Kerse skep bewustheid oor kanker
Naka Namibia se kerse word van 100% sojawas van sojabone gemaak.
Tanja Bause
“Ek wou vir my ouma Nakushu eer en ’n nalatenskap nalaat. Sy het ’n groot invloed op my lewe gehad. Sy het vir my hierdie sake-idee gegee en ek wou haar daarvoor eer. Ek het dít gedoen deur haar noemnaam, Naka, vir my besigheid se naam te gebruik en nou is sy elke dag by my wanneer ek werk,” het Ester Shilungu (22) die eienaar van Naka Namibia gesê.
Alhoewel Ester in Oshakati gebore is, noem sy Swakopmund haar tuiste omdat sy daar grootgeword het. Sy het haar skoolloopbaan in Swakopmund begin en in Windhoek klaargemaak. Sy is tans besig met haar finale jaar vir ’n baccalaureusgraad in rekeningkunde by die Namibië Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust).
“Ek het nog altyd in dekor belang gestel. Ek wou meubels ontwerp en maak en ook kleiner huisitems vervaardig, maar geld was ’n struikelblok. Ek het na maniere begin kyk om geld bymekaar te maak sodat ek dit kan doen.”
Ester het nog altyd van kerse en verskillende geure gehou en het begin om navorsing daaroor te doen. Sy het besef sy kan ’n kersbesigheid begin en ná nog navorsing het sy tot die besef gekom sy kan uitbrei en ook kamersproei en reukweerders maak.
NAKA
“Die idee het in 2019 begin ná my ouma se dood.
Sy was my tuiste en ek wou iets in haar naam doen terwyl ek geld bymekaar maak om my meubel- en dekorbesigheid te begin. Aan die begin van 2020 was ek reg om te begin, maar toe meng die Covid-19-pandemie met my planne in. Ek was baie gestres omdat ek reg was om die groot stap te neem. In die begin was dit die moeilikste. Ek het ’n idee gehad om kerse te verkoop, maar ek was skepties en bang. Uiteindelik het ek in Oktober 2020 met Naka Namibia begin.”
Naka-kerse word van 100% sojawas van sojabone gemaak.
“Ek wou omgewingsvriendelike en organiese kerse maak wat langer brand as die gewone paraffienkerse.”
KANKERVERENIGING
In 2013 toe sy in graad 9 was, het sy aan ’n wetenskapuitstalling deelgeneem en het sy navorsing oor borskanker gedoen.
“Die projek het ’n groot impak op my gehad en toe ek met Naka begin het, het ek besluit om die Oh My Tits-veldtog te begin. Ek wou bewustheid skep oor borskanker en terselfdertyd geld vir die Kankervereniging van Namibië (CAN) insamel. Ek wou hê dit moet normaal wees om oor borskanker te praat. Ons praat nie genoeg daaroor nie alhoewel dit so baie vroue beïnvloed. Borskanker ken geen verskil tussen ouderdom of kleur nie; dit kan ons almal raak.”
By elke kers wat sy verkoop word ’n pamflet oor borskanker, selfondersoek en vroeë opsporing gesit.
“Ek het een aand – ek dink dit was so 03:00 – met die idee vorendag gekom en met die eerste sketse begin. Ek wou eers net ’n kers maak, maar het besef wanneer die kers brand en smelt het jy niks oor nie. Ek het besluit ek wou iets meer sentimenteel maak; ’n stukkie kuns wat jy in jou huis kan hou. Ek het ’n keramiekkunstenaar Tate John gekry en werk nou saam met hom.”
Tate John maak die keramiekhouers volgens haar sketse. Elke houer en elke kers is uniek; net soos ’n vrou se borste.
“Borste kom in verskillende groottes en vorms. Nie twee vroue se borste is dieselfde nie; dis die realiteit. Jy kry nie perfekte borste nie en dis wat elke houer probeer wys.
Die kerse kom in twee verskillende geure – Relax en Uplift.
“Relax is laventel wat presies dit doen. Dis die kers wat jy op ’n Sondag laat brand wanneer jy jouself bietjie wil bederf, of wanneer jy jou maandelikse selfondersoek doen. Uplift is ’n lemoenreuk wat jy in die oggende brand om jou dag op te helder.”
Die drie verskillende houers – Hope, Brave en Warrior – kom in drie verskillende velkleure. Ester wou niemand uitsluit nie omdat alle vroue in gevaar is.
“Hope het twee borste en dit staan vir die hoop jy sal nie borskanker kry nie. Dis ook vir die hoop as jy dit sou kry, dit vroeg genoeg gediagnoseer sal word en jy nie jou borste verloor nie. Brave staan vir ’n enkelmastektomie en het net een bors. Brave is vir die vrou wat borskanker gehad het en braaf is. Warrior is vir die vrou wat ’n dubbele mastektomie gehad het; die vegter wat gewen het.”
Volgens Ester is die Oh My Tits-versameling haar gunsteling. Sy het ook ’n Valentine-, Kersfees-, Klassieke en Amber-versameling.
“Ek gaan volgende jaar beslis weer ’n versameling ten bate van borskanker doen. Dalk met groter houers en in pienk met ’n ander geur; ek is nog nie seker nie. Daar sal ’n duidelike verskil tussen die versameling van 2021 en 2022 wees. Dit sal beslis weer ’n stukkie kuns wees wat jy in jou huis kan uitstal.”
Tien persent van elke kers wat verkoop word, gaan aan CAN omdat Ester graag wil teruggee.
“My ouers het my van kleins af geleer om terug te gee en dis presies wat ek deur my besigheid wil doen.”
RAAD
“Moet nie jouself in ’n boks sit nie. Stel jouself bloot en eksperimenteer. Volg jou drome en werk hard as jy regtig iets wil hê; gryp dit met beide hande. As jy regtig iets wil doen en jy het ’n plan; gaan voluit vir dit al dink mense jou plan is malligheid.”
Ester verkoop haar kerse tans by die Groen-mark in Klein Windhoek, die Boeremark en Kersmarkte. Sy is ook van plan om die kerse binnekort by die kankervereniging te verkoop.
“Dit sal dit makliker maak vir almal om ’n kers in die hande te kry. Ek is ook op Twitter en Instagram by @naka_namibia.”
Haar plan is ook om vroeg volgende jaar ’n webblad te begin sodat mense direk bestellings op die webwerf kan plaas.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie