Katrina verwyder glo opposisie van lys
'n Senior PDM-lid het gister getuig sy is weens haar politieke verbintenis van 'n huislys verwyder.
Denver Kisting
Sy het ineengestort en dit het gevoel sy is onwelkom in haar eie land.
Volgens haar het die nuus haar onbedaarlik laat huil.
Dít was gister die getuienis van die Marientaller me. Regina Kuhlman oor haar reaksie toe sy hoor sy sou nie meer in Desember 2014 haar eie huisie onder die massabehuisingskema kry nie.
Kuhlman het gister aangevoer sy het vermoed haar naam is van die lys verwyder omdat sy 'n lid van 'n opposisieparty is.
Me. Katrina Hanse-Himarwa, destyds die goewerneur van die Hardapstreek, het glo onregmatig aan die lys laat peuter.
Hanse-Himarwa, die huidige minister van onderwys, kuns en kultuur, staan tans op een klag van korrupsie in die Windhoekse hoërhof tereg.
In daardie stadium was sy die distrikkoördineerder van die hedendaagse Popular Democratic Movement (PDM), wat toe as die DTA bekend gestaan het, het Kuhlman gister getuig.
Volgens haar het sy die eerste keer in 2004 onder die Saambou-projek om 'n huis aansoek gedoen.
In 2012 het sy weer aansoek gedoen – dié keer onder die massabehuisingskema.
Kuhlman het in Desember 2014 die blye tyding ontvang dat sy binne dae haar eie huis sou kry.
Sy het toe 'n kontrak by die Mariental-munisipaliteit onderteken vir die huis in die Aimablaagte-woonbuurt.
Die 19 nuwe huiseienaars, wat Kuhlman en mnr. Piet Fransman ingesluit het, sou 17 Desember 2014 die sleutels vir hul nuwe huise ontvang.
Daardie oggend is die tweetal weer na die munisipaliteit ontbied – dié slag met slegte nuus.
Volgens Kuhlman het mnr. Eduard Wambo, 'n raadslid, hulle meegedeel dat hulle nie meer huise sou ontvang nie omdat daar meer behoeftige mense geïdentifiseer is.
Volgens die staat is hulle name met twee van Hanse-Himarwa se familielede vervang.
Later, onder kruisondervraging van Hanse-Himarwa se prokureur, mnr. Sisa Namandje, het sy gesê Wambo het ook gesê die nuwe begunstigdes is gestrem. “Ek het vir Wambo gevra hoekom spesifiek ons twee? Miskien is dit omdat ons die opposisie is?”
Volgens haar het Wambo erken hy is bewus van gerugte in daardie verband wat op Mariental die ronde doen, maar dat dit onwaar is.
Sy het voorts getuig sy en Fransman moes toe nuwe kontrakte sluit vir halfgeboude huise.
Hulle het in 2015 ingetrek nadat die huise voltooi is.
Kuhlman het gister beweer Wambo het hulle ingelig Hanse-Himarwa was vir die besluit verantwoordelik. “Ek het baie, baie seer gevoel. Ek het gehuil omdat ek die huis verwag het. Ek het nie soos 'n Namibiër gevoel nie.”
Sy het onder kruisondervraging gesê sy het nie 'n behuisingstoelaag ontvang voordat sy 'n huis bekom het nie.
Volgens haar het die uitvoerende hoof van die Mariental-munisipaliteit, mnr. Paul Nghiwilepo, ook sy skok uitgespreek oor Hanse-Himarwa se beweerde inmengery.
Tydens Nghiwilepo se getuienis laat verlede jaar het hy gesê hy was in Desember 2014 by toe die minister die bevel gegee het dat die lys verander moet word.
Nghiwilepo het toe getuig Hanse-Himarwa was baie spesifiek oor watter name afgeskuif moet word op die gewraakte lys en watter twee name opgeskuif moet word.
Die staat word deur adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze en mnr. Salomon Kanyemba verteenwoordig.
Regter Christie Liebenberg is op die bank.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie