Kautondokwa wil Kanat in Kastana kasty
As die Namibiese middelgewig hierdie waterskeidende geveg oorleef, is hy weer terug in die topgeselskap.
Tielman van Lill
Walter Kautondokwa (The Executioner) sal op 26 Oktober in Kazakstan teen die 34-jarige Chinees gebore Kanat Islam in die kryt klim.
Kautondokwa, uit die MTC Nestor Sunshine Tobias-boksakademie, en Islam is beide vegters wat onder die toptien middelgewigte op die Wêreldboksorganisasie (WBO) se gesaghebbende wêreldranglys gereken word. Die Laksman (tiende) bevind hom net 'n kortkop agter Islam, wat tans as die agtste beste deur die WBO gereken word.
Islam (26-0, 21 uitklophoue) word vandag 35 jaar oud. Hy is op 13 September 1984 in Xinjiang gebore en het sy amateurdae in 1997 ingelui. Voor sy gelddebuut in 2012 het Islam as bekroonde amateur bronsmedaljes by die 2004 en 2008 Olimpiese Speles, asook by die 2006 Asiatiese Spele in Doha en die 2007 wêreldkampioenskap in Chicago gebuit.
Islam, met die alias QazaQ, woon en oefen deesdae in Miami. Sy laaste geveg was op 5 Julie vanjaar teen Julio De Jesus in Astana vir die vakante WBO internasionale titel, wat hy met 'n uitklophou beklink het.
Die lenige 34-jarige Kautondokwa (1.88 m), wat langer as sy opponent (1.78) is, se laaste geveg was op 10 Mei in Harare toe Simeon Tcheta van Malawi sy 17de uitklopslagoffer geword het. Dit was die Laksman se eerste geveg nadat hy verlede jaar op 10 Oktober deur die Amerikaner Demetrius Andrade in Boston om die vakante WBO-wêreldtitel oor 12 rondes met punte oorskadu is.
Die ambisieuse Kautondokwa daag Islam vir sy kraaknuwe WBO internasionale gordel uit wat hy op 5 Julie gewen het.
Die Laksman (89.47% uitklophoue) het verlede jaar op kort kennisgewing as plaasvervanger die titelgeveg in Amerika aanvaar. Die relatief onervare Namibiër is die eerste keer in sy loopbaan deur Andrade platgeslaan, maar hy was so taai soos 'n ratel en het die 12 rondes voltooi.
Teen Islam sal hy op sy beste moet wees, want die tuisvegter se ewe uitkloprekord (80.77%) getuig van die gevaar in sy vuiste.
Nestor Tobias, voorsitter van die MTC Sunshine-boksakademie, sê 2019 is reeds 'n goeie oesjaar.
“Twee van ons boksers wat op wêreldranglyste verskyn, het teen gerekende opponente die handskoene aangetrek. Op 20 April het Jeremiah Nakathila, as houer van die WBO Afrika-superveergewigtitel, vir Zoltan Kovacs van Hongarye in Windhoek met 'n tegniese uitklophou verslaan.
“Die tweede grote was verlede maand toe Mikka Shonena sy WBO Afrika-weltergewigtitel suksesvol met 'n eenparige puntebeslissing teen Youli Dong van China op Ongwediva behou het.
“Nou is dit Kautondokwa se beurt om sy linkerhaak te laat praat. Ons is terug op die internasionale verhoog met 'n moeilike geveg in die vreemde, maar Walter is 'n yster en sal Namibië opnuut trots maak. Hierdie geveg is van kardinale belang, want as hy wen, is hy sonder twyfel weer onder die room van die wêreld se middelgewigte,” het Tobias gesê.
DEMOLISHER REIS NA RUSLAND
Lukas Ndafoluma (The Demolisher) werk intussen hard om op 19 September in Moskou teen die gewese WBO Europese supermiddelgewigkampioen, Apti “The Tiger” Ustarkhanov deur die toue te klim.
Ndafoluma wil sake regstel nadat hyMaartmaand in Kazakstan teen Aidos Yerbossynuly met 'n eenparige puntebeslissing verloor het.
Die Namibiër het in Mei reeds teen Liberty Muwani gewen en is nou reg om op die wenpad te bly en 'n WBO-titel agter sy naam te voeg. Dit is die tweede keer dat Ndafoluma in 'n effens hoër gewigsklas veg.
“The Demolisher” het 'n indrukwekkende vertoningslys van 16 oorwinnings en net twee nederlae.
Sy 29-jarige Russiese teenstander, 'n natuurlike supermiddelgewig met die bynaam “The Tiger”, se rekord staan op 16-3 (vier uitklophoue) en die feit dat hy tevore die WBO Europese kampioen was en op tuisgrond veg, is betekenisvol.
“Ons is goed voorbereid op die geveg en ek kan almal verseker dat Ndafoluma gereed is om die titel teen Ustarkhanov te verower. Ons weet dit sal nie maklik wees nie, maar ons gaan daarheen om te wen,” sê Kriata Kamanya, promotor van MTC Salute-boksstal.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie