Karakter nie genoeg vir Stormers
Karakter nie genoeg vir Stormers

Karakter nie genoeg vir Stormers

SuperRugby
Stephen Nell

Die Stormers het Saterdag in Christchurch met baie eer uit die stryd getree, maar uiteindelik die prys betaal vir seker die swakste eerste 20 minute denkbaar.

Met 20 minute verstreke was die Crusaders reeds met 26-0 voor en hulle het ná ’n puik terugvegpoging deur die Stormers uiteindelik met 45-28 gewen. Terwyl die Crusaders veral in die eerste helfte uitstekend aangeval het, was die Stormers grootliks die argitekte van hul eie ondergang deur hul onvermoë om hul eie lynstaanbesit te beveilig en kanse te benut.

Net in die eerste helfte het die Stormers vyf keer lynstaanbesit afgestaan, wat hulle twee drieë gekos het. Verbroude duikslae deur Nizaam Carr en Ramone Samuels het die Stormers nóg ’n drie gekos, terwyl die Crusaders ook toegeslaan het van Damian de Allende en Pieter-Steph du Toit wat in die opponerende kwartgebied aangeslaan het.

Fluit-fluit en die Stormers se storie was met rustyd al uit. Die Kapenaars het die Crusaders nietemin toenemend onder druk geplaas deur meer direk te speel en die bal geduldig deur fases te neem. Karakter was egter nie genoeg om te vergoed vir ’n katastrofale eerste kwart van die wedstryd nie.

Drie van hul vier drieë is deur stutte – JC Janse van Rensburg, Wilco Louw en Steven Kitshoff – afgerond. Die vierde was deur die slot JD Schickerling, wat in die tweede helfte ’n reus was. Behalwe dat hulle die drieë afgerond het, was die Stormers se voorry ook uitstekend in die skrums. Dit was straks die grootste faktor wat die wedstryd se momentum laat swaai het.

Terwyl De Allende teleurgesteld sal wees met die flater wat vir die Crusaders ’n drie opgelewer het, was hy een van die Stormers se grootste uitblinkers. Hy het die bal 21 keer gedra en 91 meter gebuit. Deur hom en SP Marais effektief aan te wend, het die Stormers die druk van hul onervare losskakel, Dillyn Leyds, af gehou.

Toe hulle in die tweede helfte die Crusaders se voorsprong na 31-21 laat krimp en die oorhand in die skrums gehad het, is vlugtig lugkastele gebou oor die moontlikheid van ’n sege. Maar helaas was die Crusaders, toe dit saak gemaak het, eenvoudig net té goed. Seta Tamanivalu en Richie Mo’unga se drieë het die wedstryd beveilig en op 21-45 kon die Stormers se wiele maklik afgekom het.

Die Kapenaars het egter baie karakter openbaar en deur Kitshoff ’n vierde drie aangeteken. Uiteindelik het die wedstryd diep in die Crusaders se kwartgebied geëindig, wat toepaslik was gegewe die oorgawe waarmee die Stormers terugbaklei het.

Puntemakers: Crusaders 45 (31): Drieë: George Bridge (2), Codie Taylor, Billy Harmon, Bryn Hall, Seta Tamanivalu, Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (5). Stormers 28 (7): Drieë: JC Janse van Rensburg, Wilco Louw, JD Schickerling, Steven Kitshoff. Doelskoppe: SP Marais (3), George Whitehead. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!