Katrina skel skinderbekke
Die minister van onderwys, kuns en kultuur sê sy is gegrief oor aanlyn vyandigheid jeens haar.
Denver Kisting – Die eertydse goewerneur van die Hardapstreek, me. Katrina Hanse-Himarwa, het gister uitgevaar teen ’n beweerde herrie oor haar in die sosiale media.
Volgens haar is sosiale media “waarskynlik die merkwaardigste vordering in moderne kommunikasietegnologie”.
Mits dié ruimtes verantwoordelik aangewend word, kan dit ’n rewolusie teweeg bring wat kommunikasie en interaksie betref, meen die vuurvreterpolitikus wat tans die minister van onderwys, kuns en kultuur is.
“Die teendeel is egter ook waar. Sosiale media, sou dit onverantwoordelik aangewend word, kan skadeliker wees as al die gewone mediastelsels sáám – ’n goedkoop hulpmiddel vir vernietiging!” het sy gister uitgevaar in ’n WhatsApp-verklaring. Dit is kommerwekkend, sê sy, dat Namibië nie gespaar is van dié neiging nie.
Hanse-Himarwa sê sy is die laaste ruk veral bekommerd oor ’n vlaag sosialemediaplasings wat hul opwagting maak as nuusberigte, meningstukke en flitskaarte, en waarin daar ’n groot gewag gemaak word oor haar hofsaak.
Regter Christie Liebenberg lewer na verwagting op Maandag 8 Julie uitspraak in die Windhoekse hoërhof nadat Hanse-Himarwa voor hom in die beskuldigdebank was.
Sy staan in dié saak tereg op aanklag van korrupsie.
Die politikus sê omdat sy ’n openbare figuur is, het sy begrip daarvoor dat daar mense sal wees wat propagandapogings teen haar sal waag.
Eweneens, sê sy, kan sy dink daar is ondersteuners wat gunstige propaganda oor haar die lig laat sien.
Volgens haar is dit moeilik om hierdie plasings te keer veral omdat dit ’n uitdaging is om vas te stel wie daarvoor verantwoordelik is. “Maar ek moet die goedgesinde en vyandige skrywers waarsku dat my saak voor ’n bevoegde hof gedien het en dat uitspraak steeds gelewer moet word.”
Na haar mening is dit uiters kinderagtig en voortydig om ’n hangende hofsaak te bespreek “omdat sodanige besprekings druk op die voorsittende beampte mag uitoefen”.
Hanse-Himarwa doen voorts ’n beroep op vriend én vyand om die onafhanklikheid van die regbank te eerbiedig en die gereg toe te laat om sy beloop te neem.
Sy sê sy is terselfdertyd bekommerd oor mense wat volgens haar met opset onmin en verdeling binne Swapo saai.
Volgens haar teiken dié mense veral die hegte verhouding tussen stigterspres. Sam Nujoma, sy opvolger, oudpres. Hifikepunye Pohamba, en pres. Hage Geingob.
Die ergste van alles is dié mense gebruik haar naam om die wig tussen die leiers in te dryf, sê sy. “Dit is gemeen en onaanvaarbaar.”
Die voorreg was haar beskore om van ’n jong ouderdom af met al drie die leiers te werk. Hul wysheid en kennis het haar wêreld, veral haar ontwikkeling as ’n leier, beduidend verruim, sê sy. “Die ongegronde en lasterlike aantygings teen hulle uit alle oorde is weersinwekkend en is om van naar te word. Ek sal dit waardeer as my naam nie gekoppel word aan enige van daardie onsmaaklike en gemene pogings nie,” sê sy.
Hanse-Himarwa sê sy is nóg desperaat nóg angstig en wag kalm op die uitsluitsel van haar hofsaak. “My saak is in ’n bevoegde hof aangehoor en ’n regverdige en eerlike uitspraak sal op 8 Julie – sowat ’n maand van nou af – gelewer word.”
Sy het onlangs toe Republikein haar om kommentaar genader het oor inligting dat die vervolgingsgesag glo twee nuwe sake van korrupsie teen haar oorweeg, gesê: “Nét twee? Vra hulle asseblief namens my om dit honderd te maak.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie