Karre: Hage trek rem
Karre: Hage trek rem

Karre: Hage trek rem

Dankie, maar nog nie genoeg nie. Só is die president se aankondiging oor die aankoop van voertuie deur die staat ontvang.
Denver Kisting
Denver Kisting en

Ronelle Rademeyer



Hoewel opposisieleiers en 'n politieke ontleder pres. Hage Geingob se opdrag van geen nuwe voertuigaankope deur die regering verwelkom het, meen hulle dit sal waarskynlik nie genoeg wees om die staat uit sy finansiële ellende te verlos nie.

Geingob het gister aangekondig geen nuwe voertuie mag tussen 2020 en 2025 vir ministers en amptenare in die staatsdiens aangekoop word nie.

'n Beperking word ook geplaas op die maandelikse brandstofverbruik van diegene met staatsvoertuie.

Volgens 'n verklaring deur die presidensie sal dit 'n besparing van N$200 miljoen meebring.

Die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. McHenry Venaani, het by navraag gesê: “Ten minste is hy wakker en luister hy na my konsekwente pleidooie! Ek verwelkom dié skuif. Hy moet een tree verder gaan en onnodige motorkades sny.”



'KYK NA SALARISREKENING'

Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), sê: “Dit is 'n goeie skuif en sal sorg vir 'n bietjie besparing tydens 'n baie moeilike tyd vir die ekonomie.

“Dit mag ook nodig wees vir die lede van die kabinet en ander hoë amptenare om 'n tydelike salarisvermindering te aanvaar. Dit sal koste bespaar en ook solidariteit toon met diegene in die samelewing wat hul werke en lone verloor het.”

Hy meen aanvullende maatreëls is nodig omdat Namibië nog lank nie uit die moeilikheid is nie.

Mnr. Mike Kavekotora van die RDP sê hy hoop Geingob sal nóg besnoeiings aankondig.

“Daar is 'n behoefte om die nasionale skuld te verminder tot bekostigbare vlakke en die reusesalarisrekening moet ook meer doeltreffend gepak word.”

Kavekotora is wel besorg oor die gebrek aan kapasiteit waarmee die polisie vir lief moet neem. “Die polisie se mobiliteit knou hul werksaamhede.”

Volgens die mediumtermyn begrotingsraamwerk is N$13,043 miljoen in die 2020-'21-boekjaar vir voertuigaankope opsy gesit, asook N$17,271 miljoen in die daaropvolgende boekjaar.

Mnr. Alfredo Hengari sê in die N$200 miljoen besparing sal N$180 miljoen bespaar word deur geen voertuie in die volgende vyf jaar te koop nie. Nog N$20 miljoen se besparing sal deur verminderde brandstoftoelaes teweeg gebring word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!