Katastrofe wag op Afrika

’n Verslag waarsku Afrika gaan veel erger deurloop onder die Delta-variant as wat in Indië die geval was.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die skerp toename in die voorkoms van die Delta-variant van SARS-CoV-2 in Afrika kan verwoesting saai op dié vasteland – veel erger as wat in Indië die geval was.

Covid-19 kan in die komende maande honderdduisende lewens eis as voorkomende maatreëls nie verskerp word en toegang tot entstof nie drasties verbeter nie.

Só waarsku die Afrika-sentrum vir Strategiese Studies in ’n verslag wat die naweek vrygestel is.

Dié sentrum is gesetel in die Amerikaanse departement van verdediging en bestudeer die doeltreffendheid van instellings wat verantwoordelik is vir burgerlike veiligheid op die Afrika-vasteland.

Namibië is die land wat tans die ergste deurloop. Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het op 31 Mei altesaam 4 033 aktiewe gevalle in sy daaglikse Covid-verslag berig, met die totale sterftes wat 830 was.

Op 30 Junie was daar 21 861 aktiewe gevalle in die land en die sterftesyfer het tot 1 556 geklim. Dit verteenwoordig stygings van onderskeidelik 500,42% en 87,4% in die bestek van een maand.

“Paniek en vrees pak gemeenskappe beet namate die aantal mense wat familielede en vriende verloor, eksponensieel styg,” lui dié verslag.

“Terwyl sekere dele van die wêreld ’n nuwe hoofstuk in die verloop van die pandemie beleef, oorheers die derde golf tans nuusopskrifte oraloor Afrika.”

Dit blyk die getal Covid-gevalle het sedert einde April toe die Delta-variant in Uganda posgevat het, tot nou toe byna verdriedubbel. Sowat 30 000 sterftes is in dié drie maande aangemeld.

Die gemiddelde styging in bevestigde Covid-19-gevalle het in Junie in 26 Afrikalande met 50% of meer gestyg teenoor wat dit in Mei was. Die Delta-variant was teen einde Junie in 17 van hierdie 26 lande aanwesig. Die getal lande het intussen tot 22 lande gestyg, waarvan Namibië een is.

Volgens die verslag is bevind die Delta-variant versprei 225% vinniger as die oorspronklike virus.

Altesaam 5 600 mense oraloor Afrika is in die eerste week van Julie aan Covid dood. Dit is ’n toename van 43% teenoor die vorige week.

Navorsers by die sentrum maan Afrika se daaglikse Covid-gevalle het die afgelope maand verdriedubbel van 0,9 gevalle per 100 000 mense tot 2,8 positiewe gevalle uit elke 100 000 mense op die vasteland.

“Dit stem ooreen met wat die situasie in Indië was die maand vóór die verwoestende toename. Van 18 Februarie tot 18 Maart het Indië se getal gevalle per 100 000 van die bevolking van 0,9 tot 2,3 gestyg.

“Die maand daarna het dit opgeskiet na 13,5 voordat dit in Mei die piek bereik het en die daaglikse toename 30 uit elke 100 000 beloop het.”

Hulle maan verder Indië en Afrika het ewe veel mense – 1,36 en 1,37 miljard onderskeidelik.

Met die aanvang van die derde golf sowat vier maande gelede in Indië, het die totale getal sterftes op 160 000 gestaan. In die daaropvolgende maande het dié land nóg 240 000 Covid-sterftes aangemeld – ’n toename wat deur die Delta-variant gedryf is.

Indien die Delta-variant aanhou om teen hierdie tempo in Afrika te versprei, wag ‘n katastrofe op die vasteland waarin honderde duisende mense kan sterf, waarsku hulle.

In Suid-Afrika, Tunisië en Namibië is die getal sterftes (per miljoen van die bevolking per dag) reeds ver hoër as in Indië toe die Delta-variant-gedrewe derde golf sy piek bereik het.

In Indië was dit op sy piek 3 per 1 000 000 van die bevolking. In Suid-Afrika is dit nou 6, in Tunisië 10 en in Namibië 14.

In Afrika is die huidige sterftekoers 2,58%, terwyl dit in Indië 1,32% was.

“Internasionale rolspelers moet toegang tot entstowwe in Afrika drasties verhoog om ’n humanitêre ramp te voorkom,” sê die navorsers aan dié sentrum in hulle verslag.

Minder as 4% van Afrika se bevolking is tot dusver teen Covid-19 ingeënt.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!