Katrina was reg vir die tronk
'n Video waarin die oud- onderwysminister haar hart op die mou dra, maak tans opslae in die sosiale media.
Denver Kisting
Katrina Hanse-Himarwa was reg vir die tronk.
So sê dié oudminister van onderwys, kuns en kultuur in 'n 29 sekondes lange video wat op sosialemediaplatforms soos 'n veldbrand versprei.
Volgens die vuurvreter het dit verlede Woensdagoggend in 'n stadium tydens die vonnisoplegging vir haar geklink of regter Christie Liebenberg haar weens korrupsie tronk toe sou stuur.
Ofskoon dít nie haar hartsbegeerte was nie, het sy tot God gebid en gevra dat sy wil geskied, vertel sy.
En, sê sy terwyl sy nog in dieselfde wit uitrusting geklee is, as dit die Here se wil sou wees dat sy agter tralies tyd moet deurbring, sou sy dit omarm het.
Haar toesprakie word luid deur haar ondersteuners in die agtergrond ontvang.
Intussen het haar prokureur, mnr. Sisa Namandje, Vrydag by navraag gesê: “Ons het nooit aangekondig of daar een ('n appèl) sal wees of nie. So, ek weet nie waar die vraag vandaan kom nie (oor 'n moontlike aansoek om verlof om te appelleer).”
Hy het geswyg toe Republikein voorts wou weet of hulle wel appèlplanne in die mou voer.
Adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze het gesê die besluit berus by die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, oor of die staat appèl teen Hanse-Himarwa se vonnis gaan aanteken.
Imalwa se kantoor het bevestig hulle het die koerant se navrae in die verband ontvang.
Regter Liebenberg het Hanse-Himarwa met N$50 000 beboet, en alternatiewelik twee jaar gevangenisstraf en 'n aanvullende eenjaartronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is mits sy nie in daardie tydperk aan 'n soortgelyke misdaad skuldig bevind word nie.
Hanse-Himarwa het op 8 Julie die eerste dienende kabinetsminister in Namibië geword om aan korrupsie skuldig bevind te word.
Sy het die volgende dag bedank as minister van onderwys, kuns en kultuur.
Pres. Hage Geingob het intussen vir amb. Martin Andjaba, die minister gelas met presidensiële aangeleenthede, aangestel om ook as onderwysminister waar te neem.
Die hof het bevind Hanse-Himarwa het in Desember 2014 haar mag as goewerneur van die Hardapstreek misbruik om ongemagtigde wysigings aan 'n lys van begunstigdes onder die massabehuisingskema aan te bring.
[email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie