Kerkskole kry miljoene van onderwyskoek
Kerkskole kry miljoene van onderwyskoek

Kerkskole kry miljoene van onderwyskoek

Ofskoon die meeste privaatskole op skoolfonds steun om hul personeel se salarisse te betaal, kry kerkskole 'n beduidende bedrag van die onderwysministerie se begroting.
Kenya Kambowe
Kenya Kambowe op Rundu – Die Namibiese regering betaal jaarliks 'n subsidie van N$127 miljoen aan private kerkskole.

Dít terwyl die meeste private skole staatmaak op skoolfonds om salarisse te betaal.

Me. Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur, het by navraag dié bedrag aan Namibian Sun, Republikein se susterskoerant, bevestig.

Volgens haar spruit dié situasie uit 'n verstandhoudingsooreenkoms tussen kwalifiserende private kerkskole en die regering wat uit 1990 dateer.

Steenkamp het die opmerkings gemaak in reaksie op navrae oor die stand van sake by privaatskole te midde die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

Sommige privaatskole dring na wat verneem word aan op die volle bedrag skoolfonds hoewel leerlinge tuis onderrig word.

Namibian Sun verneem sommige ouers is deur verminderde salarisse getref, terwyl ander hul werk weens die ekonomiese impak van die siekte verloor het, maar moet aanhou skoolfonds betaal om nie hul kind se plek in die skool te verbeur nie.



'VOEL UITGESLUIT'

Die regering het vroeër vanjaar 'n stimuluspakket ten bedrae van meer as N$8 miljard aangekondig om die ekonomiese ellende van die pandemie te probeer teenwerk.

Hiernaas het die ministerie van finansies en die Maatskaplike Voor­sorgkommissie (SSC) ook 'n program bekend gestel om lone te subsidieer.

Die finansministerie het N$400 miljoen hiervoor bewillig, terwyl die SSC na verwagting N$253 miljoen sal bydra.

Dit bly na verneem word onduidelik of privaatskole by dié inisiatief sal baat vind, aangesien hulle tot dusver net gesigmaskers ontvang het.

Skoolhoofde met wie Namibian Sun gepraat het, sê hulle voel uitgesluit en wag op die regering om hulle te help.

Een skoolhoof het op voorwaarde van anonimiteit gesê: “Ons het gehoor van die stimuluspakket, maar tot dusver word net staatskole geprioritiseer. Hul onderwysers kry hul volle salaris, terwyl ons ons onderwysers en ander personeel se salarisse moes sny. Ons besnoei koste omdat nie alle ouers skoolfonds betaal nie. Daar is diegene wat verstaan, maar die rekeninge hoop op en ons moet improviseer.”

Volgens 'n ander skoolhoof van die Kavango-Oosstreek het hulle twee vergaderings met die onderwysministerie belê waartydens hulle ingelig is daar is geen geld vir hulle nie.



GEEN BEGROTING

Steenkamp sê die ministerie neem kennis van die pleidooie van privaat­skole, maar daar is in dié stadium geen begroting waarmee hulle gehelp kan word nie.

“Kom ek stel dit aan jou só: Ons almal wil dit doen, maar daar is geen begroting nie. Geen aanvullende begroting is hiervoor toegeken nie en ons wil nie 'n verwagting skep nie. Maar dié is gesprekke wat aan die gang is en wat tussen ministeries moet voortduur.

“Ons erken die swarighede en uitdagings waardeur privaatskole gaan en dit is waarom ons 'n beroep doen op ander belanghebbendes en ouers om te hou by die onderneming waartoe hulle hul verbind het.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!