'Katrina moet reguit tronk toe'

Die staat sê daar moet 'n voorbeeld van Katrina Hanse-Himarwa tydens haar vonnisoplegging gemaak word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Katrina Hanse-Himarwa sal volgende week Woensdag weet wat haar lot gaan wees wanneer regter Christie Liebenberg haar vonnis oplê.

Dit volg nadat adjunk-aanklaer-­generaal Ed Marondedze die hoërhof gistermiddag gevra het om die oud-onderwysminister reguit tronk toe te stuur.

Marondedze, wat die staat in die ­korrupsiesaak teen ­Hanse-Himarwa verteenwoordig, het gesê die hof kan sy “eie diskresie” gebruik vir die lengte van die tronkstraf wat haar opgelê word en dat daarvan ook ­opgeskort kan wees.

Hy meen die oortreding is veral ernstig omdat Hanse-Himarwa tydens haar goewerneurspos 'n verteenwoordiger van die regering asook die president in die Hardapstreek was.

“Sy was die hande, oë en ore van die regering en die president en wat het sy gedoen?” het hy gesê.

“Dit was 'n blatante misbruik van mag en sy moet gevonnis word volgens wat haar toekom, volgens die misdaad wat sy gepleeg het en wat regverdig teenoor die gemeenskap en die situasie is,” het hy gesê. “In hierdie geval kan daar nie op die hof 'n beroep vir genade gemaak word nie.”

Dit volg nadat ­Hanse-Himarwa se regsverteenwoordiger, mnr. Sisa ­Namandje die hof vroegoggend gevra het dat sy slegs 'n boete van N$35 000 opgelê word. Indien die hof 'n ­swaarder straf nodig ag, kan sy ook 'n opgeskorte vonnis ontvang, het hy voorgestel.

Die hof het gister getuienis ter strafversagting en -verswaring in die Windhoekse hoërhof aangehoor.

Liebenberg het Hanse-Himarwa vroeër vandeesmaand aan korrupsie skuldig bevind.



DIEP GENOEG SAKKE

Die staat het ook getuig dat Hanse-Himarwa nie heeltemal eerlik oor haar finansiële sake was nie omdat dit oor bewyse beskik dat sy 'n vennoot in twee visvangmaatskappye is.

“Haar ministeriële salaris was dus net 'n druppel in die emmer,” het Marondedze gesê en bygevoeg dat sy nie afgedank is nie, maar aan die media gesê het dat sy vrywillig bedank het en die verlies aan haar ministeriële posisie nie as versagtende getuienis kan dien nie.

“My gevoel is dat sy ook van haar pos as lid van die nasionale vergadering moes bedank het om te wys hoeveel berou sy werklik oor haar oortreding het,” het Marondedze gesê.

Hy het ook verwys na 'n koerantberig wat vandeesweek in die Namibian Sun verskyn het, waarin Hanse-Himarwa aangehaal word dat haar “sakke diep genoeg is.” Marondedze het gesê Katrina se sakke is diep – “dalk dieper as wat ek nou wil bevraagteken.”

Oor die verweer dat haar regskoste enorm is, het Marondedze gesê: “Namandje het goeie werk gedoen en hy verdien om daarvoor vergoed te word.”

Hy het gesê as die vonnis waarvoor Namandje gevra het toegestaan word, dit op 'n “bespotting van geregtigheid” sal neerkom.



VERDEDIGING GETUIG

TER VERSAGTING

Dit volg nadat Namandje gisteroggend ter versagting getuig het dat dit 'n eerste oortreding vir Hanse-Himarwa is, wat reeds “op die gevorderde ouderdom” van 52 jaar verkeer en dat sy reeds ná haar skuldigbevinding haar pos as ­minister bedank het.

“Dit beteken onder meer dat sy haar salaris as minister van meer as N$1 miljoen per jaar moes opgee.

“As 'n gewone lid van die ­nasionale vergadering gaan sy slegs sowat N$690 000 per jaar verdien, wat op 'n enorme vermindering in haar vergoeding van sowat N$300 000 neerkom,” het Namandje gesê.

Dit, terwyl sy talle afhanklikes het wat haar sieklike man, vier kinders, twee kleinkinders en 82-jarige sieklike moeder insluit,” het Namandje gesê.

Namandje het gesê dit sal 'n verwoestende uitwerking op veral Hanse-Himarwa se ma, Aletha Himarwa, hê as sy nie beskikbaar is om na haar om te sien nie omdat sy aan 'n ernstige hartkwaal ly. Hy sê die oudminister het “teen 'n enorme finansiële onkoste” na haar moeder omgesien – wat ook elke hofverskyning van haar dogter bygewoon het.

Daarbenewens beloop ­Hanse-Himarwa se regskostes reeds meer as N$1,4 miljoen, waarvan sy nog meer as N$837 000 vóór 1 Augustus moet betaal. Namandje sê die finansiële las op Hanse-­Himarwa is enorm veral omdat haar regskoste meer as haar jaarlikse salaris is.



BEROU

Namandje het ook gesê ten spyte van wat mense mag glo vanweë haar lewendige persoonlikheid en die feit dat sy altyd vir kameras glimlag, het sy opregte berou en vra sy opreg om vergifnis vir haar optrede.

Marondedze het egter na haar kommentaar aan die media direk na haar skuldigbevinding verwys en koerantberigte as bewysstukke ingedien, waarin sy onder meer gesê het die uitspraak is “iets wat deur 'n ander menslike wese gemaak is” en dat haar siening heeltemal hiervan verskil asook dat “hiérdie geensins nie die einde van die saak is nie.”

Hy het beweer dat hierdie aan minagting van die hof grens. “Ek sê nie iemand moet vir hul beskouiings gestraf word nie, maar slegs dat berou nie as versagtende omstandighede kan dien nie,” het Marondedze gesê.

Namandje het ook pleidooie gelewer dat daar nie tydens vonnisoplegging van haar “'n voorbeeld gemaak moet word nie” en dat regter Christie Lieben­berg nie sy goeie oordeel deur openbare menings moet laat beïnvloed nie, maar haar toepaslik, regverdig en menslik straf - alleenlik volgens haar oor­tredings.

“Toe sy aan korrupsie skuldig bevind is, het sy onmiddelik gely omdat daar nou 'n stigma aan haar gekleef het en haar bedanking beteken het dat haar politieke loopbaan verby is.

“As dit by politici kom, moet ons verstaan dat hul nederlaag in die openbaar plaasvind. Alles wat hulle doen, is publiek,” het hy gesê en ook bygevoeg dat haar oortreding meer sosiaal as gewelddadig van aard is.

Marondedze het egter gesê 'n persoon se status kan nie deur die hof in aanmerking gebring word wanneer dit by vonnisoplegging kom nie omdat almal gelyk is voor die hof. “Neem die gemeenskap se belange in ag met die vonnisoplegging,” het hy gesê en later ook: “Hierdie is 'n goeie geleentheid om 'n voorbeeld te maak en mense te wys dat die regering nie vir persoonlike gewin bedryf kan word nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!