Kankervereniging ook besorg oor uraanprojek naby Leonardville
Kommer heers dat die mynbouproses onveilige hoeveelhede uraan in die Stampriet-akwifer sal laat beland.
Ronelle Rademeyer
Die Kankervereniging van Namibië (CAN) het reeds Headspring Investments se voorneme om uraan by Leonardville te ontgin, onder die aandag van sy internasionale vennote gebring ten einde druk uit te oefen op die regering om dit nie toe te laat nie.
Kommer heers dat die mynbouproses wat gevolg gaan word, onveilige hoeveelhede uraan in die Stampriet-akwifer sal laat beland.
Headspring Investments, 'n filiaal van die Russiese staatskernkragkorporasie, Rosatom, het tien jaar gelede 'n eksklusiewe eksplorasielisensie (EPL) bekom en wil nou met die loodsfase van produksie begin.
Die Namibiese geoloog, dr. Roy Miller, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) bepaal 0,03 gram uraan per ton drinkwater (1 000 liter) is veilig. Die moontlikheid bestaan dat die ontginning by Leonardville tot soveel as 1 667 keer méér uraan in die akwifer sal laat beland.
Dit sal oor tyd tot ernstige gesondheidsprobleme lei by die mense wat van dié akwifer vir hul drinkwater afhanklik is. Dit sal siektes soos kanker laat toeneem, het Miller gewaarsku.
Dié akwifer strek tot in Botswana en Suid-Afrika en is die lewensaar van mens en dier in die Kalahari.
“Juis omdat kanker aan die toeneem is in ons land, moet nou meer as ooit daadwerklik opgetree en omgewings- en leefstylfaktore gemonitor en beheer word om lewens te probeer red,” sê mnr. Rolf Hansen, uitvoerende hoof van CAN.
“Dié artetiese waterbron is 'n lewensaar vir die landbousektor, en veral in 'n dorre land soos Namibië is water baie meer kosbaar as die myn van uraan – veral as dit die omgewing sou besoedel en die lewens van ons bevolking in gevaar stel,” sê hy.
“As vereniging is ons die stem van die Namibiese volk wat gesondheid en kanker betref,” sê hy en voeg by “derduisende Namibiese dollar” word jaarliks aan gesondheidsuitreike en -toetse bestee.
“Ons rig 'n ernstige beroep tot die Namibiese regering om 'n ingeligte besluit oor die situasie te neem,” sê Hansen in sy verklaring.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie