.
Daar is egter ook verskeie faktore wat die olieprys steeds laer sal hou.
Saoedi-Arabië, die wêreld se grootste olieprodusent, het sy olieminister die naweek vervang toe die kabinet geskommel is. Die nuwe minister, Khalid Al-Falih, is voorsitter van die Saoedi-Arabiese oliemaatskappy en is ’n bondgenoot van “adjunk-kroonprins” Mohammed bin Salman, wat sê dis belangriker dat die land markaandeel behou as om die prys te probeer opdruk. Salman is gekant teen enige bevriesing van produksie tensy Iran óók produksie bevries. Iran is egter nog besig om produksie te verhoog nadat sanksies vroeër vanjaar teen dié land laat vaar is.
Iran en ook Irak se hoër produksie het die Organisasie vir Petroleumuitvoerlande (Opec) se produksie op meer as 33 miljoen vate per dag te staan gebring.
Die olieprys het vroeër vanjaar die laagste vlak sedert 2003 gehaal omdat daar ’n wêreldwye ooraanbod van olie is. Intussen is produksie in veral die VSA effens verminder, hoewel die land steeds ’n rekordhoeveelheid olie opgeberg het. - Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie