Kanker grootste oorsaak van kindersterftes
Kanker grootste oorsaak van kindersterftes

Kanker grootste oorsaak van kindersterftes

‘n Nuwe projek wil die oorlewingskoers van kinders met kanker tot ten minste 60% verhoog.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Kanker is die grootste oorsaak van sterftes onder kinders en tieners ter wêreld.

‘n Beraamde 300 000 kinders tussen die ouderdomme van 0 en 19 jaar word jaarliks met dié siekte gediagnoseer.

Die algemeenste kinderkankers is leukemie, breinkanker en limfome in.

In hoëinkomstelande word meer as 80% van kinders met kanker genees, maar in verskeie lae- en middelinkomste lande is dié syfer ‘n skrale 20%.

In die lig hiervan het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) ‘n nuwe projek van stapel gestuur met die doel om teen 2030 die oorlewingskoers vir kinders met kanker tot ten minste 60% te verhoog.

Dit sal ‘n bykomende een miljoen kinders se lewens red.

Volgens die WHO is die doel van dié projek tweeledig. Dit sluit in om bewusmaking van kinderkankers op wêreld- sowel as nasionale vlak te verhoog.

Voorts wil dit lande se vermoë verbeter om jong kankerlyers die beste sorg en ondersteuning te bied.

In die praktyk beteken dit die WHO sal regerings ondersteun om hul huidige vermoëns met betrekking tot die diagnose en behandeling van kanker te evalueer.

Dit sluit die beskikbaarheid van medisyne en tegnologie in.

Die WHO sê voorts in ‘n verklaring jong kankerlyers in lae- en middelinkomstelande is vier keer meer geneig om aan dié siekte te sterf as dié in hoëinkomstelande.

Dit is omdat hul siekte nie gediagnoseer word nie, hulle dikwels gedwing word om behandeling te laat vaar weens die hoë koste daaraan verbonde, en omdat gesondheidslui wat die kinders behandel, nie spesiaal opgelei is nie.

Die WHO Wêreldinisiatief vir Kinderkankers betrek verskeie rolspelers waaronder die St. Jude Kindernavorsingshospitaal in Amerika.

“Te veel kinders se lewens word deur kanker kortgeknip en die oorlewingskoers in arm lande is skandelig laer as dié in ryk lande,” sê dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, die WHO se direkteur-generaal.

“Ons hoop ons vennootskap met St. Jude is ‘n stap om hierdie ongeregtigheid te takel,” het hy gesê.

Volgens die verklaring is dit belangrik om die oorlewingskoers vir kinders met kanker te verhoog deur vroeë en behoorlike diagnose, gevolg deur doeltreffende behandeling.

Die meeste kinderkankers kan met generiese medisyne en ander vorme van behandeling, insluitend chirurgie en radioterapie, genees word.

In laeinkomstelande word die laer oorlewingskoers toegeskryf aan ‘n onvermoë om ‘n presiese diagnose te bekom, ontoeganklike terapie, die staking van behandeling en newe-effekte wat deels toegeskryf kan word aan ‘n gebrek aan toegang tot noodsaaklike medisyne en tegnologie.

Volgens die WHO het die meerderheid kinderkankers nie ‘n bekende oorsaak nie. Baie navorsing het gepoog om die oorsake van kinderkanker te identifiseer, maar baie min kinderkankers word deur omgewings- of leefstylfaktore veroorsaak.

In die lig hiervan behoort voorkomingsmaatreëls volgens die WHO te fokus op gedrag wat kan verhoed dat die kind ’n voorkombare kanker as volwassene ontwikkel.

Volgens die verklaring is sommige chroniese infeksies risikofaktore vir kinderkanker, veral in lae- en middelinkomstelande.

Voorbeelde hiervan is MIV, die Epstein-Barr-virus sowel as malaria, wat die risiko van sommige kankers by kinders kan verhoog.

Ander infeksies kan ook die kind se risiko verhoog om kanker as volwassene te ontwikkel. In die lig hiervan is dit volgens die WHO belangrik dat kinders geïmmuniseer moet word.

Huidige data toon sowat 10% van alle kinders het as gevolg van oorerflikheidsfaktore ‘n geneigdheid om kanker te ontwikkel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!