Kanime se kontrakverlenging onder skoot
Kanime se kontrakverlenging onder skoot

Kanime se kontrakverlenging onder skoot

Sommige stadsraadslede meen dit is onwettig om 'n kontrak te probeer verleng indien 'n werknemer bedank het.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith



Die Popular Democratic Movement (PDM) se raadslid, mnr. Ignatius Semba, het hom tot die hoërhof in Windhoek gewend om, op 'n dringende basis, 'n besluit deur die stadsraad te keer dat die stadspolisiehoof Abraham Kanime se kontrak vir drie jaar verleng word.

Dit ná Kanime in Januarie bedank het.

Kanime het bykans twee dekades lank aan stuur van die Windhoekse stadspolisie gestaan.

Op 27 Februarie het die meerderheid raadslede egter ingestem daar moet met hom onderhandel word om vanaf Mei vanjaar tot 31 April 2023 aan te bly.

Die hoërhof sal vandag die saak aanhoor om te beslis oor die ­dringendheid daarvan.

Semba het die aansoek Vrydag by die hof ingedien.

Semba en ander sê Kanime se kontrak kan slegs verleng word as hy afgetree het, maar dat dit onwettig is wanneer iemand bedank het.

Semba skryf in hofdokumente “tot sy verstomming” is 'n konsepkontrak vir indiensneming reeds voorberei en deur mnr. Moses Shikwa onderteken. Shikwa is die voorsitter van die stadsraad se bestuurskomitee.

Semba meen die kontrak is gereed om 'n “stempel van goedkeuring” op die stadsraadvergadering wat môre gehou word, te ontvang.



BURGEMEESTER REAGEER

Die burgemeester van Windhoek, me. Fransina Kahungu, het egter in hofdokumente wat die afgelope naweek ingedien is, aangevoer dat sy nie bewus is van 'n vergadering wat vir hierdie week beplan word nie.

Sy het verder ontken dat die verlenging van die kontrak onwettig is.

“Die applikant verstaan, op die een of ander manier, dat die regulasies voorskryf as jy bedank, jy nie heraangestel kan word nie en kan daar nie oor 'n nuwe kontrak met jou onderhandel word nie. Dit is onredelik.”

Kahungu sê daar is baie redes om 'n werknemer, wat bedank het, te behou en dat daar “praktiese redes is waarom die stadsraad so 'n besluit geneem het.”

Sy sê verder dat Kanime se bedanking eers vanaf einde April van krag sal wees en die stadsraad besluit het om voor dié datum tussenbeide te tree.

Sy sê dat Semba se aansoek ter elfder uur ingedien is, ten spyte daarvan dat hy teen einde Februarie geweet het van die onderhandelinge om Kanime se kontrak te verleng.



STORM

Kanime het eers in Mei verlede jaar na sy pos teruggekeer. Dit nadat hy in Maart 2018, op aantuigings van wangedrag, met sy volle salaris geskors is.

'n Afskrif van die kontrak wat saam met Semba se hofdokumente ingedien is, wys Kanime se nuwe kontrak sluit 'n basiese maandelikse salaris van N$115 685, plus N$25 103,65 per maand vir 'n voorsorgfonds in.

Die kontrak maak ook voorsiening vir 'n 13de tjek gelykstaande aan een maand se salaris asook 'n jaarlikse voertuigtoelaag van N$302 268. 'n Behuisingstoelaag, gebaseer op 35% van sy maandelikse salaris, is ook by die kontrak ingesluit.

Ná Kanime se bedanking in Februa­rie is betrokke owerhede hiervan in kennis gestel en versoek om die name van moontlike kandidate in te dien wat Kanime se pos kan vul.

Een van dié name was komm. Elias Mutota, hoof van Nampol se spesiale tak, skryf Semba.

“Ondanks dat die wiele aan die rol gesit is om 'n nuwe polisiehoof aan te stel, het die stadsraad besluit om eerder met Kanime te onderhandel om langer aan te bly.

“Die nuus is teensinnig uit talle oorde ontvang.”

In Maart het die Namibia United Democratic Organisation (Nudo) se prokureur gedreig om hof toe te gaan met die saak en beklemtoon dat so 'n verlenging onwettig en ongeldig sal wees aangesien dit teen die regulasies van die Windhoekse munisipale polisiedienste sal wees.

Nudo het bygevoeg dat “'n kontrak vir indiensneming, wat deur 'n bedanking beëindig is, nie op enige manier verleng kan word nie”.

Semba sê ten spyte daarvan dat hy beswaar oor die wettigheid hiervan tydens Februarie se stadsraad­vergadering aangeteken het, is daar slegs “kennis van geneem” en is die besluit deur die meerderheid lede aanvaar.

Laura Pack van Pack Law Chamber tree namens Semba op, terwyl die stadsraad die dienste van Frans Kwala van Kwala & Co. Inc. bekom het.– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer