Kenners praat oor landbouvooruitsigte vir 2016

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - As Namibië vanjaar weer ‘n swak reënseisoen het, sal dit nie net die reeds struikelende landboubedryf ‘n verdere nekslag toedien nie, maar kan waterperkings in Windhoek verreikende ekonomiese gevolge inhou.
Die hoofnavorser van IJG Securities, mnr. Rowland Brown, sê vanuit ‘n bruto binnelandse produk- (BBP) en uitsetberekiningsperspektief, sal swak reëns tot verswakte uitsette in die landboubedryf lei wat ‘n verlaagde groei en sefs ‘n inkrimping kan veroorsaak.
“Boonop kan insetkoste vir die landboubedryf steeds verhoog, wat mag veroorsaak dat winste vir boere drasties verminder en selfs verdwyn en netto waardetoevoeging kan laag of selfs negatief wees,” waarsku Brown.
“Die sosioëkonomiese impak van nog ‘n jaar van droogte kan ernstig wees. Verskeie Namibiërs is afhanklik van bestaansboerderye en dus baie kwesbaar vir droogte. Die regering sal dus groot in maatskaplike programme vir die kwesbaarstes moet belê om ‘n humanitêre krisis te voorkom.”
Mnr. Jan-Hendrik Conradie, navorsingsontleder by IJG Securities, sê as gevolg van die droë natuur van Namibië, is reën die bepalende faktor van die sukses van oeste en veeboerderye in die land.
“Die land het swak reëns oor die afgelope drie jaar ervaar, met die grootste dele van die land wat sedert 2013 ondergemiddelde reën gehad het.
“Die swak toestand van die veld en hoë voerkoste as gevolg van min reën, het produsente gedwing om hul aantal vee te verminder, wat op die beurt veroorsaak het dat veilingpryse en produsentepryse val,” het Conradie gesê.


Gevolge oor volgende drie jaar gevoel
Inligting oor beeste wys ‘n groot aantal wat oor die afgelope drie jaar bemark is, is lewendig uitgevoer, eerder as plaaslik verwerk. Conradie meen die plaaslike bedryf sal nog vir minstens drie jaar die gevolge voel van soveel diere wat uitgevoer is omdat die nasionale kudde tyd nodig het om te herstel.
Hy sê tollies wat in 2016 slaggereed sou wees, is in so ’n mate uitgevoer dat ‘n beperkte hoeveelheid slagdiere volgende jaar beskikbaar sal wees. Boonop sou die speenkalwers wat uitgevoer is, tollies in 2016 gewees het en in 2017 as slagosse aangebied kon word.
“Dit beteken dat ‘n lae getal slagdiere in 2017 beskikbaar wees. Selfs 2018 sal ‘n uitdaging wees omdat die groot hoeveelheid koeie wat in 2017 moes kalf, nou lewendig uitgevoer is. Dit beteken minder kalwers word plaaslik in 2016 gebore, wat ‘n kettingreaksie in die verskaffing van slagdiere tot in 2018 sal veroorsaak.”
Conradie meen produsente sal nou hul kuddes weer begin aanvul nadat die droogte hul gedwing het om dit kleiner te maak.


Graanbedryf
“Witmielies is ‘n stapelgraan in Namibië en word ekslusief vir menslike gebruik gekweek. Dieselfde hoeveelheid graan word plaaslik op droëland en onder besproeiing gekweek, maar in goeie reënjare kan eersgenoemde selfs meer graan lewer.
“Terselfdertyd word koring slegs onder besproeiing in die winter gekweek. Omdat Namibië reën in die somer kry, word dié oeste nie soveel deur die reën as mielies en mahangu geraak nie,” sê Conradie.
Hy sê ‘n goeie jaar lê vir die graanbedryf voor, mits dit reën. “Die mieliebedryf in Namibië staar egter ‘n uitdaging in die gesig, want versekeringsmaatskappye is huiwerig om die plaaslike graanbedryf te verseker as gevolg van die gereelde verliese en droogte.”


Waterperkings sal ekonomie raak
Conradie sê swak reënneerslae oor die afgelope drie jaar het tot swak invloei in damme gelei wat die sentrale dele van Namibië van water voorsien. Dit word voorspel dat indien dié damme nie water kry nie, dit teen September 2016 heeltemal droog sal wees.
“As die damme nie genoeg waterinvloei in die 2015-2016-reënseisoen kry nie, sal ernstige waterperkings ingestel moet word. ‘n Watertekort of -beperkings in Windhoek sal ekonomiese aktiwiteite in Namibië direk raak. Bedrywe soos suiwel, vleisverwerkers en hoenderbedrywe wat van water afhanklik is, sal ernstig ingeperk word,” sê Conradie.
Hy sê egter ook die hoenderbedryf geniet tans nog beskerming as gevolg van beperkinge op die invoere van hoenderprodukte, maar dat die geval nie dieselfde vir die suiwelbedryf is nie. Terselfdertyd ervaar Suid-Afrika ‘n lae melkproduksie as gevolg van probleme met die verskaffing van elektrisiteit en ook lae watervlakke.


Uitdagings vir landbou
Mnr. Daniel Motinga, voormalige hoof van navorsing by FNB Namibia en nou ‘n afgetrede boer, sê die huidige droogte is in almal se gedagtes en hou ernstige gevolge vir die nabye en mediumtermynvooruitskouing in.
“Die El Niño-risiko is krities en my hoop is dat ons vanjaar goeie reën sal ontvang. Die omgewing vir groei in die sektor is, om die minste te sê, uitdagend. Ek verwag dat ons vanjaar in die veebedryf niks meer as ‘n groei van tussen 1% en 3% kan verwag nie,” sê Motinga.
“Die graanbedryf sal ‘n negatiewe groei vanjaar en moontlik ook volgende jaar ervaar – as dit nie genoeg reën nie.”
Motinga sê hy dink alle betrokkenes in die landboubedryf se waardeketting het geweet dat die goeie reënjare vanaf 1999 nie kon aanhou nie, maar terselfdertyd is die huidige droogtesiklus verwoestend op die moraal van die bedryf.
“Boere moet na ander sektore buite landbou diversifiseer om hul risiko’s te verskans. Om ‘n positiewe kontantvloei te handhaaf, bly ‘n uitdaging, gegewe die verhoging in die insetkoste van landbou. Toestande is moeilik, maar boere is vegters.”
Motinga sê oor die algemeen moet Namibiese boere met graan en vee begin boer wat aangepas is by die plaaslike klimaat en min onderhoud nodig het. Hy sê ook die stoetbedryf moet dié tipe genetika aan die kommersiële sektor beskikbaar stel.
“Dit is nodig dat ons oor geneties veranderde meganismes (GMO) en die gebruik van droogte weerstandige sade herbesin.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!