Karibib-byeenkoms blinkgevryf

Namibië se bekende langasems ondersteun jaarliks dié toenemend gewilde wedloop.
Tielman van Lill
Tielman van Lill



Die jaarlikse QKR Namibië Karibib Navachab Gold Mine halfmarathon word Saterdag vir die vyfde keer aangebied en sal vanjaar vir die eerste keer deur 'n 5 km pretstap gekomplementeer word.

Organiseerders het gister die kompetisie aangekondig waar heelwat nuwe borge toegetree het. Die uitdaging word in samewerking met QKR Namibië aangebied wat as hoofborg N$45 000 belê. Plaaslike besighede soos FNB Karibib (N$10 000), OK Foods (N$5 000), Desert Lion Energy (N$5 000), NamAgra (N$5 000) en die Karibib dorpsraad met N$10 000 wys ook waar hul lojaliteit lê.

Sasol SA bied N$20 000 aan en Coca-Cola is opnuut die borg wat die droë kele en lam bene help teenwerk.

Die wedloop geniet Atletiek Namibië se erkenning en menige hardebaard lang­asems gebruik die dag om hul prestasie teen die horlosie te meet.

Volgens mnr. Bethold Karumendu word ongeveer 500 plaaslike entoesiaste verwag om vir hul deel van die totale prysgeld van N$70 000 mee te ding. Geen atlete van buite Namibië het tot dusver ingeskryf nie, maar inskrywings is steeds oop.

Mnr. Tuafi Shafombabi, woordvoerder van Navachab, sê die byeenkoms beteken baie vir die ganse dorp.

“Navachab Gold bly trots tot die byeenkoms verbind, want ons glo in 'n gesonde liggaam en gesonde gees en dat ons uitdagings behoort aan te bied. Dit is ook belangrik dat iets in die dorpsgemeenskap teruggeploeg word deur byeenkomste soos dié hier aan te bied en te borg,” het Shafombabi by 'n vorige geleentheid gesê.

Mnr. Lesley Goraseb, uitvoerende hoof van Karibib, sê die dorp is gereed om sy gaste te verwelkom.

“Karibib sal skoon en gereed wees, want die junior burgemeester en die skole gaan Vrydag die strate invaar en mooi skoonmaak. Ek kan julle verseker dat alle reëlings getref is. Ek glo die inwoners sal voordeel trek uit die geleentheid en daarom bly ons daartoe verbind,” het Goraseb vertel.

Mnr. Bethold Karumendu, hoofsportbeampte van Omaruru, sê Namibië se beste atlete word weer verwag om mekaar die stryd aan te sê.

Atlete vir die halfmarathon (21.1 km) spring Saterdag om 07:30 by die Usab-sportveld in Karibib weg, voor die pretdrawwers 15 minute later begin.

In 2016 het Kefas Kondjashili van Nampol die manswedloop in 1 uur 06 minute 01 sekonde gewen, terwyl Leena Ekandjo by die vroue baas was.

Verlede jaar het Suid-Afrikaners egter die plaaslike atlete kom opdreun. Die byeenkomsrekord staan op 1:03:01 wat verlede jaar deur die talentvolle WP-atleet Joel Mmone opgestel is. Tweede was Thabang Mosiaka van Noordwes-provinsie (1:03:02) en Lucky Mohale van Gauteng derde in 1:04:03.

Vierde was Rainhold Thomas (1:04:04), die eerste Namibiër oor die eindstreep wat ook Kondjashili se vorige beste van 2016 verbeter het.

Lavinia Haitope (1:14:01) het met haar goue medalje by die vroue Namibië se vlag laat wapper.



PRYSGELD VERHOOG

Die algehele mans- en vrouewenner in die senior mans en vroue-afdeling (20-39 jaar) sal elk N$7 000 ontvang. In 2017 was dié bedrae N$5 000. Atlete in die tweede tot sewende posisie sal ook kontantpryse ontvang.

By die junior mans en vroue (16-19 jaar) ontvang die gouemedaljewenners N$2 500 elk en die tweede tot vyfde plekke sal ook kontant inpalm.

By die veterane (40-49) wag N$2 000 op die eerste man en vrou, asook N$1 000 vir die tweede en N$700 vir die derde plek.

Selfs die voorste meesteratlete (50 jaar en ouer) gaan nie met 'n leë beursie huiswaarts keer nie. Kontant is vir die eerste drie plekke opsy gesit wat N$1 500, N$700 en N$500 beloop.

Vir die pretdrawwers wag 'n lekker meevaller by die prysuitdeling. Die eerste plekke by die mans en vroue asook juniors ontvang N$1 000 vir hul moeite, terwyl die voorskoolse wenners in die meisie- en seunsafdeling N$300 kan verdien.

Medaljes sal aan elke deelnemer gegee word wat die afstand voltooi.

Atlete kan vanaf Vrydagmiddag tot middernag by die Ugab-sportveld registreer. Vir laatslapers is die registrasietafel Saterdag van 06:00 tot 07:00 oop. Geregistreerde atlete betaal N$40 om deel te neem en die pretstappers net N$20, terwyl ongeregistreerde seniors N$40 sal opdok.

Die direktoraat van sport verskaf vervoer aan atlete vanuit die streke. Atlete kan gratis op Usakos in die jeugkoshuis oorslaap.

Inskrywings kan by atletiekklubs, of by die Usab-gimnasium op Karibib verkry word. Inskrywingsvorms kan elektronies van Bethold Karumendu ([email protected]) of Tuafi Shafombabi ([email protected]) aangevra word.

Vir meer inligting kan die Omaruru sportkantoor by 081 311 8489 gekontak word of Shafombabi is by 081 779 0042 beskikbaar.

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer