'Kapana' wen weer in buiteland

Die DC Black Film Festival-toekenning het internasionale erkenning aan Namibiese regisseurs en akteurs gegee.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg – Die plaaslike rolprent Kapana is onlangs as die beste rolprent by die DC Black Film Festival (DCBFF) aangewys wat vroeër vandeesmaand in Amerika aangebied is.

Hierdie eg Namibiese film vertel die liefdesverhaal van George (vertolk deur Adriano Visagie) en Simeon (vertolk deur Simon Hanga) en het ten doel om 'n stem aan die LGBTQI+-gemeenskap te gee.

Die DCBFF is daartoe verbind om gehalte-rolprente, webreekse en televisie-inhoud ten toon te stel wat deur en/of oor mense van Afrika-afkoms vervaardig word.

Die fees ondersteun ook opkomende kunstenaars wat poog om diversiteit in die vermaakbedryf te bevorder. Die DCBFF wil 'n integrale rol speel in die ontdekking, viering en ondersteuning van films en regisseurs deur bewustheid in die bedryf, media en die publiek te bevorder.

Die fees het vanjaar van 18 tot 22 Augustus aanlyn plaasgevind.

Kapana is deur Philippe Talavera vervaardig, en hy het ook die regie behartig. Hierdie film, wat deur die Ombetja Yehinga Organisation (OYO) vervaardig is, het behoorlik opslae in teater- en rolprentkringe oraloor die wêreld gemaak.

Adriano Visagie, wat as die beste akteur in Suider-Afrika aangewys is tydens die 2019 Sotigui-toekennings, en Simon Hanga het die draaiboek geskryf.

Die rolprent spog ook met 'n sterk rolverdeling, insluitend Mikiros Garoes (beste nuweling by die Namibiese teater- en filmtoekennings in 2019), Dawie Engelbrecht (beste akteur by die Namibiese teater- en filmtoekennings in 2014), die veteraanaktrises Felicity Philander en Elize de Wee, Foreversun Haiduwah, Albertina Hainane en die nuweling Chanwrill Vries.

“Al is dit nie die eerste groot toekenning wat Kapana ontvang het nie, is dit 'n ongelooflik belangrike een, omdat dit internasionale feeste is wat op die LGBTQI+-gemeenskap fokus.

“Ons het reeds so goed gevaar onder die LGBTQI+-gemeenskap, en om 'n toekenning te ontvang by 'n fees wat die sogenaamde tradisionele films erken, is ongelooflik,” sê Talavera.

“Die toekenning ondersteun my gevoel dat nie net swart lewens saakmaak nie, maar ook swart liefde en veral gay swart liefde. Dit wys vir die plaaslike LGBTQI+-gemeenskap dat hul stories gehoor word. Hopelik sal dit die dringende behoefte om selfdegeslag-verhoudings te dekriminaliseer aanroer.

“Die wêreld hou ons dop, so Namibië moet begin regkom en doen wat reg is,” het hy gesê.

Mnr. Kevin Sampson, die direkteur van die DCBFF, was beïndruk met die interaksie tussen die akteurs. “Dit was so geloofwaardig en eg, so amper asof die akteurs mekaar al lank ken.”

By OYO probeer hulle stories vertel wat niemand anders wil vertel nie.

“Die meeste LGBTQI+-mense in Namibië hou hul seksualiteit 'n geheim. Uit vrees vir wat die gemeenskap sal sê, vertel hulle nie hul stories nie. Toe ons die navorsing gedoen het, het ons baie hartverskeurende verhale gehoor, maar verteenwoordiging in die bedryf is belangrik,” het Talavera gesê.

“Ons wou hê gay mense moet weet dat hulle ook kan liefhê. Ons hoop sommige jongmense in verskillende dele van die land wat worstel met hul seksualiteit, weet dat hulle nie alleen is nie en dat hulle verdien om lief te hê en liefgehê te word,” sê hy.

Talavera sê finansiering is 'n groot uitdaging in die bedryf, met min tot geen finansiële ondersteuning, wat beteken die film- en regiespanne kan nie die feeste bywoon om toekennings te ontvang nie.

Visagie sê as akteur wil hy ook eendag toneelspel sy voltydse werk noem, maar kan dit nog nie doen nie, juis vanweë die tekort aan finansiële sekuriteit in die bedryf.

“Ons het die hele land se ondersteuning nodig. Kapana het die potensiaal om soveel grense te verskuif en persepsies uit te daag, maar sonder die nodige finansiële ondersteuning, sal die bedryf altyd daaronder ly.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!