Kanker: ‘Breek stigma af’

Volgens Namibië se kankervereniging red ingryping en voorkoming lewens.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Jy is die held van die storie.

Wie jy ook al is, jy het die vermoë om die impak van kanker op jouself, die mense wat jy liefhet en die wêreld te verander.

Hierdie ingesteldheid is deel van ’n veldtog vir Wêreldkankerdag vanjaar, wat vandag gevier word.

Jaarliks word tussen 3 500 en 3 700 nuwe kankerdiagnoses in Namibië gemaak.

Vanjaar, onder die vaandel van #IAmNamibia en #IWillFightCancer, rus die onus op elke Namibiër om sy deel te doen om die impak en stigma van die siekte te verminder en te vernietig.

“Dis om met een stem op te staan en te praat,” sê die Kankervereniging van Namibië (CAN) se uitvoerende hoof, mnr. Rolf Hansen.

“Dit fokus nie net op die pasiënt se reis nie, maar ook op sy of haar familie, die mense om ons. Ons moet opstaan en die stigma breek – veral in Afrika, waar ons met verskillende tale en kulture spog. Ons is almal een stem,” het Hansen benadruk.

Wêreldkankerdag is ‘n inisiatief van die Unie vir Internasionale Kankerbeheer, die grootste en oudste internasionale kankerorganisasie, wat daartoe verbind is om die wêreld te verenig om die wêreldwye las van die siekte te verminder, groter gelykheid bevorder en kankerbeheer in ontwikkelings- en gesondheidsagendas oraloor die wêreld te integreer.

Jaarliks sterf 9,6 miljoen mense aan die siekte – die tweede dodelikste siekte ter wêreld.

Tog kan ‘n derde van kankers voorkom word.

Volgens ‘n onlangse Britse studie is die oorlewingsmoontlikheid vir agt kankers, wat insluit blaas-, derm-, bors-, servikale, baarmoeder-, kwaadaardige melanoom, eierstok- en testikulêre kanker, drie keer hoër as ander soorte kanker as dit vroeg gediagnoseer word.

Die totale jaarlikse ekonomiese koste van kanker word op US$1,16 triljoen beraam.

Deur US$11 miljard in voorkomingstrategieë in lae- en middelinkomste lande te belê, kan ’n koste van US$100 miljard op kankerbehandeling gespaar word.

Toenemende bewustheid en die regte inligting kan elkeen bemagtig om vroeë waarskuwingstekens te herken, ingeligte besluite te neem en vrese en wanopvattings oor kanker uit die weg te ruim.

Nie alle kankers toon vroeë simptome nie, maar in sommige is vroeë waarskuwingstekens wel teenwoordig.

Dit sluit bors-, servikale, kolon-, vel-, orale en sommige kinderkankers in.

Deur vroeë waarskuwingstekens te herken, is daar ‘n groter kans op oorlewing en lewensgehalte.

In die lig van vanjaar se tema vir Wêreldkankerdag kan mense hulself en die mense vir wie hulle lief is, bemagtig deur oor kennis van waarskuwingstekens en simptome te beskik.

“Ingryping en voorkoming red lewens, en dít is ons as CAN se hoofdoel vir 2019,” het Hansen gesê.

Die publiek kan vandag nog vars vrugte aan kankerpasiënte by CAN se hoofkantoor in John Meinertstraat 90 in Windhoek-Wes skenk.

Deel van vandag se plaaslike vieringe vir Wêreldkankerdag is ‘n ook ‘n Lavender Walk wat om 08:30 by CAN begin, en van daaraf na die Dr. AB May-kankersorgsentrum by die Sentrale Hospitaal beweeg.

Vrugte wat geskenk en ingesamel is, sal dan aan pasiënte by die sentrum uitgedeel word.

Vir meer inligting, kontak CAN by (061) 237-740, [email protected] of www.can.org.na

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!