Kat en vark - beste maats

Die Rest-dierereddingsentrum het verlede jaar twee wesies ingeneem, maar sou nooit kon raai dié verhaal sou soveel aandag geniet nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Kom jy by me. Maria Diekmann se dierereddingsentrum, die Rare and Endangered Species Trust (Rest), net buite Outjo aan, moet jy nie verbaas wees as jy kort op haar hakke 'n muskeljaatkat kry wat op 'n jong vlakvarkie se rug rondry nie.

Die twee onwaarskynlike vriende, Popcorn en Harriet, het hordes aanhangers op sosiale media gaande en hul spelery is iets om te aanskou. Popcorn is die jong muskeljaatkat en Harriet die vlakvark.



WEESKINDERS VIR KERSFEES

Diekmann sê Popcorn is as 'n baba­katjie deur plaaswerkers gevind toe sy in 'n bosbrand vasgekeer is.

“Sy was nog baie klein en kon skaars loop. 'n Rest-vrywilliger het haar ingeneem en versorg, terwyl ek daarop gefokus het om die babavlakvark, Harriet, aan die lewe te probeer hou.

“Harriet het saam met haar drie boeties by my beland, maar sy is die enigste wat oorleef het. Hul ma is deur 'n boer geskiet, wat toe besef het die sog is swaar dragtig. Hy het toe haar maag oopgesny om die varkies te probeer red,” vertel Diekmann.

Sy sê die probleem met vroeggebore vlakvarke is dat hul niere en lewer laaste ontwikkel.

“Sodra hulle egter self begin eet, is hul stelsels nog nie goed genoeg ontwikkel om formulemelk te verwerk nie.”



SOOS 'N SPRINGMIELIE

Diekmann sê die vrywilliger het die klein muskeljaatkat “Popcorn” gedoop omdat sy na gebrande springmielies geruik het.

“Nou pas die naam haar goed omdat sy heeldag rondspring,” sê sy.

Harriet en Popcorn is aanvanklik apart grootgemaak, maar toe die vrywilliger ná vier weke moes teruggaan Suid-Afrika toe, moes Diekmann Popcorn se versorging oorneem.

“Dis toe dat Popcorn en Harriet meer tyd saam begin spandeer het. Altwee het my as 'n moederfiguur gesien.”

“Nou spring Popcorn gereeld op Harriet se rug.”

Diekmann sê: “Popcorn het die oulikste persoonlikheid en dis ver­rassend hoe goed sy jag – sy is blitsvinnig.

“Sy is mal daaroor om te speel en as sy nie met 'n mens of 'haar varkie' kan speel nie, sal sy haar eie stert vir ure lank jaag.”

Die twee word egter deurlopend op hul vrylating voorberei.

“Popcorn kry steeds stukkies hoender om te eet, maar sy jag nou elke aand op haar eie.

“In die vroeë oggendure sal sy by my in die bed kom inkruip. Sy krul gewoonlik in my hare op of kom lê in my nek.

“Haar voetjies is dikwels yskoud as sy van buite af kom.”



LEER OM 'n VLAKVARK TE WEES

“Harriet slaap nou buite saam met 'n ouer vark, Picasso Blu, wat baie lief vir haar is en haar leer hoe om 'n vlakvark te wees,” vertel Diekmann.

Sy sê Harriet eet slegs veldgras en –wortels.

“Dis belangrik om nooit vir hulle menskos te gee nie.”

Diekmann sê aan die begin het hulle nie geweet of hulle die twee weesdiere sou kon deurhaal nie.

“Eerstens moes ons hul vertroue wen en hulle kry om formulemelk te drink. As hulle stres ervaar, vrek hulle maklik. Hulle benodig dus baie van jou tyd en is bykans nooit alleen gelaat nie.”



ANDER REST-DIERE, PROJEKTE

Diekmann het ook nog aasvoëls, arende en uile in haar sentrum wat nie vrygelaat kan word nie.

“Ons maak tans ook die ietermagô Honey Bun groot en berei haar op haar vrylating voor.”

Diekmann was enkele jare gelede maar slegs die tweede persoon in die wêreld om 'n baba Afrika-ietermagô suksesvol in aanhouding groot te maak.

Intussen is sy besig om 'n nuwe reddingsentrum te bou. Sy sê van hul huidige behoeftes sluit in skenkings in die vorm van komberse en kosbakke vir die diere, asook groter skenkings soos hospitaal- of versorgingskamers vir die diere, wat na 'n persoon of besigheid vernoem kan word.

“Ons webwerf moet dringend opgedateer word en ons kort iemand wat sweiswerk vir ons sal doen,” sê sy. Vir meer inligting, besoek die webwerf www.restafrica.org of sluit aan by die Rare and Endangered Species Trust se Face­book-blad.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!