Katrina se toekoms duister

Die tyd sal leer of sy uit die tuig sal tree, sê ’n minister wat gister aan korrupsie skuldig bevind is.
Denver Kisting
Denver Kisting – Teen gistermiddag was pres. Hage Geingob nog stil oor een van sy kabinetsministers wat aan korrupsie skuldig bevind is.

Katrina Hanse-Himarwa, die minister van onderwys, kuns en kultuur, sê egter sy stem glad saam met regter Christie Liebenberg se bevinding nie.

Om 12:05 gister het Liebenberg in ’n geskiedkundige stap vir Hanse-Himarwa aan korrupsie skuldig bevind.

Hof B by die Windhoek-hoërhof het uit sy nate gebars van joernaliste, familie en ondersteuners van die minister toe die uitspraak voorgelees is.

Liebenberg het om 10:17 met sy uitspraak begin en was bykans twee ure later eers klaar.

Ná afloop van die verrigtinge het die oudgoewerneur van die Hardapstreek aan joernaliste gesê: “My siening verskil heeltemal met dié van die regter.”

Op ’n vraag of sy teen haar skuldigbevinding sal appelleer, het sy gesê: “Vir seker; dié is nie die einde nie.”

Sy het toegegee gister se skuldigbevinding sal nie haar politieke loopbaan onaangeraak laat nie. “Dit is vanselfsprekend dat dit ’n impak op jou politieke loopbaan het.”

Hanse-Himarwa wou nie sê of sy as kabinetsminister sal bedank nie. “Kom ons hoor wat die weg vorentoe is. Ek sal julle op die hoogte hou.”

Volgens haar moet sy eers met haar regspan beraadslaag.

Sy wou by van haar ondersteuners in die openbare galery weet hoekom hulle hartseer lyk.

Sondag het sy via WhatsApp aan Republikein gesê: “Ek is cool. Selfs al loop ek deur die vallei van (dood)skaduwee, sal ek nie vrees nie, want God is saam met my. In die lewe of in die dood, my God is met my.”

Speaker sê

Die speaker van die Nasionale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, het gistermiddag by navraag gesê hy wil eers die uitspraak bestudeer voor hy kommentaar lewer.

Hy sê hy was gisteroggend in vergaderings en kon derhalwe nie die hofverrigtinge volg nie. “Dit is belangrik dat ek myself inlig en na die weg vorentoe kyk.”

Boonop, het Katjavivi gesê, iemand wat aan ’n misdaad skuldig bevind is, kan appèl aanteken. Daarom meen hy dit is nie in dié stadium geskik om kommentaar te lewer nie.

Swapo, kabinetsekretaris sê nie

Me. Sophia Shaningwa, die sekretaris-generaal van Swapo, het gister gesê sy wil liefs nie kommentaar lewer nie.

“Ek is regtig baie ver van daardie storie. Ek dink nie ek sal in ’n beter (sic) posisie wees om kommentaar te lewer nie.”

Dr. George Simataa, die kabinetsekretaris, het nie op vrae gereageer nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!