Kapitaal vir kontant
Kapitaal vir kontant

Kapitaal vir kontant

Die jongste halfjaar-begrotingshersiening het nie veel lig op beplande belastinghervormings gewerp nie en het hoofsaaklik uit die rondskuif van geld tussen poste bestaan.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Kapitaal vir veral onderwys, gesondheid en vervoer moes gister opnuut die regering se geldsake red toe die ontwikkelingsbegroting met bykans N$1 miljard gesny en dit na die bedryfsbegroting geskuif is.

Deel van die amper N$999,6 miljoen waarmee die ontwikkelingsbegroting in die halfjaar-begrotingshersiening verminder is, moet vir kontant vir die verkiesing en die nasionale uitsaaier sorg.

Die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) kry bykans N$62 miljoen meer en het nou sowat N$350,2 miljoen vir die komende verkiesing.

Die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie se begroting vir subsidies vir ondernemings in staatsbesit (SOE’s) styg met amper N$54 miljoen of 32%. Waar SOE-subsidies in die hoofbegroting in Maart N$170 miljoen gekry het, het dit nou amper N$224 miljoen.

Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, het gisteraand aan Republikein bevestig dié geld is vir die tegnies insolvente NBC.

Dit is die tweede opeenvolgende keer dat Schlettwein die mes tydens die halfjaar-begrotingshersiening in die ontwikkelingsbegroting inlê om lopende uitgawes te kan dek. Verlede Oktober moes hy die ontwikkelingsbegroting met meer as N$1,7 miljard krimp om bedryfsgate toe te stop.

Teenstrydig

Die navorsingshoof by PSG Namibia, me. Eloise du Plessis, sê gistermiddag se begrotingsrede in die parlement was vir haar “‘n oefening in kognitiewe dissonansie”.

“Spanning omdat ek twee dinge terselfdertyd moet glo wat geensins met mekaar versoenbaar is nie,” het sy aan Republikein gesê.

“Eerstens is genoem die ekonomiese herstelpakket behels dat toekennings aan die ontwikkelingsbegroting beskerm moet word. Dan later hoor ons dat amper N$1 miljard van die ontwikkelingsbegroting weer vir bedryfsdoeleindes weggeneem word,” sê Du Plessis.

Sy wys daarop dat net 37% van die ontwikkelingsbegroting in die eerste halfjaar van die 2019-’20-begroting geïmplementeer is, maar 52% van die bedryfsbegroting is reeds daarmee heen.

“So ons vat weer eens geld weg van die dinge wat toekomstige groei moet bring en bestee dit op uitgawes,” sê sy.

Onderwys, gesondheid

Schlettwein het gistermiddag tydens die indiening van die jongste halfjaar-begrotingshersiening gesê deel van die verhoogde bedryfsuitgawes is sowat N$184 miljoen meer vir die ministerie van onderwys, kuns en kultuur vir nuwe onderwysers, handboeke en die voedingsprogram vir skole.

Begrotingsdokumente toon die ontwikkelingsbegroting van onderwys is met N$122 miljoen gesny. Bykans 19% minder is dus in 2019-’20 vir onder meer die bou van skole en koshuise beskikbaar.

Anders as in verlede jaar se dokumente vir die halfjaar-begrotingshersiening is daar vanjaar nie ‘n lys met ontwikkelingsprojekte wat met minder of geen geld moet klaarkom nie.

Gesondheid en maatskaplike dienste se bedryfsbegroting styg met bykans N$211 miljoen tot amper N$N$6,7 miljard. Dié bykomende geld is vir medisyne, kliniese verskaffers en die aanstel van gesondheidsorgwerkers.

Dié ministerie se ontwikkelingsbegroting is egter met sowat N$206,2 miljoen tot bykans N$198,2 miljoen gesny.

Gee hier, vat daar

Sowat N$88 miljoen méér is vir armoedeverligting deur maatskaplike toelae bewillig. Die begroting vir wees- en weerlose kinders is met dieselfde bedrag verhoog.

Die ministerie van landbou, water en bosbou kry in totaal bykans N$164 miljoen meer. Hiervan is amper N$96,7 miljoen vir personeeluitgawes, verbruiksgoedere en droëland-verbouing. Ongeveer N$67,3 miljoen is vir droogteverligting.

Terselfdertyd is landbou se ontwikkelingsbegroting egter sowat N$36 miljoen kleiner.

Veiligheid en sekuriteit se ontwikkelingsbegroting, wat die bou van polisiestasies insluit, is met ongeveer N$61 miljoen gesny. Werke se ontwikkelingsbegroting is met amper N$347,6 miljoen geslag.

Goeie nuus

Danksy die rondskuif van geld bly die regering totale bedryfs- en ontwikkelingsbegroting vir 2019-’20 onveranderd op bykans N$60,2 miljard, rente op skuld uitgesluit.

Die beraamde begrotingstekort bly op bykans N$8,2 miljard, terwyl die projeksie vir totale skuld steeds 48,9% van die bruto binnelandse produk (BBP) is.

Volgens Schlettwein het die vries van vakante poste en die bestuur van die salarisrol tot besparings van staatsamptenare se vergoedingspakkette gelei.

Die moontlikheid van ‘n laer belastingkoers vir klein besighede sal ondersoek word, het hy gesê.

Navorsing oor die impak van verskeie belastinghervormings op mynbou moet binne ‘n jaar afgehandel wees, het Schlettwein gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer