Katrina pleit onskuldig

Denver Kisting
Denver Kisting - Die oudgoewerneur van die Hardapstreek, me. Katrina Hanse-Himarwa, het gisteroggend onskuldig gepleit op 'n klag van korrupsie.

Haar verhoor het gister in die Windhoekse hoërhof voor regter Christie Liebenberg afgeskop.

Toe sy om 10:10 in die beskuldigdebank in dié hof inskuif, was sy geklee in 'n wit rok met swart spikkels, 'n wit kopdoek en swart hofskoene.

Sy het ook 'n wit serp, ter her­denking van die Nama-held Hendrik Witbooi, om haar skouers gedrapeer gehad.

Hanse-Himarwa is intussen bevorder tot die minister van onderwys, kuns en kultuur.

Die staat beweer sy het tydens haar ampstermyn as politieke baas van Hardap die name van twee begunstigdes, wat in Desember 2014 in aanmerking sou kom vir huisies onder die massa­behuisingskema, laat afskuif op 'n lys wat deur die Mariental-­munisipaliteit saamgestel is.

Hulle name is glo vervang met twee ander name, dié van 'n niggie en 'n skoonsuster van Hanse-Himarwa, beweer die staat voorts.

'GEPAAI'

Die twee mense wie se name geskuif is, is glo gepaai met die nuus dat hulle tydens 'n volgende ronde hul dakke oor hul koppe sou kry.

Dít kom nadat hulle reeds vroeër kontrakte met die regering gesluit het, omdat hulle geoormerk was as deel van die eerste groep van 19 mense wat in Desember 2014 huise sou kry.

Hanse-Himarwa het gister­oggend vir regter Liebenberg gesê sy verstaan die klag teen haar en dat sy onskuldig pleit.

Mnr. Sisa Namandje, haar prokureur, het toe namens haar 'n omvattende pleitverduideliking aan die hof voorgelees.

Onder meer, lui dié verklaring, was daar ten tye van die beweerde voorval slegs 'n paar geskrewe riglyne oor hoe die massabehuisingskema sou werk.

Hiernaas is die dossier van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) vrot van botsende bewerings, het Namandje gesê.

Die staat is gister deur me. Constance Moyo en mnr. Salomon Kanyemba verteenwoordig.

Kanyemba het eerste vir mnr. Daniel Nghi­dinwa, die permanente sekretaris (PS) van stedelike en landelike ontwikkeling na die getuiebank geroep.

Hy hou sedert Julie 2014 die fort as rekenpligtige beampte van daardie ministerie wat toe as die ministerie van plaaslike en streekregering en behuising bekend gestaan het.

Volgens hom kom hy en Hanse-Himarwa al 'n lang pad aan.

Voor die 19 huise in daardie Desember aan hul nuwe eienaars oorhandig is, is 'n span amptenare na Mariental gestuur om onder meer seker te maak alles is pluis met die lys waarvolgens huise toegeken word, het Nghidinwa gesê.

Hiernaas was die span ook gemoeid met die logistieke reëlings rondom die oorhandigingseremonie, het hy gesê.

Oor die riglyne vir toekenning van huise sê Nghidinwa 'n lys word vereis saam met kriteria oor wie in aanmerking mag kom vir 'n huis. Die huise word op 'n “first come, first served”-grondslag aan arm Nami­biërs toegeken, het hy gesê.

Nghidinwa het deurgaans benadruk die riglyne skryf voor dat die proses regverdig en deursigtig moet wees.

Tydens hul besoek het die span op 'n lys name afgekom met geen aanduiding van wanneer dié mense aansoek gedoen het nie.

Munisipale amptenare, onder wie se toesig die lys saamgestel word, het toe gesê die rede was dat daardie mense almal op een dag aansoek gedoen het.

KOMMER

Die dag voor die seremoniële oorhandigingspartytjie in die hoogsomer van 2014 het Nghidinwa 'n oproep gekry waartydens kommer uitgespreek is daaroor dat Hanse-Himarwa glo haar ongelukkigheid te kenne gegee het met die samestelling van die lys, het Nghidinwa gister getuig.

Dit was mnr. Merrow Thaniseb, die adjunkdirekteur van behuising, wat hom bekommerd gebel het, het Nghidinwa gesê.

Thaniseb het aan die spits gestaan van die ministeriële afvaardiging.

Hy wat Nghidinwa is, was toe ook bekommerd en het dié kommer met die destydse adjunkminister, me. Priscilla Boois, telefonies gedeel.

Sy was reeds op Mariental waar sy die volgende dag die verrigtinge sou waarneem.

Nghidinwa se kommer het uiteindelik daartoe gelei dat hy self vroeg daardie oggend Mariental toe gery het sodat hy en Boois 'n vergadering met Hanse-­Himarwa oor die kwessie kon hê vóór die huisies aan die nuwe eienaars oorhandig sou word.

Tydens dié vergadering het Hanse-­Himarwa glo aangevoer die plaaslike owerheid het haar nie geken in die manier hoe die massabehuisingsprojek in die streek in werking gestel word nie.

Volgens Nghidinwa is die lys van ­begunstigdes, van die 19 wat daardie dag huiseienaars sou word, “op versoek van die beskuldigde” aangepas.

Hanse-Himarwa het glo beweer die twee wie se name opgeskuif is, was gestremde mense uit die streek.

Tydens kruisondervraging het Namandje­ groot gewag gemaak daarvan dat Hanse-Himarwa, as goewerneur, nie die mag gehad het om met 'n lys van name te peuter nie. Sy sou uiteraard oor die lys kommentaar mag lewer as sy sou wou, het Namandje­ gesê. Mnr. Cassius Ndisiro, 'n rekenmeester in die ministerie, was die tweede staatsgetuie.

Die verhoor duur vanoggend voort.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!