Katima-slopings onwettig
Katima-slopings onwettig

Katima-slopings onwettig

Sloping sonder 'n hofbevel en volledige kennisgewing word sedert 2013 nie toegelaat nie.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die prokureur-generaal, mnr. Sacky Shanghala, het verlede Vrydag aan me. Sophia ­Shaningwa, minister van stedelike en landelike ontwikkeling, en alle streeksgoewerneurs geskryf oor die onlangse sloping van onwettige huise op Katima Mulilo.

Volgens hom is dit onwettig vir enige dorpsraad om geboue sonder 'n hofbevel te sloop, al behoort die grond aan die raad.

Shanghala het die minister van agtergrond oor die toepaslikheid van die plakkersproklamasie van 1985 verskaf.

Volgens hom is die verouderde wet al in 2013 in die saak van Shaanika en ander teen Windhoek se stadspolisie en ander op die proef gestel.

In dié saak het die hooggeregshof bevind artikel 4(1) en 4(3) van die proklamasie is teen die Grondwet.

Die artikels het gedurende apartheid en ná onafhanklikheid plaaslike regerings die reg gegee om enige gebou wat sonder toestemming opgerig is sonder kennisgewing of 'n hofbevel te sloop.

Shanghala sê: “Hierdie bepalinge is nie meer geldig of van enige krag nie en as gevolg van hierdie besluit het nuwe prosedures in werking getree.”

Die huidige prosedure wat van toepassing is, eis van enige dorpsraad om inwoners wat deur sloping geraak kan word, deeglik van die beplande sloping in kennis te stel.

Die raad moet ook eers 'n hofbevel kry wat die sloping goedkeur, sê hy.

“Vir 'n plaaslike owerheid om 'n struktuur wat onwettig op sy grond opgerig is, te verwyder, moet sodanige plaaslike owerheid eers 'n hofbevel kry. In die afwesigheid van sodanige bevel sal dit onwettig wees vir die betrokke plaaslike owerheid om sodanige struktuur te sloop,” skryf die prokureur-generaal.

Om so 'n hofbevel te bekom, sal enige plaaslike owerheid moet bewys hy is wel die eienaar van die grond, dat die spesifieke grond bestaan en identifiseerbaar is, en dat die grond fisiek onder die beheer van die onwettige inwoners is, sê Shanghala.

Hy moedig die minister aan om alle plaaslike owerhede deeglik hiervan in te lig.

“Die bepalinge van die wet is duidelik en die wet beoog nie om plaas­like owerhede willekeurig van hul grond te ontneem nie, maar eerder om die wet te handhaaf deur dieselfde (grond) te herstel op 'n wyse wat die okkupeerders nie willekeurig van hul ander regte ontneem nie, soos die reg op waardigheid,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!