Kaptein Diergaardt se huis brand af

Tanja Bause
Tanja Bause - Basterkaptein Hans Diergaardt se huis op Rehoboth het Dinsdag net na 17:00 afgebrand.

Die huis, wat die afgelope drie en 'n half tot vier jaar leeg staan, het in die laaste paar jare onder vandale deurgeloop.

Volgens mnr. Percy Kotzee van Rehoboth het mense die huis verniel en dwelms daar misbruik.

“Ons het dit die huis van gruwels genoem,” het Kotzee gesê.

Volgens nog ’n inwoner van Rehoboth was dit die ampswoning van die kaptein en ’n monument van die Bastergemeenskap. Die huis is glo vir jare deur private mense gehuur, maar staan die laaste paar jare leeg.

“Die kinders het in die huis gaan mors en dit begin afbreek. Hulle het die ruite stukkend geslaan en vieslike goed op die mure geskryf. Die kinders het dit verniel en die ouers het niks gedoen nie. Hulle het die sinkplate van die dak af gesteel en daarmee duiwehokke gebou. Hoekom het die ouers nie gevra waarvandaan die sinkplate kom nie?” het hy gevra.

“Dit is ons monument en moet ons dan nie daarna kyk en dit oppas nie? Ons grootmense moet verantwoordelikheid vat. Nou het die huis afgebrand en almal het iets om te sê,” het hy gesê.

Nog ’n inwoner wat op die toneel was het glo die brandweer se nommer in die telefoongids geskakel.

“Iemand het opgetel en gesê dat hy in ‘n ander departement werk en nie kan help nie. Die man het vir ons ’n nommer gegee wat ons onmiddellik geskakel het. Die nommer het egter onbeantwoord gebly. Ons kon ook nie die polisie in die hande kry nie,” het die inwoner gesê.

Volgens hom het die polisie sowat 45 minute nadat die brand ontstaan het met twee bakkies vol mense op die toneel aangekom. “Die brandweer het nog 30 minute ná die polisie opgedaag,” het hy gesê.

Volgens mnr. Barney Buys behoort die huis aan die Namibiese regering.

“Dit is ons Baster se trots gewees. Dit was ons monument,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer