Kenner van familieondernemings kom lewer praatjie
Kenner van familieondernemings kom lewer praatjie

Kenner van familieondernemings kom lewer praatjie

Ronelle Rademeyer
Een van Suid-Afrika se voorste kenners van familieondernemings lewer Vrydagoggend op uitnodiging van die kultuurorganisasie, Netwerk, ‘n ontbytpraatjie by Am Weinberg Hotel in Windhoek.
Prof. Elmarie Venter sal riglyne gee vir die bestuur van só ‘n sakeonderneming, met spesifieke klem op die opvolg- en bestuursvraagstukke in familieondernemings. Venter is ‘n veelbekroonde akademikus wat gereeld in vaktydskrifte publiseer.
Sy is 'n dosent in die departement ondernemingsbestuur aan die Nelson Mandela Universiteit, dieselfde posisie wat sy vir sewe jaar by die Universiteit Stellenbosch beklee het. Sy is ook 'n stigterslid van die Nelson Mandela Universiteit se Familiebesigheidseenheid (FBU), die eerste en enigste navorsingseenheid in sy soort in Afrika.
Die eenheid het 'n strategiese, groei-georiënteerde benadering ten opsigte van familiebesighede en streef daarna om sakefamilies by te staan om 'n deurlopende nalatenskap van entrepreneurskap te skep. Die FBU is ook die enigste Afrika-filiaal van die internasionale projek beekend as “Successful Transgenerational Entrepreneurship Practices (STEP)”.
Netwerk, gestig in 2006, bied die afgelope jaar gereeld etes aan om die organisasie aan die Afrikaanse sakesektor bekend te stel, en onderlinge samewerking en vestiging van netwerke te verseker. Aktuele sake kom onder die loep om waarde toe te voeg tot ondernemings in Namibië.
Die tweede spreker Vrydagoggend is me. Andrea Benkenstein, ? senior bestuurder by PwC wat spesialiseer in familieondernemings. Plaaslike personeel van PwC sal beskikbaar wees om navrae te hanteer.
Die geleentheid begin om 07:30 en by Am Weinberg Hotel sal tot 09:00 duur. Kaartjies is beskikbaar teen N$300 per persoon of N$3 000 per tafel van 10 by www.today.com.na, die PayToday app of Airtime City-masjiene. Kontak [email protected] vir enige verdere navrae.
Vir ? afspraak met PwC na afloop van die geleentheid, kontak [email protected]. Die geleentheid word geborg deur PwC, Town Lodge Windhoek en Kanaal7.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer