• Tuisblad
  • Sport
  • Kaptein Temba besef gewig wat sy aanstelling dra
Kaptein Temba besef gewig wat sy aanstelling dra
Kaptein Temba besef gewig wat sy aanstelling dra

Kaptein Temba besef gewig wat sy aanstelling dra

Krieket
Tinus van Staden – Die groter betekenis van sy aanstelling as Suid-Afrika se nuwe witbal-krieketkaptein is nie vir Temba Bavuma verlore nie.
Hy besef maar alte goed wat dit op ’n maatskaplike vlak beteken om die eerste etniese swart Suid-Afrikaanse kaptein te wees.
Bavuma (eendag- en T20-krieket) en Dean Elgar (toetskrieket) is Donderdag as die Proteas se nuwe kapteins aangewys.
Hulle vervang vir Quinton de Kock, wie se psigiese welstand ’n knou gevat het nadat hy as Faf du Plessis se opvolger as kaptein aangewys is.
“Ek verstaan die diepgewortelde betekenis daarvan om die eerste etniese swart kaptein te wees om ons land aan te voer.
“Jy hoef nie te ver daarna (die gewig wat dit dra) te gaan soek as om net na ons geskiedenis en die politieke situasie in ons land te kyk nie,” het Bavuma (30) Vrydag tydens ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.
“Ek kan heeltemal verstaan waarom mense my aanstelling sal vier. Ek sou jok as ek sê dit beteken niks vir my nie, ek sou jok as ek sê dit laat my nie terugdink aan waar alles vir my begin het en hoe ek deur daardie reis kon gaan tot waar ek nou is nie.
“Ek staan steeds by my standpunt dat ek uit ’n speel-oogpunt steeds hoë ambisies het wat ek wil bereik. Tesame daarmee om bekend te staan as die eerste etniese swart kaptein, sal ek graag ook bekend wil staan as iemand wat die span baie goed aangevoer het en wat ’n nalatenskap agtergelaat het.”
Bavuma sê ’n paar jaar gelede sou hy nooit kon dink dat hy eendag as die Proteas se kaptein aangewys sou word nie. Hy sien nou uit na die uitdaging.
Ditto Elgar.
“Die Protea-handelsmerk en al die spelers verdien dit om ’n bietjie meer klarigheid en stabiliteit te hê vir die toekoms. Ek wil stabiliteit aan die toetsspan verleen,” sê Elgar (33).
“Ek is nou al lank genoeg op die toneel om nie oorweldig te raak deur die aanstelling nie. Daar is genoeg tyd voor die volgende reeks om al die gebiede te teiken wat geteiken moet word.”
Hy sê ook die kapteinskap sal nie sy persoonlikheid verander nie.
“Dis tyd dat ons die Proteas terugneem na die standaard wat ek weet ons kan handhaaf. Daar lê taai gesprekke voor, maar ek is bereid om dit te doen.”
Graeme Smith, Krieket Suid-Afrika se direkteur van krieket, sê daar was baie gesprekke agter die skerms voordat hulle die besluit oor die kapteinskap geneem het.
“Ons hoop die aanstelling sal vir langer as twee jaar wees, aangesien ons hoop hulle is suksesvol in die rol en groei van krag tot krag,” sê Smith.
Hy sê albei spelers is ervare genoeg om in die rol te gedy, en dat hulle goeie leierseienskappe het.
“Dit help ook dat albei graag die rolle wíl vertolk, want dit help nie as jy ’n huiwerige kaptein het nie.
“Ek dink Dean is nou gereed vir die rol en wat Temba betref, het ons nog altyd van sy leierskap geweet, maar die laaste ruk het dit sterk na vore gekom.”
Smith sê sedert die span teruggekeer het van Pakistan, het hulle verskeie gesprekke met De Kock gehad.
“Hy was weens psigiese redes nie deel van die T20-reeks nie en ons het gereeld met hom geskakel,” sê Smith.
“Daar was ’n gevoel dat die kapteinskap net ’n te groot las vir iemand soos Quinton is. Ons wou hom bevry. Sy toewyding tot Suid-Afrikaanse krieket is daar en ons wil die beste uit hom kry.
“Hy sal beslis nog deel vorm van ons leierskapsgroep, maar ons het gevoel dat hierdie die regte rigting is om in te beweeg, ook sodat ons bestendigheid kan kry.
“Daar is altyd maar ’n bietjie emosies betrokke by hierdie goed. Quinton verstaan dat daar ’n las betrokke is by die kapteinskap en hy sal maar ’n paar emosies voel, maar ’n taai besluit was nodig.”
Victor Mpitsang, die sameroeper van die keurkomitee, het benadruk dat De Kock nie as kaptein “afgedank” is nie en dat dié skuiwe alle betrokkenes sal baat.
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!