Kerke veroordeel verpligte inentings
Kerke veroordeel verpligte inentings

Kerke veroordeel verpligte inentings

Volgens die Alliansie van Christelike Kerke in Namibië is die regering se standpunt oor verpligte inentings wat deur maatskappye ingestel word, inkonsekwent en onduidelik.
Ester Kamati
Ester Kamati – Die Alliansie van Christelike Kerke in Namibië (ACCN) het die verpligting van inentings veroordeel nadat sommige maatskappye geïmpliseer het werknemers wat nie ingeënt is nie kan hul werk verloor.

Me. Dolly Nengushe, die voorsitter van die ACCN, het gesê die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping behoort in te gryp terwyl die regering en ­maatskappye hulself bly distansieer van enige negatiewe newe-effekte van die Covid-19-entstowwe, wat die regering steeds as vrywillig beskryf.

Nengushe het gesê sy is bewus van individue wat hul werk verloor het nadat hulle geweier het om ingeënt te word.

Sy het benadruk dat die kerke meer as gewillig is om regeringsvoorskrifte te volg, maar het bygevoeg instellings moet verantwoordelikheid neem vir enige newe-effekte wat deur gedwonge inentings veroorsaak word.

Nengushe het gesê die regering se standpunt oor verpligte inentings wat deur maatskappye ingestel word, is inkonsekwent en onduidelik.

“Ons plaaslike media het die afgelope paar dae berig oor 'n aantal private maatskappye wat besig is om streng maatreëls te implementeer om verpligte inentings af te dwing.

“Dit raak baie kommerwekkend as maatskappye – wat nie kundiges op die mediese gebied is nie – hul werknemers dwing om teen hul wil ingeënt te word.

“Dis baie ontmoedigend om te sien hoe mense hulle werk verloor en selfs teen hul wil ingeënt word net om hul werk te behou, veral gedurende hierdie moeilike tyd van ekonomiese onrus.

“Verpligte inenting van werknemers terwyl werkgewers hulself van enige aanspreeklikheid vrywaar, is oneties.

“Die alliansie doen 'n beroep op die maatskappye wat hul werknemers dwing om ingeënt te word om volle verantwoordelikheid te neem en hulle selfs te vergoed vir enige negatiewe nagevolge wat die entstowwe kan meebring.”

Om werknemers te dwing om ingeënt te word, is 'n skending van hul grondwetlike regte en liggaamlike integriteit en hulle het die reg om hulle tot die howe te wend vir ­geregtigheid, het Nengushe aangevoer.

Die ACCN glo persoonlike ­oortuigings en voorkeure behoort die bepalende faktore in die inentingsbesluit wees.



'STEEDS VRYWILLIG'

Die minister van justisie, me. Yvonne Dauseb, het tydens die laaste ­Covid-19-inligtingsessie beklemtoon dat inenting vanuit die regering se perspektief steeds 'n persoonlike keuse is.

“Werknemers by enige instelling waar inentings verpligtend gemaak word, moet die ministerie nader en navraag doen oor watter stappe gedoen moet word, want gewoonlik het die arbeidswet bepalings vir gesondheids- en veiligheidsmaat­reëls,” het sy gesê.

“Indien personeellede of werknemers ontevrede is oor 'n werkgewer se optrede, moet hulle die ministerie van arbeid nader om die omstandighede te ondersoek en ook leiding te gee.

“Ons het niemand gedwing om ingeënt te word nie,” het sy benadruk.

Die afgelope paar weke het ver­skeie maatskappye riglyne aan werknemers uitgereik, met sommige wat werknemers 'n sperdatum gee om die entstof te ontvang of toegang tot die werkplek geweier te word.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!