Katrina klap sweep
Katrina klap sweep

Katrina klap sweep

Die minister sê slaagsyfers van 50% is nie aanvaarbaar nie en skoolhoofde moet eerder na ’n 70%-slaagsyfer mik.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Die minister van onderwys, kuns en kultuur is nie gelukkig nie.

Me. Katrina Hanse-Himarwa het skoolhoofde van die Khomasstreek Woensdag in die hoofstad toegespreek.

Sy het haar uitgespreek oor hul oënskynlik tekort aan leierseienskappe en goeie leierskap.



“Dat ’n skool ’n topskool is, beïndruk my nie. Ek stel meer belang in die streke se diagnostiese verantwoordelikhede,” het sy gesê.

Die minster het melding gemaak van skole waar leerlinge in sekere vakke presteer, sonder dat die betrokke skool daarvoor erkenning kry.

“’n Verwronge beeld van die werklikheid word geskep. Dit is nie net sommige skole wat presteer nie,” het sy gesê.

Hanse-Himarwa het voorts gesê skoolhoofde moenie tevrede wees met slaagsyfers van 50% en 60% nie - hulle moet vir minstens 70% mik.

’n Slaagsyfer van 50% beteken slegs die helfte van leerlinge kom deur. Die ander helfte word agtergelaat, het sy gesê.

“Wanneer gaan hulle gehelp word?” het sy gevra.

Indien skole nie hul sokkies optrek nie, gaan Namibië nie in die toekoms produktiewe of verantwoordelike burgers hê nie,” het sy gesê.

Sy het ook skoolhoofde se ontoeganklikheid gekritiseer.

“Hulle wil nie met ouers kommunikeer nie. Maak tyd vir ouers en praat met hulle,” het sy gesê.

Sy het skoolpersoneel aangemoedig om nie net van 07:00 tot 13:00 onderwysers te wees nie, maar om meer moeite te doen. Sy het ook gesê onderwysers wat vir “dae lank” afwesig is, moet deur die betrokke skoolhoof aangespreek word.

“Dit is ’n groot uitdaging, maar onderwysers is verantwoordelik vir die onderrrig en opleiding van môre se samelewing,” het sy gesê.

“Dit is onmoontlik om verlore tyd in te haal,” het sy gesê.

Sy het skoolhoofde versoek om van probleemonderwysers ontslae te raak.

“Hulle pleeg bedrog in die onderwysstelsel en in Namibië in die algemeen,” het sy gesê.

By dieselfde geleentheid het Hanse-Himarwa aan verteenwoordigers van die Namibiese Nasionale Onderwysersunie (Nantu) gesê hulle moenie oor salarisse kla nie, maar eerder oor onderwysers wat nie hul werk doen nie.

“Julle moet julle ook oor produktiwiteit in die klaskamer bekommer. Kom ons werk saam aan die verbetering van die gehalte van onderwysers in die klaskamers. Hulle moet ter wille van die leerlinge ’n verhouding met ouers bou,” het sy gesê.

Beide private en staatskole het een doel, en dit is om Namibiese kinders op te voed.

“Niemand is beter as ’n ander nie. Julle moet hande vat en mekaar help.”

Sy het ook gesê ouers moenie net agteroorsit en alles in onderwysers se hande laat nie, hulle moet help om skole finansieel te versterk.

“Die feit dat onderwys gratis is, beteken nie julle moenie bydraes lewer nie. Dit is jul verantwoordelikheid om tot jul kinders se opvoeding by te dra.”

Sy het voorts gesê onderwysers en skoolhoofde moet leerlinge leer om skoolgeboue en -gronde op te pas.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!