Kattekwaad lei tot oproer

Die onlustepolisie het gister traangas gebruik om 'n woedende skare uiteen te jaag.
Tanja Bause
Mariselle Stofberg - Chaos het gisteroggend in die Okuryangava-woonbuurt in die hoofstad losgebars toe 'n inwoner na bewering 'n kind, wat glo sy huis se venster uitgegooi het, gevange geneem het.

Die onlustepolisie het hul hande vol gehad om 'n skare van meer as 'n 1 000 woedende inwoners in Monte Christoweg te kalmeer.

Dít het gevolg nadat die gemeenskap die huis omsingel en met klippe bestook het.

Gerugte het die ronde gedoen dat die eienaar van dié huis ’n seun ontvoer het nadat hy en twee van sy vriende glo een van sy vensters met klippe stukkend gegooi het.

Die gemeenskap was hewig ontsteld oor gerugte dat die eienaar van die huis ’n belangrike lid van die polisie is wat kinders ontvoer, molesteer en doodmaak.

Adj. komm. Edwin Kanguatjivi, die Namibiese polisie se woordvoerder, het bevestig die bogenoemde is slegs gerugte met geen ondersteunende feite nie.

“Die eienaar van die huis is nie ’n polisielid nie," het hy beklemtoon.

"Gerugte is versprei dat die eienaar per helikopter van die toneel verwyder is, wat ook nie waar is nie."

Kanguatjivi sê die helikopter was slegs daar vir bystand indien dit nodig sou wees, omdat die skare buite beheer was.

"Dit is aangevuur deur gerugte wat soos ’n veldbrand versprei het.”

Kanguatjivi het bevestig hy het self met die betrokke eienaar gepraat om vas te stel wat gebeur het.

“Hy het aan my gesê hy het na buite gegaan omdat hy gehoor het hoe sy huis met klippe bestook word. Toe hy buite kom, het hy gesien hoe die kinders van die huis af weghardloop.

"Hy het een van die kinders gegryp en na binne geneem om uit te vind wie die kind se ouers is sodat hy hom aan hulle kan terugbesorg om die skade aan die venster te bespreek. Die kind het erken hy het klippe gegooi omdat sy vriende vir hom gesê het om dit te doen. Die kind is nie in die proses seergemaak of mishandel nie.”

Volgens me. Victoria Kativa, ’n gemeenskapslid, het die seun se twee vriende laat spaander toe die huiseienaar hom gegryp het. Sy sê die seun is later wel laat gaan.

Die skare het groot klippe op huis se dak begin gooi. Een van die klippe wat ’n lid van die onlustepolisie se skild getref het, het die polisie genoodsaak om die skare met traangas uiteen te jaag.

Republikein kan bevestig die polisie het die traangas nie gebruik alvorens die skare die polisie met klippe bestook het nie.

Die polisie het die skare sonder geweld probeer verjaag.

Volgens Kanguatjivi is gerugte dat gemeenskapslede deur die polisie mishandel is, nie waar nie.

Hy het bygevoeg van die polisielede is in die proses beseer.

‘KINDERS VANTEVORE ONTVOER’

Die gemeenskap se woede het voortgespruit uit gerugte dat die huis se eienaar kinders al vantevore ontvoer het.

Kativa beweer dit is nie die eerste keer dat dié soort voorval plaasvind nie.

“Dit is die tweede voorval wat ons met die eienaar van dié huis beleef, wat kinders vat omdat hulle die vensters met klippe stukkend gooi, maar die venster wat blykbaar stukkend gegooi is, is nie eers sigbaar as jy langs die huis met sy hoë mure staan nie. Hoe is dit moontlik dat ’n kind dit sal regkry om die venster raak te gooi?” vra sy.

Katvia sê die man het in Junie vanjaar ’n 12-jarige seun in sy huis ingevat nadat dieselfde venster na bewering gebreek is.

“Dit is baie vreemd dat dit dieselfde venster is wat die kinders vermoedelik nou weer gebreek het. Die eienaar het my kind gevat, en toe ek gaan vra hulle moet my kind teruggee, het hy gesê daar was geen kinders in die huis nie. Dít terwyl ek my kind in die huis kon hoor huil. Die eienaar het daarop aangedring dat ek eers N$700 moet betaal om die venster te herstel voor ek my kind kan terugkry,” het die 12-jarige se pa gesê.

Kanguatjivi het bevestig hy het met die 12-jarige se ouers gepraat, wat hom oor die betrokke voorval ingelig het. Die polisie gaan die gerugte ondersoek en waar dit ontstaan het, het hy gesê.

“Die skare het dit vir die polisie baie moeilik gemaak om hul werk te doen, omdat die mense en voertuie die pad versper het. Die gerugte wat so versprei is, het die skare net aangehits. Dit het die hele voorval vererger,” sê Kanguatjivi.

Die polisie het ook ’n verklaring uitgereik waarin die gemeenskap ernstig gewaarsku word om nie lukrake gerugte op sosiale media te versprei nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!