Kerkhervorming

Die hoofstad was die gasheer van die 500ste herdenking van Martin Luther, wat sy leerstellinge teen die vergrype van die Rooms-Katolieke kerk teen Wittenberg se kerkdeure vasgespyker het.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Die globale herdenking van die 500ste jaar ná die kerkhervorming is verlede Sondag deur duisende mense in Windhoek bygewoon.

Lutherane van dwarsoor die wêreld het in die Sam Nujoma-stadion vir die herdenking byeengekom.

“Wat ons nou nodig het, is nie ‘n regverdiging van die verkeerde dade van die verlede nie, maar dat God in sy genade die ongeregtigheid uit ons almal verwyder, en in ons wêreld suiwer harte van liefde, geregtigheid en vrede skep,” het biskop emeritus Zephania Kameeta in sy erediens by die vieringe gesê.

Hy het ‘n boodskap van hoop en bevryding gelewer en betekenis aan die tema van die algemene vergadering van die Lutherse Wêreldfederasie (LWF) gegee, wat van 10 tot 16 Mei in Windhoek gehou is.

Die tema was “Bevry deur God se genade”.

“Ons raak betrokke by ‘n geestelike en teologiese uitdaging: om ons storie uit die perspektief van eenheid, en nie verdeeldheid nie, oor te dra,” het die uittredende LWF-president, biskop Munib A. Younan, in sy verwelkomingsrede gesê.

“Vandag, hier in Namibië, met almal van ons bymekaar, is dit bewys daarvan dat die hervorming inderdaad voortgaan en ‘n globale burger is.”

Met die voorstelling van die getuienis van die sewe streke van die Lutherse gemeenskap, het die LWF se sekretaris-generaal, eerwaarde doktor Martin Junge, gesê: “Die sewe getuienisse van al die LWF-streke spreek van die getuienis van Lutherse kerke in verskillende kontekste en kulture.

“Hier is stories van bemoediging en inspirasie. Terwyl ons luister, laat ons die begin van ons geloof onthou. Ons word deur die doop nuutgemaak en gewas in die waters van wedergeboorte. Ons bedank God wat ons op hierdie tyd en plek roep om Sy mense vol genade en waarheid te wees.”

Die sewe getuienisse kom uit die sewe streke van die Lutherse Wêreldfederasie, naamlik die Nordiese streek, Asië, Afrika, Noord-Amerika, Sentraal-Oos-Europa, Latyns-Amerika en die Karibiese streek, asook uit Sentraal-Wes-Europa.

Geen regverdiging vir verkeerde dade van die verlede

Biskop Kameeta, wat ‘n rol in Namibië se bevrydingstryd gespeel het, het in sy preek vertel hoe die evangelies hoop in die jare van die bevrydingstryd gebring het. “Ons sal nie moed opgee en ooit die handdoek ingooi nie, omdat ons sterk daarin glo dat haat, geweld, geldgierigheid, die groeiende gaping tussen ryk en arm, uiterste armoede, ongeregtigheid, uitbuiting, ekstremisme, terrorisme, diskriminasie en die dood nie die laaste woord sal hê nie.”

Hy het ‘n beroep op al die teenwoordiges gedoen om getuienis te lewer oor bevryding deur God se genade.

Wie was Martin Luther?

Martin Luther is op 10 November 1483 gebore en het op 18 Februarie 1546 gesterf. Hy was ‘n monnik, ’n Duitse professor in teologie, komponis, priester en ‘n sleutelfiguur in die Protestantse hervorming.

Luther het verskeie leringe van die Rooms-Katolieke kerk verwerp.

Hy het die Katolieke beskouing dat kwytskelding van God se straf vir sonde met geld gekoop kan word, betwis.

Luther het ‘n akademiese bespreking van praktyke voorgestel in sy 95 leerstellinge wat hy in 1517 teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het.

Sy weiering om hom te distansieer van al sy geskrifte op aandrang van pous Leo X in 1520, en die Heilige Romeinse keiser, Charles V, by die Ryksdag van Worms in 1521, het tot sy verbanning deur die pous gelei. Die keiser het ook sy stellings onwettig verklaar.

Luther se leringe was dat vergifnis en uiteindelik die ewige lewe nie met goeie dade verdien kan word nie, maar slegs deur God se genade. Sy teologie het die gesag en amp van die pous uitgedaag. Hy het voorgestaan dat die Bybel die enigste bron van goddelike kennis is, en nie die priesterlike amp nie.

