Kaokoland ’n ’fossiele yslandskap’
Die noordweste kan antwoorde bied oor die aarde se laaste ystydperk, nog voor dinosourusse bestaan het en die vastelande nog ‘n enkele, groot vasteland gevorm het.
Elvira Hattingh
Die berg-en-vallei formasies in die Kaokoland laat wetenskaplikes kopkrap omdat dit uiters oud is en oor 300 miljoen jaar uitsonderlik goed behoue gebly het – wat ongewoon vir dié tipe landskappe is.
Boonop kan die oeroue valleie dalk talle antwoorde bied oor die aarde se voorlaaste ystydperk.
Op die een of ander manier is die antieke valleie goed bewaar en het dit geologiese prosesse soos onder meer erosie vrygespring, wat gewoonlik die tipe terrein maklik platvee. Inteendeel – die gebied in Namibië het só goed behoue gebly dat wetenskaplikes dit ‘n “fossiele yslandskap” noem.
Volgens ‘n studie wat einde Augustus in die wetenskapsjoernaal Geology publiseer is, is die noordweste van Namibië nie ‘n tipiese woestynlandskap nie en baie, baie oud.
Nuwe navorsing wys die valleie in Namibië se noordweste is oorblyfsels van ‘n tyd lank voor dinosourusse hul verskyning op die aarde gemaak het. Dit kom uit ‘n tyd toe Afrika naby aan die Suidpool geleë was en steeds deel van die superkontinent Gondwana gevorm het.
Dit was toe nog met ys bedek. Die vloeibeweging van die ys het in die aarde ingesny en mettertyd lank, smal valleie geskep wat deur seewater opgevul is en fjords gevorm het – ‘n lang, smal uitgang na die see tussen hoë berge, soos in byvoorbeeld Noorweë en Ysland gevind kan word.
OEROUD
Die Duitse geoloog Henno Martin het reeds in die 1950’s voorsien dat Kaokoland se valleie deur ysgletsers gevorm is, maar toe was dit nog nie bekend hóé oud die formasies is nie.
“Enigeen wat na hierdie valleie kyk, sien hoe die fjords sowat 300 miljoen jaar gelede gelyk het, behalwe dat die ys lankal reeds verdwyn het,” het Pierre Dietrich van die Universiteit van Rennes en hoofskrywer van die studie geskryf.
Die fjords is sowat 300 miljoen jaar gelede uitgekerf, in die láát Paleozoïese ystydperk, toe die aarde se klimaat koel was en Gondwana meestal met ys bedek was. Vandag bestaan analoë steeds in Noorweë en Groenland se fjords wat deur ys uitgekerf is.
“Formasies soos fjords wat op grootskaal gevorm is, word meestal maklik oor ‘geologiese tydperke’ uitgewis, wat in Namibië nie die geval was nie,” het Dietrich gesê. “’n Mens kan daarom vra: Wat sal in die toekoms van die fjords in Noorweë en Groenland word?”
TEKENS
Kaokoland se u-vormige valleie wat etlike honderde meter diep is, kerf deur groot, dorre plato’s. Riviertjies vloei soms kortstondig daarin. Die harde vloer en mure van die valleie dra egter talle tekens van erosie deur ysgletsers. Dit sluit in geëtste skrape, groewe en gladde, lang heuwels wat walvisrûe genoem word.
Die geologiese kenmerke word meestal in Kanada of Skandinawië aangetref, wat nog onlangs in die afgelope 20 000 jaar, deur groot lae ys bedek was.
“Die ontdekking hiervan in Namibië, wat nie onlangs ysgletsers gehad het nie, is baie opwindend en bied nuwe uitdagings,” het die navorsers in ‘n mediaverklaring geskryf.
“Dit is die kennis van moderne fjordstelsels wat ons in staat gestel het om Namibië se paleofjords (u-vormige fjords) te identifiseer,” het Dietrich gesê.
SEDIMENT
Die valleie is aanvanklike deur dik lae ys gevorm, wat later verdwyn het. Die navorsers het ook bewyse van morene gevind – versamelings van klippe en gruis wat deur ys beweeg en teen die valleiwalle vasgedruk is.
Soos die ys minder geraak het, het seewater die fjords binnegevloei en sediment ingespoel. Namibië se fjords is dus geleidelik met meer en meer sediment opgevul, wat waarskynlik ‘n belangrike rol gespeel het om dit te bewaar.
Die fjords is vir 130 jaar lank met sediment opgevul. Erosie het later die sediment begin wegkalwe en die rotsformasies van die oorspronklike fjords ontbloot.
“Vandag sien ons steeds die oorspronklike vorm van die fjords – soos hulle gelyk het toe dit nog met ys opgevul was,” het Dietrich gesê.
“Die formasies lyk so vars en onaangeraak in Namibië dat ons aanvanklik gedink het ons het die nalatenskap van meer onlangse gletsers ontdek,” het hy gesê.
Sediment verduidelik deels hoe die fjords so goed behoue kon bly, maar navorsers wil nog steeds weet hoe die landskap erosie tot so ‘n uiterste mate kon vryspring.
Die wetenskaplikes sê die goedbewaarde fjords bied hulle nou die geleentheid om klimaatsverandering te bestudeer wat die planeet tydens die voorlaaste ystydperk ervaar het, toe seediere vir die eerste keer na droë grond begin beweeg het. Bronne: www.geosociety.org, https://earthobservatory.nasa.gov - [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie