Katalaanse onafhanklikheidstryd kring uit
Sommige Europese lande, asook Amerika en Mexiko, het Katalonië se onafhanklikheidsverklaring verwerp.
Jesus Aguado en Sonya Dowsett
Die Katalaanse provinsiale polisiemag het Saterdag sy lede opdrag gegee om “neutraal” te bly in die streek se onafhanklikheidstryd, 'n stap wat klaarblyklik daarop gemik is om konflik te vermy terwyl die nasionale regering in Madrid poog om direkte beheer oor die provinsie oor te neem.
Dit kom nadat die Spaanse premier, Mariano Rajoy, die Katalaanse provinsiale regering ingevolge die Spaanse grondwet ontbind het nadat die Katalaanse parlement Vrydag Katalonië eensydig onafhanklik van Spanje verklaar het. Rajoy het ook 'n nuwe verkiesing uitgeroep.
Die Katalaanse leier, Carles Puigdemont, se onafhanklikheidsverklaring is byna onmiddellik in die wiele gery deur Rajoy se reaksie terwyl ander Europese lande, asook Amerika en Mexiko, Katalonië se onafhanklikheidsverklaring verwerp het en hul steun aan die Spaanse regering toegesê het.
Emosies loop egter hoog en die volgende paar dae se pogings deur Madrid om direkte beheer oor Katalonië oor te neem, sal 'n groot toets vir Rajoy wees.
Die onafhanklikheidsverklaring volg op 'n referendum verlede maand waarin Katalane klaarblyklik oorweldigend ten gunste van onafhanklikheid gestem het. Die referendum is egter onwettig verklaar deur die Spaanse howe en is geboikot deur drie nasionale opposisiepartye. Minder as die helfte van stemgeregtigde Katalane het daaraan deelgeneem. Meningspeilings wys dat minder as die helfte van die 5,3 miljoen stemgeregtigde kiesers in die welgestelde provinsie in die noordooste van die land – wat reeds 'n groot mate van outonomiteit geniet – van die Spaanse staat wil wegbreek.
In 'n poging om die spanning te ontlont het die plaaslike polisiemag nou sy lede aangemoedig om nie kant te kies in die konflik nie, luidens 'n nota aan beamptes wat aan Reuters gewys is.
Daar was tot dusver twyfel oor wat die Mossos d'Esquadra, Katalonië se provinsiale polisiemag, sal doen as hulle opdrag kry om Puigdemont se regering teen te staan. Die polisiemag is self erg verdeel tussen dié wat onafhanklikheid ondersteun en dié wat dit teenstaan en daar is ook groot wantroue tussen lede van Mossos en die Spaanse nasionale polisiemag.
Sommige Katalaanse polisielede het selfs tussen die nasionale polisiemag en kiesers wat in die onwettige referendum wou stem, stelling ingeneem. Die memorandum aan Mossos-lede, wat nie onderteken is nie, lui: “In die lig daarvan dat daar waarskynlik 'n toename in byeenkomste en optogte gaan wees van burgers en dat mense met verskillende menings gaan bymekaarkom, moet ons onthou dat dit ons verantwoordelikheid is om die veiligheid van almal te verseker en om te help dat dié byeenkomste sonder probleme kan voortgaan.”
– Netwerk24/Reuters

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie