Kaptein Staal klim vir bewaring

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Sy vernuf, deursettingsvermoë en karakter op die rugbyveld is legendaries.
Maar in Junie pak Namibië se Kaptein Staal, Jacques Burger, ’n uitdaging van ’n ander aard aan wanneer hy Afrika se tweede hoogste berg gaan uitklim om bewustheid oor olifant­stropery te skep. Boonop gaan Jacques en sy medeklimmers die eerste rugbywedstryd speel op Berg Kenia, wat 5 199 m bo seespieël is.
Jacques se “Climb for Giants” word in samewerking met “Space for Giants” aangepak. Space for Giants is ’n nie-winsgewende organisasie wat in Sentraal-Noord-Kenia geleë is en daagliks op voetsoolvlak werk om van ’n gebrek aan habitat tot die konflik tussen mense en olifante te takel.
Die organisasie se doelwit is om ’n toekoms vir die grootste soogdiere op aarde te verseker deur te sorg dat dié diere die ruimte en sekuriteit het om vry en ongehinderd in die natuur te kan beweeg.
Save the Giants en Saracens, Jacques se rugbytuiste vir etlike jare, kom ’n lang pad en uit dié verhouding is “Rugby for Giants” gebore. Rugby for Giants is in die lewe geroep om die rugbygemeenskap te mobiliseer om olifante teen stropery te beskerm.
Volgens Jacques was niemand van die klub verplig om by die organisasie betrokke te raak nie, maar het hy gevoel hy kan sy profiel gebruik om “goed te doen”.
“Daar is nog baie liefdadigheidsprojekte wat ek in Namibië wil aanpak en gaan begin; hierdie is my eerste een wat ek in Kenia aanpak.”
Jacques se rol is om bewustheid vir Space for Giants te skep, maar hy droom om in sy geboorteland ’n ­teenstropingseenheid op die been te bring om bedreigde spesies te beskerm.
Die besluit om Berg Kenia uit te klim het ná ’n gesprek met die hoof uitvoerende beampte van Space for Giants, dr. Dr Max Graham, gekom.
“Ek het gesê ek wil iets doen om te help en hy het met die voorstel gekom. Ek het net gesê ‘cool’, kom ons doen dit!”
Jacques is die spanleier van die groep wat gaan bergop en bergaf en sluit Rhys Gill (Wallis), Nills Mordt, Mike Ellery, Ben Ransom en Jim Hamilton (Skotland) in.
“Ek het net gevra wie wil saam en dié manne was die eerstes om ‘ja’ te sê.”
Die span beplan nie enige spesiale voorbereidings vir die groot klim nie, vertel Jacques. “Almal kom uit ’n seisoen en is baie fiks, so hulle behoort in ’n goeie toestand vir die klim te wees.”
Vir hom is dit ’n groot uitdaging, erken hy, maar hy hou ook daarvan om homself te toets. Die ­belangrikste is egter dat elkeen elke oomblik geniet, beklemtoon Jacques; dit is immers ’n spesiale geleentheid!
Die epiese tog skop op 6 Junie af en duur tot 13 Junie. Tydens die groep se staptog wat vier dae sal duur, gaan die manne 50 km aflê, 2,2 km tot by ’n hoogte van 4,9 km klim en boonop die eerste rugbywedstryd op Berg Kenia speel. Tydens sy besoek aan Kenia gaan Jacques en sy span klimmers ook besoek bring aan die Ol Pejeta-bewaringsgebied wat die tuiste is van die grootste enkele bevolking van swart- en witrenosters in Oos-Afrika, sowel as die res van die Groot Vyf. Dit is ook die tuiste van die laaste Noordelike Witrenoster in die wêreld. Die bewaringsgebied spog ook met een van Afrika se voorste teenstropingseenhede.
Vroeër vanjaar is ’n spesiale gala-aand, die Giants Dinner, deur Space for Giants en die Saracens-rugby aangebied om benewens bewustheid te skep ook geld in te samel. Jacques se Climb for Giants is een van verskeie inisiatiewe wat van stapel gestuur is om Save the Giants se boodskap uit te dra.
Vir meer inligting oor Jacques se klimtog en Space for Giants, besoek die webtuiste www.spaceforgiants.org.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!