Kevin terug met knal; rig visier op Grand Slam
Kevin terug met knal; rig visier op Grand Slam

Kevin terug met knal; rig visier op Grand Slam

Tennis
Die Suid-Afrikaanse tennisster Kevin Anderson glo steeds hy kan sy groot droom verwesenlik deur 'n Grand Slam-toernooi te wen.

Die 33-jarige Anderson het die naweek in die ATP-bekertoernooi in Brisbane sy terugkeer tot die tennisbaan gemaak nadat hy verlede jaar op Wimbledon laas in aksie was.

Die wêreld se voormalige nommer 5-speler het Saterdag in sy eerste wedstryd vir Novak Djokovic van Serwië laat sweet voordat hy met 6-7(5), 6-7(6) verloor het en toe gister maklik met Chili se Cristian Garín afgereken in Suid-Afrika se tweede kragmeting. Die telling was 6-0, 6-3.

Anderson het met dié oorwinning ook die kragmeting vir Suid-Afrika beklink nadat Lloyd Harris die eerste wedstryd teen Nicolás Jarry met 6-4, 6-4 gewen het.

Anderson, wat intussen tot 147ste uitgesak het op die wêreldranglys terwyl 'n elmboog- en kniebesering hom verlede jaar lank uit aksie gehou het, hoop om gou weer 'n topspeler te wees.

“My beste was topvyf; ek sal graag weer daar wil kom,” het Anderson aan AFP gesê.

Hy hoop om onderweg na daardie mylpaal sy eerste Grand Slam-toernooi – die groot prys in tennis – te wen.

Hy het tevore die eindstryde op Wimbledon en die Amerikaanse Ope gehaal en glo dis weer binne sy bereik.

“Dis my groot doelwit en een wat ek voel ek het 'n goeie kans om te vermag.”

Anderson het met sy kanon-afslane aan die vooraand van die Australiese Ope 'n vroeë waarskuwing aan sy teenstanders gerig.

Hy het met 28 kishoue in sy eerste twee wedstryde met sy terugkeer in die ATP-bekertoernooi gewys hy is terug met 'n knal ná 'n knieoperasie in September.

Die eerste stel teen Garín, 33ste op die wêreldranglys, het net 25 minute geduur en die wedstryd was ná 74 minute iets van die verlede.

Anderson het aan ATPtour.com gesê die wedstryd teen Djokovic het hom nogal fisiek uitgeput, maar hy het Sondag goed herstel daarvan en hy het weer perdfris gevoel in Suid-Afrika se tweede kragmeting gister.

Hy was ook in sy noppies dat hy van die dinge waaraan hy gewerk het, op die baan in werking kon stel.

Harris (99ste) het in die eerste wedstryd van die kragmeting met Chili mooi teruggeveg om Jarry (77ste) te troef.

Jarry het met 4-2 in die eerste stel voorgeloop, maar toe vier potte ná mekaar verloor vir Harris om met 6-4 die voortou te neem. Harris het in die derde pot van die tweede stel deurgebreek om dit ook met 6-4 te wen.

Anderson het dit 2-0 in die kragmeting gemaak waarna Raven Klaasen en Ruan Roelofse dit tot 3-0 laat aangroei het deur Garín en Jarry met 1-6, 6-3, 10-7 in die dubbelspelwedstryd te klop.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!