Kanadese oliebaas sê oor hidrobreking

Die grootbaas van ReconAfrica sê dit is ’n “misverstand” dat dié oliemaatskappy hidrobreking in die Okavango-delta gaan toepas.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Die reuseboorinstallasie waarmee die Kanadese oliemaatskappy Reconnaissance Energy Namibia (ReconAfrica) suidoos van Rundu na olie en gas gaan soek, kom vandag op die Yellowstone-vragskip in die Walvisbaaise hawe aan.

Dit gebeur te midde van toenemende druk deur omgewingsorganisasies wat bekommerd is oor enersyds die ontginning van fossielbrandstowwe en tweedens die impak op die plant- en dierelewe in die Okavanga-delta.

Die delta is die grootste Ramsar-gebied (beskermde vleiland) ter wêreld.

In ’n sterk bewoorde pleidooi het biskop Geoff Davies, beskermheer van die Suider-Afrikaanse Geloofsgemeenskappe se Omgewingsinstituut (Safcei), Maandag ’n beroep gedoen op beleggingsmaatskappye en private finansiers om hul geld aan ReconAfrica te onttrek.

“Niemand, geen maatskappy en geen regering, behoort sy geld te belê in ’n maatskappy wat fossielbrandstowwe uit die aarde wil myn nie. Ons weet ons moet dringend die verbranding van fossielbrandstowwe staak. Ons het nie tien jaar nie. Ons moet dié omkeer binne die volgende jaar of twee doen,” het hy in ’n ope brief geskryf.

Davies skryf “dit is ongelooflik” dat die regerings van Namibië en Botswana die planne kon goedkeur. “Dit is dodelik omdat die soektog­ na olie en gas en die boordery in die Kavangorivier die unieke geologiese struktuur van die Okavango-delta en sy wonderlike wildlewe gaan vernietig.

“Die projek gaan van die wêreld se heiligste en aanskoulikste plekke vernietig. Die boordery gaan die dood van die Okavango-delta en die San, sy inheemse inwoners, en hul leefwyse beteken.

“As die projek voortgaan, sal dit gelykstaande aan volksmoord wees,” sê Davies.

‘TALLE MISVERSTANDE’

Intussen het ReconAfrica se stigter en aandeelhouer, mnr. Craig Steinke, Dinsdagaand in ’n onderhoud met Republikein gesê “daar is talle misverstande in die media” oor wat die maatskappy beplan, en een daarvan is hidrobreking.

“Ons gaan nie hidrobreking toepas nie. . . Ons het nie die voorneme nie, ons het nie die toerusting nie en ons het nie die begroting daarvoor nie,” sê Steinke.

Hidroliese breking (fracking) is die proses waardeur natuurlike gas of olie vanuit diep skalierots in die aarde se kors, na die oppervlak gedwing word, sê Safcei in ’n inligtingsblad waarin dié onkonvensionele ontginningsmetode verduidelik word.

Boorgate word tot op ’n vertikale diepte van 5 km geboor. Hierna word die tonnels 2 tot 3 km horisontaal uitgebrei. Miljoene liter water, gemeng met sand en chemikalieë, word onder druk in die boorgate ingepomp.

Die skalierots word oopgebreek en die krake word deur die sand opgevul. Natuurlike gas, wat in die rots vasgevang was, word dan vrygestel.

Steinke verduidelik: “Daar is baie verwarring oor wat ons doen. Ons open ’n nuwe sedimentêre kom waarin daar nog geen putte is nie. Ons moet ’n aktiewe petroleumstelsel bewys, en daarom moet ons deur die hele stelsel, deur die konvensionele formasies, tot in die brongesteente of -rots boor waarin die koolwaterstowwe deur druk en hitte opgewek word.”

Hy sê ReconAfrica gaan “konvensionele metodes” gebruik om die olie en gas te ontgin uit die meer deurlaatbare lae waarin dit bo die brongesteentes vasgevang is.

Steinke sê die enigste rede hoekom die VSA hidrobreking ontwikkel het, is omdat hulle met konvensionele metodes reeds al die olie en gas uit die boonste formasies onttrek het, en nou deur onkonvensionele metodes tot in die bronrots moet boor om dit daar te ontgin.

ReconAfrica het in vroeëre voorleggings aan beleggers gesê het hy gaan “honderde toetsgate” boor en “moderne hidrobreking” toepas.

Op ’n vraag hieroor aan Steinke, het hy gesê om die maatskappy op die aandelebeurs te kon lys, moes beskikbare data ingevolge die beursregulasies ontleed word om die grootte van die bron te kwantifiseer. Die enigste beskikbare data was dié wat Etosha Petroleum in 1964 opgeteken het toe hy tot in die brongesteente geboor het. “Dit is waar die hele hidrobreking-ding ontstaan het. Maar intussen het ons meer data oor die konvensionele bronne.”

Hy sê hidrobreking is in elk geval nie ekonomies lewensvatbaar nie.

“Die koste van dié ontginningsmetode beloop meer as US$50 per vat, terwyl konvensionele ontginning US$35 per vat kos,” sê Steinke.

Volgens hom sal prospektering nie vanjaar al begin nie, maar eers in die eerste kwartaal van 2021. ReconAfrica hoop om in 2022 in produksie te wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!