Kar koop is nie vir sissies nie
Kar koop is nie vir sissies nie

Kar koop is nie vir sissies nie

Tanja Bause
Ons almal weet om 'n nuwe voertuig te koop, is nie perde koop nie – veral as jy 'n vrou is.

Dit is nou soos in die geval van my vriendin Andrea. Sy vertel onlangs sy't besef dit het tyd geword om 'n nuwe voertuig te koop.

“Ek wil 'n splinternuwe een koop wat my sal hou tot ek aftree en daarná. Hoe moeilik kan dit wees?”

Andrea maak toe voor die tyd ruim gebruik van haar vriend Google om 'n idee te kry van wat tans op die mark beskikbaar is, wat haar sak sal pas en aan haar behoeftes sal voldoen.

Ná dae lange navorsing het die dag aangebreek waarop sy uiteindelik die gekose voertuig vir 'n toetsrit sou vat.

Andrea vra twee maatjies om saam met haar te gaan sodat hulle die moeilike vrae kan vra en haar met raad en hulp kan bystaan.

Die drie kom toe by die voertuighandelaar aan en vat die voertuig saam met die verkoopsman vir 'n toetsrit.

“Ek is verskriklik op my senuwees. Dit is 'n splinternuwe voertuig en almal weet in Windhoek se strate kan 'n ongeluk in 'n oogwink gebeur,” sê sy.

“Ek probeer op die pad, verkeer en voetgangers konsentreer, terwyl dié twee die arme verkoopsman van die agtersitplek af met vrae bombardeer.”

Hulle het nog gery toe hulle by 'n padblokkade kom en voorgekeer word.

“Die polisiebeampte vra my toe wragtig om te blaas. Asof ek 'n voertuig dronk vir 'n toetsrit sou vat? Boonop is dit in die middel van die dag.”

Terug by die vertoonlokaal besluit die verkoopsman om die enjinkap oop te maak sodat sy die enjin kan sien – en dít is waar Andrea se dag nog meer versleg.

“Ek wil belangstelling toon en nie soos 'n totale moroon lyk nie en leun oor die enjin om te sien waar die tenk is waarin die water vir die ruitveërs kom.”

Die volgende oomblik gee Andrea 'n gil en spring kiertsregop terwyl sy haar borste vashou.

“Die verkoeler en enjin was nog vuurwarm van die toetsrit, en ek het vir Hettie en Nettie gebrand. Die verkoopsman het bloedrooi in sy gesig geword.”

Nadat Andrea die tweede keer oor die enjin geleun het en haar borste gebrand het, was ook die verkoopsman, soos die twee maatjies, in trane.

“Ons kon nie glo sy het dit wragtig weer ná die eerste keer gedoen nie. Die verkoopsman met sy rooi gesig het baie hard probeer om nie te lag nie en professioneel te bly, maar ná die tweede keer het ook hy dit verloor,” het sy vertel.

Tussen die trane deur het die verkoopsman verduidelik 'n mens kan die tenk ook van die kant van die voertuig af sien en opvul.

Dit was twee weke gelede en ­Andrea het nog nie 'n nuwe voertuig aangeskaf nie. Ek weet nie of sy

nou te skaam is om terug te gaan nie.

Of dalk is sy op soek na 'n voertuig uit plastiek wat nie warm gaan word en haar sal brand nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer