Kenner verduidelik waterdilemma
Kenner verduidelik waterdilemma

Kenner verduidelik waterdilemma

Die watertekort in Sentraal-­Namibië se damme noodsaak die myn van ondergrondse water, wat nie volhoubaar is nie.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Selfs mét waterbesparings van 15% en die onvolhoubare “myn” van ondergrondse waterbronne, het Windhoek slegs genoeg water om twee reënseisoene te oorbrug.

Dit beteken die Von Bachdam kan teen Mei 2021 droogloop, oftewel dooieberging bereik, terwyl die ­Swakoppoortdam, wat Windhoek ook van water voorsien, dié punt 'n maand later kan bereik.

Dit is indien damme in Sentraal-Namibië geen invloei van water tydens die komende reënseisoene het nie.

NamWater se bestuurder van hidro­logie, mnr. André Mostert, het vroeër vandeesweek syfers tydens 'n ­openbare forum vir rolspelers uit die water­sektor bekend gemaak, wat deur die Namibië Wetenskaplike Vereniging aangebied is.

Hy het gesê die stad sal drie reënseisoene kan oorbrug indien Windhoekers 30% water bespaar, weer eens saam met die gebruik van ondergrondse water uit die Windhoek-akwifer, wat nie volhoubaar is nie, en bronne in die noorde van die land.

“Dit beteken beide ­bogenoemde damme se droogloopdatums kan met nog 'n jaar uitgestel word,” het hy gesê.

Windhoekers het hul waterverbruik van 28 Mm³ in 2016 tot 21 Mm³ verminder, maar die munisipaliteit hoop dit kan verder tot 14,8 Mm³ per jaar verlaag word.



ONDERGRONDSE WATER GEMYN

Volgens NamWater se damverslag van 20 Mei is die Omatakodam tans leeg, terwyl die Von Bachdam 43,4% vol is en die Swakoppoortdam op 13,3% staan.

Ondergrondse waterbronne moet dus tans noodgedwonge op vlakke benut word wat nie volhoubaar is nie.

Mostert het gesê dit behels dat daar tans sowat 9,5 Mm³/a (miljoen kubieke meter per jaar) uit die Windhoek-­akwifer onttrek word. Die ­herwinning van rioolwater be­sorg tans sowat 7 Mm³/a water aan Windhoek.

Terselfdertyd lewer die Goblenz-boorgatskema in die Noorde 0,2 Mm³/a water aan die sentrale water­stelsel, terwyl Berg Aukas-myn 4,6 Mm³/a lewer en die Kombat-myn 6,3 Mm³/a. Die Berg Aukas-boorgat lewer 0,25 Mm³/a, terwyl die Karst-boorgat 1,4 Mm³/a gee.

“Indien Sentraal-Namibië se water­situasie nie intussen verbeter nie, sal die onttrekking van water uit van hierdie bronne teen die einde van die 2019-'20-reënseisoen verder verhoog moet word,” het Mostert gesê.

“Dit sal behels dat 10,21 Mm³/a water teen April of Mei volgende jaar uit die Windhoek-akwifer gepomp word, terwyl die onttrekking van water by die Berg Aukas-myn tot 8,1 Mm³/a verhoog sal word.”

Mostert het verduidelik die waternetwerk vir Sentraal-Namibië sluit noodbronne naby Grootfontein soos die Berg Aukas- en Kombat-myne in, asook die Karstland- en Goblenz-boorgatskemas.

Water van dié bronne af word na die Waterberg-pyplynskema asook via die kanaal na die Omatakodam versprei.

Hiervandaan word dit na die Von Bachdam oorgeplaas, terwyl die Swakoppoortdam, die derde dam in dié stelsel, se water na die Von Bachdam oorgeplaas word. Laasgenoemde dam voorsien ook die Navachab-myn en Karibib van water.

Nog plekke wat water vanuit hierdie stelsel onttrek is Windhoek, Okahandja, aanlyn gebruikers van die Waterbergkanaal, die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, asook aanlyn gebruikers tussen die Von Bachdam en Windhoek.

Windhoek is by verre die grootste watergebruiker in dié stelsel.



KOMMERWEKKEND

Mostert het gesê tans word die Windhoek-akwifer nie kunsmatig hervul nie. Hy sê die nievolhoubare gebruik van ondergrondse water is kommerwekkend.

“Die Windhoek-akwifer word gemoduleer met 'n watervolume van 41 Mm3. Na raming is dit tans 80% vol.

“Op grond hiervan en die feit dat water teen 'n tempo van 10,21 Mm3 per jaar van April of Mei volgende jaar af onttrek kan word, verwag ons die akwifer sal maksimum drie jaar lank water kan verskaf,” het Mostert verduidelik.

Hy het gesê inligting word tans ­ingesamel en ontleed om vas te stel hoe die akwifer op die strawwe ­onttrekking reageer en hoe lank daarmee volgehou kan word.

“Daar moet egter kennis geneem word dat die akwifer jare se rus sal benodig vir watervlakke om te herstel,” het Mostert gesê.

Hy het bygevoeg baie ­ernstige ­waterbeperkings sal geld indien ­sentrale damme opdroog.

“Intussen sal die Windhoekse ­munisipaliteit infrastruktuur ontwikkel sodat meer water uit die Windhoek-akwifer onttrek en behandel kan word. Dit behoort teen April of Mei 2020 voltooi te wees.

“NamWater sal ook daarna kyk om die Abenab-akwifer vir gebruik te ­ontwikkel,” het Mostert gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!