Kenners: Tito stel nie gerus oor landbougrond
Kenners: Tito stel nie gerus oor landbougrond

Kenners: Tito stel nie gerus oor landbougrond

Elvira Wood – Die suksesverhale in die herbouing van beleggersvertroue wat Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in sy mediumtermynbegrotingsrede genoem het, is belangrik, maar is nie genoeg vir die landbousektor nie.

“Die sentrale beleidskwessie nou is onteiening sonder vergoeding van landbou-eiendom, wat enige vordering op ander kwessies ongedaan laat,” sê Pietman Roos, hoof van korporatiewe sake en kommunikasie by Agri SA.

“Om vertroue te bou in die landbousektor is in werklikheid die grootste prioriteit.”

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, stem saam en sê die herverdeling van landbougrond sonder vergoeding sal die finale nekslag wees wat die land in baie groter werkloosheid, armoede en hongersnood sal laat verval.

“Die ANC-regering het nie meer ’n ander keuse gehad as om ook finaal terug te val op die onteiening van kommersiële landbougrond as die enigste oorblywende alternatief om hom nog ná die volgende verkiesing aan bewind te probeer hou nie, ten spyte daarvan dat dit die ekonomiese groei van die land verder sal vernietig.

Agri SA sê ondanks die kommer oor dié beleidstandpunt wat duidelik steeds nagevolg word, het Mboweni wel ook goeie nuus vir die sektor gehad.

Wat betref droogtehulp verwelkom Agri SA die R3,4 miljard wat toegeken is, met die meerderheid wat na die opknapping van waterinfrastruktuur gaan.

“Die voortslepende droogte vereis egter direkte hulp aan boere en landelike gemeenskappe om te verseker dat plase kan voortbestaan en om werksverliese te vermy,” sê Agri SA in ’n verklaring.

Hy verwelkom ook die herprioritisering van ondersteuning aan die Land Bank.

Ander kwessies waaroor Agri SA bekommerd is, sluit in:

· Die R27,4 miljard-tekort in belastinginkomste: Dit is van groot kommer en spreek boekdele oor hoe dringend die bestuurskwessies by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangepak moet word.

· Regeringsbesteding en waarborge: Die verbintenis om besteding by staatsondernemings in te kort is nodig, maar soortgelyke verklarings is al gedoen sonder enige tekens van ware vordering.

· Stygende staatskuld: Die erkenning dat die stygende loonrekening die regering se vermoë knou, is van uiterste belang, so ook die instruksie dat regeringsdepartemente salarisverhogings moet absorbeer. Dié punt is verreweg die grootste fiskale uitdaging en sal jare neem om op te los. — Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer