Kankergevalle in Namibiu00eb bly toeneem
Kankergevalle in Namibiu00eb bly toeneem

Kankergevalle in Namibië bly toeneem

Dringende ingrypings is nodig om 'n gesonder toekoms vir Namibiërs te verseker.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Gemiddeld van 3 560 gevalle van kanker is jaarliks in die tydperk 2015 tot 2017 in Namibië aangemeld.

Tussen 2010 en 2017 is 'n totaal van 21 880 kankergevalle in die land aangeteken – 10 150 mans en 11 730 vroue.

Volgens die direkteur van die nasio­nale kankerregister en uitvoerende hoof van die Namibiese Kankervereniging (CAN), mnr. Rolf Hansen, kan die lae aanmeldkoerse in die tydperk 2010 tot 2014 toegeskryf word aan ­uitdagings wat in die insamel en invoer van data ervaar is.

Die statistiek is vervat in 'n tussentydse verslag oor kanker in Namibië en dek die tydperk 2010 tot 2017, soos opgedateer in September vanjaar.

Volgens Hansen wys die ­vergelykings duidelik dat kanker in die land ­konstant aan die toeneem is en dat dringende ingrypings nodig is om 'n gesonder toekoms vir inwoners te verseker.

In 2015 is 'n daadwerklike omkeerstrategie deur die nuwe bestuur by CAN ingestel om data sedert 2014 en later te herwin en te verwerk.

Hansen sê sterker vennootskappe en samewerking tussen rol­spelers in ­onkologie het intussen data van ­voortdurend beter gehalte vir Namibië verseker.

Volgens die verslag was prostaatkanker die mees algemene kankertipe wat by mans in die land in die tydperk (2010-2017) gediagnoseer is en wel 2 125 gevalle, gevolg deur mond- en farinkskanker met 597 gevalle.

In vroue was borskanker boaan die lys met 3 072 gevalle, gevolg deur ­servikskanker met 1 957 gevalle.

Met verwysing na gevalle wat op die basis van inligting van net 'n dood­sertifikaat geregistreer is, het Hansen beklemtoon beter kommunikasie en ondersteuning is nodig tussen die ministerie van binnelandse sake (sterfteregister), die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en die Namibiese kankerregister.

Volgens Hansen het hy die tussentydse verslag verlede week aan die minister van gesondheid, dr. Kalumbi Shangula, oorhandig.

Hansen het gemaan kanker en alle ander nie-oordraagbare siektes (NCD's) bly 'n “gesondheidsbedreiging van ernstige kommer” en verdien daadwerklike aandag.

“Bewusmaking, onderrig en die ­ontwikkeling van primêre ­gesondheid is sleutelelemente wat ons ­nasionale gesondheidsorgdienste kan ­verbeter,” het hy gesê.

Laasgenoemde sluit dienste soos vroeë opsporing en die behandeling van die meeste NCD's in wat volgens Hansen “lewens én ­begrotings” red.

“Billike gesondheidsorg vir alle ­Namibiërs moet ons doelwit bly. Met data van gehalte kan ons hierdie doelwit bereik deur proaktief te beplan.”

CAN is tans besig met die ­kodering en invoer van data van 2018 se pasiënte­rekords en wag op finale inlig­ting vanaf die versamelpunte vir verlede jaar se kankergevalle.

Hansen het die insameling en opdatering van die data as “­uitdagend” beskryf omdat die nasionale ­register ten volle deur CAN en sy geld­insamelings gefinansier en bestuur word.

'n Omvattende vyfjaarverslag wat die tydperk 2015 tot 2019 dek, word aanstaande jaar vrygestel omdat die driejaarverslag wat vanjaar moes verskyn weens die Covid-19-pandemie bemoeilik is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!