Kapana-sindikaat in Omaheke oopgevlek
Woedende kommunale boere in die Ooste moes glo op eie speurvernuf steun om ’n goed georganiseerde veediefstalsindikaat aan die kaak te stel.
Ronelle Rademeyer
’n Hoëvlak-vergadering is gister by Pos 3 by Epukiro tussen die gemeenskap, polisie en die streeksowerheid gehou oor bewerings dat die polisie in dié gebied met veediewe saamwerk.
Die nasionale polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het die vergadering saam met hoë offisiere soos die streeksbevelvoerder, komm. Andreas Haingura, die Omahekestreekgoewerneur, mnr. Pijoo Nganate, en raadslede van verskeie kiesafdelings in die streek bygewoon.
Dit volg nadat die meesterbrein van ’n sindikaat wie se slagteiken na bewering minstens 20 beeste per week was, hom aan die polisie oorgegee het uit vrees vir wat die gemeenskap aan hom sou doen.
Mnr. Sandie Tjaronda, woordvoerder van die groep Besorgde Boere teen Georganiseerde Veediefstal, het bevestig mnr. Sylvanus Katjiutua, alias Karukukutu, het homself op 23 April aan die polisie oorgegee. Dit was nadat die net al nouer om hom gespan het en hy gevrees het die gemeenskap sal reg in eie hande neem, sê Tjaronda.
Hy sê 13 ander mans is ook as vermeende sindikaatlede agter tralies. Katjiutua het glo nege veediefstalsake teen hom hangend en was uit op borgtog. Verskeie ander boere het intussen klagte van veediefstal teen hom ingedien.
Een van hulle is mnr. Gunner Riedel. Hy sê die sindikaat het 24 beeste by hom gesteel.
Volgens Tjaronda het die sindikaat die beeste wat hulle gesteel het, tussen verskillende kiesafdelings in die Omahekestreek rondverskuif. “Ons misdaadintelligensie wys hul teiken was om minstens 20 beeste per week vir kapanaverkopers en slaghuise in Windhoek en op ander dorpe te slag. Dit is 960 beeste per jaar. Ons is in besit van die name van die slaghuise aan wie hulle wou verskaf.”
Volgens hom is boere se veebrandmerke verwyder en die beeste wat op kommersiële plase gesteel is, se oorplaatjies is verander.
Hy sê ’n totaal van 58 gesteelde beeste is die afgelope twee weke deur die gemeenskap teruggevind, saam met skape, donkies, huishoudelike items en selfs hoenders. Beslag is ook gelê op vyf voertuie wat na bewering deur die sindikaat gebruik is.
“Omdat ons nie samewerking van die polisie gekry het nie, het die gemeenskap sedert Februarie aktief gewerk om hierdie mense te ontbloot en hul bedrywighede stop te sit,” het Tjaronda gister vertel.
In ’n brief wat die besorgde groep boere einde April aan Ndeitunga gestuur het, word beweer beamptes in hierdie kiesafdelings is kop in een mus met die vermeende veediewe.
Hulle eis in die brief “elke polisiebeampte by die Epukiro-polisiekantoor” verplaas word en dat ’n forensiese oudit gedoen moet word na die aangemelde sake wat nog tot geen vervolging gelei het nie.
Ndeitunga het laat gister met sy terugkoms in Windhoek aan Republikein gesê die vergadering was ’n sukses en die gemeenskap “het goeie werk gedoen”.
Hy het egter gewaarsku dat hulle nie reg in eie hande mag neem nie.
Oor die beskuldigings teen die polisiebeamptes het hy gesê solank as wat dit net bewerings is, kan hy die betrokke beamptes net waarsku om hulle nie aan korrupsie skuldig te maak nie. “Sodra daar konkrete bewyse is, kan teen hulle opgetree word.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie