Kerina word Sondag begrawe
Kerina word Sondag begrawe

Kerina word Sondag begrawe

Sy staatsbegrafnis by die Okahandja Herero heldebegraafplaas sal volg op môre se gedenkdiens in die hoofstad.
Augetto Graig
Augetto Graig – Sondag begrawe Namibië die man wat die land sy naam gegee het, wanneer prof. Mburumba Kerina ’n staatsbegrafnis by die heldebegraafplaas in Okahandja sal ontvang.

Te midde die derde golf van die Covid-19-pandemie in Namibië sal slegs tien roubeklaers, afsonderlik van kinders, by die geleentheid toegelaat word. Môre word Kerina se gedenkdiens in die parlementstuine in die hoofstad gehou.

Die Namibiese volk en spesifiek burgers wat deel uitmaak van die verskillende Herero-sprekende stamme van die land, is in Junie swaar getref deur Covid-19. Die opperhoof van die Ovaherero, adv. Vekuii Rukoro, is op 18 Junie oorlede en net gister is nog ’n vooraanstaande hoofman en gewese adjunkminister, Kilus Nguvauva, oorlede weens verwante oorsake.

Nguvauva laat sy vrou Naomi Mbuto Nguvauva en sowat twintig kinders agter, volgens die Nguvauva Tradisionele Owerheid se woordvoerder mnr. Uazenga Othniel Ngahahe, wat geen verdere besonderhede oor die begrafnis of gedenkseremonie kon bevestig nie.

Begrafnisreëlings tussen die staat en die Ovaherero Tradisionele Owerheid en betrokke families word nie noodwendig spoedig afgehandel nie en moet verskeie standpunte in ag neem, wat in Rukoro se geval gelei het tot ’n uitsondering op die Covid-19-regulasie dat lyke binne sewe dae begrawe moet word.

Die opperhoof sal moontlik eers op 18 Julie ter ruste gelê word, hoewel dié datum nog nie bevestig is nie. Soos die sekretaris-generaal van die owerheid, prof. Mutjinde Katjiua, uitgewys het, is 18 Julie ’n betekenisvolle datum waarop opperhoof Hosea Kutako in 1970 gesterf het. Hy sê kontrole oor Rukoro se rou- en begrafnisdienste is een rede hoekom die owerheid die regering se aanbod om daarvoor te betaal, van die hand gewys het.

Kutako is begrawe by dieselfde heldebegraafplaas voor die Friedenskirche, die “kerk van vrede” in Okahandja, wat ingevolge ’n vorige besluit van die Herero-raad van hoofmanne slegs as die finale rusplek van opperhoofde mag dien.

Daar is egter ook opposisie, soos verwoord deur mnr. Rirua Komeheke, ’n vereerder van Ovaherero-tradisie, wat sê Kerina was nie ’n opperhoof nie en daar is net nie genoeg plek in die klein begraafplaas vir beide Rukoro en Kerina nie. ”Nee, ons sal dit nie aanvaar nie. Ons sal die bietjie wat ons s’n is beskerm,” sê hy.

Me. Kakuna Kerina, dogter van die oorlede professor, sê sy begryp nie die teenstand teen haar pa se wens om langs sy mentor en leier begrawe te word nie. “Hosea Kutako het hom as 19-jarige uit die land gestuur om Namibië se saak voor die VN te gaan bepleit. In die begraafplaas is genoeg ruimte en die twee hoef nie bymekaar begrawe te word nie.

“My pa het nooit vir veel gevra nie. Dié was sy uitdruklike wens en hy het jare terug dit ook op skrif gestel.
“As sy familie en sy kinders is dit ons plig, ons eer en ons vreugde om sy wens te vervul. Dit het baie mense se hulp gekos om dit te bereik en ons waardeer almal se hulp hiermee,” het sy gister gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!