Diegene wat met Luther se leringe geïdentifiseer het, is Lutherane genoem, al het Luther self daarop aangedring dat die regte benaming "Christen" of "Evangelis" vir diegene wat in Christus glo, moet wees.

Sy vertaling van die Bybel in plaaslike Duits (eerder as in Latyn) het dit meer toeganklik gemaak en dit het ‘n reuse-impak op sowel die kerk as die Duitse kultuur gehad.

Sy gesange het ook ‘n invloed op die sang in Protestantse kerke gehad.

Sy huwelik met Katharina von Bora, ‘n voormalige non, het as model vir kerklike huwelike gedien. So is Protestantse kerklikes toegelaat om te trou.

Kontroversie

Luther se lewe was kontroversieel. In twee van sy latere werke was Luther antagonisties teenoor Jode.

Hy het gesê dat Joodse huise en sinagoges moes vernietig word, hul geld gekonfiskeer moes word en dat hul vryheid aan bande gelê moes word.

Hierdie uitlatings en die invloed daarvan op anti-Semitisme is later deur elke Lutherse denominasie verwerp.

In 1542 het Luther ‘n Latynse vertaling van die Koran gelees. Hy het hierna verskeie kritiese pamflette oor Islam, wat hy Mohammedanisme of “die Turk” genoem het, geskryf. Al het Luther die Moslem-geloof as ‘n instrument van die duiwel beskou, was hy onpartydig oor die beoefening daarvan.

“Laat die Turk glo en leef soos hy wil, net soos die pousdom en ander vals Christene lewe," het hy geskryf.

Hy het gesê die Koran moenie verbied word nie, maar moet sorgvuldig bestudeer word sodat dit in onguns gebring kon word.

Van Desember 1539 af is Luther betrek by Philip I, Landgraaf van Hesse, se bigamie. Philip I wou met een van sy vrou se hofdames trou.

Hy wou onder andere Luther se goedkeuring daarvoor hê.

Die teoloë wat hy geraadpleeg het, was nie bereid om uitspraak daaroor te lewer nie, maar het die landgraaf teësinnig aangeraai om, indien hy vasbeslote was, dit in die geheim te doen en dit stil te hou.

In Maart 1540 is Philip toe met sy tweede vrou getroud, maar was nie in staat om dit stil te hou nie. Hy het gedreig om Luther se advies bekend te maak.

Luther het hom aangeraai om “’n goeie, sterk leuen” te vertel en die huwelik te ontken, wat Philip gedoen het te midde die openbare omstredenheid.

Volgens Luther se biograaf, Martin Brecht, was dit een van Luther se grootste foute.

Verspeiding van sy leringe

Luther se teologie was die begin van die Protestantse hervorming in Duitssprekende lande van die Heilige Romeinse Ryk en het gou internasionaal versprei.

Met die Ryksdag van Worms in 1521 is burgers van die Heilige Romeinse Ryk verbied om Luther se leringe te verdedig of om dit te propageer, met die dreigement dat al die eiendom van diegene wat dit doen, verbeurd verklaar sou word en dat die helfte van die eiendom waarop beslag gelê is aan die party wat die beskuldiging gemaak het, sou gaan.

Die Augsburg-belydenis, ‘n Lutherse verklaring oor geloof, sê dat geloof, soos deur Luther en sy aanhangers gepredik, niks nuuts is nie, maar eerder die ware Katolieke geloof is en dat hulle kerke die ware Katolieke of universele kerk is.

Toe die Lutherane die Augsburg-belydenis aan keiser Charles V oorhandig het, was hulle daarvan oortuig dat hulle gewys het dat elke artikel van geloof en gebruik die ware interpretasie van die Bybel en ook van die kerkvaders en kerkrade van die verlede was.

Lutheranisme vandag

Vandag is Lutheranisme een van die grootste denominasies van Protestantisme met nagenoeg 80 miljoen volgelinge. Dit is die derde grootste Protestantse denominasie naas die geskiedkundige Pinkster-denominasies en die Anglikane.

Die LWF, die grootste gemeenskap van Lutherse kerke, verteenwoordig meer as 72 miljoen mense.

Bronne: LWF/Wikipedia

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!