Karweier se werkers voor staakdeur
Karweier se werkers voor staakdeur

Karweier se werkers voor staakdeur

Augetto Graig
‘n Hernude weiering van ‘n salarisverhoging vir werkers van die nasionale karweier, TransNamib, het daartoe gelei dat die kantoor van die arbeidskommissaris onderhandelinge by die staatsonderneming gister as onopgelos gesertifiseer het.
Die Namibiese Unie vir Vervoer- en Verwante Werkers (Natau) eis dat die uitvoerende hoof, mnr. Johny Smith, en die direksie direk by onderhandelinge betrokke raak om die dooiepunt te oorkom.
Me. Narina Pollmann, die vakbond se waarnemende sekretaris-generaal, het Vrydag gesê Natau is ook oorval met navrae oor die beplande aflegging van 340 werkers. Volgens haar weet die vakbond niks hiervan nie en was oorbluf om in die media van die plan te lees.
Natau eis sedert 2019 ‘n minimumsalaris van N$6 900 per maand en verhogings wat tussen 13% en 18% wissel.
Pollmann sê die bestuur se boodskap bly dat die direksie geen mandaat van die regering het om verhogings toe te staan nie.
As die regering TransNamib regtig wil red, is dit volgens Natau tyd vir eerlike gesprekke. “Aflegging is net die begin,” lui gister se verklaring. “Ons weet die einddoel is om TransNamib in dele op te breek en private entiteite te skep.”
Geen suksesse is volgens Natau bereik met die regrukplan wat in 2018 aanvaar is nie. Die plan het volgens Pollmann sekere werknemers benadeel en die bestuur onnodig vergroot. Prestasie-ooreenkomste waarop in 2018 ooreengekom is, moet volgens die vakbond geskrap word.
Bestuurders na wie ‘n ouditverslag die vinger gewys het, moet volgens Pollmann ook geskors word.
Oor die string ontsporings wat die karweier teister, het sy aangevoer dat geen veiligheidsoudit van die land se spoorweë die afgelope drie jaar gedoen is nie.
Die regering het onlangs ‘n hernude interne ondersoek by die sukkelende staatsonderneming gelas.
Werkers by die nasionale uitsaaier, die NBC, het vanjaar geruime tyd vir verhogings gestaak – maar sonder enige werklike sukses.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!