Khashoggi: 18 word ondervra
Khashoggi: 18 word ondervra

Khashoggi: 18 word ondervra

18 Saoedi-Arabiërs word ondersoek weens 'n klag van doelbewuste moord met voorbedagte rade, asook marteling weens die moord op die joernalis Jamal Khashoggi, berig CNN.

Volgens CNN het 'n ingeligte senior Turkse amptenaar dié inligting aan die nuusagentskap bekend gemaak.

Dit volg nadat Saoedi-Arabië aanvanklik gesê het Kha­shoggi het die Saoediese konsulaat in Istanbul op 2 Oktober lewend verlaat. Daarna het hulle beweer hy is in 'n vuisgeveg met Saoediese amptenare dood. Teen Donderdag het die Saoediese prokureur-generaal egter gesê hy is vermoor in 'n voorafbeplande moord.

Pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye het Vrydag geëis dat Saoedi-Arabië bekend maak waar Khashoggi se oorskot is en die verdagtes oorhandig.

Die vervolgingskantoor in Istanbul het 'n uitleweringversoek aan Saoedi-Arabië gerig vir die 18 verdagtes, wat nog nie aangekla is nie.

Adel Al-Jubeir, Saoedi-Arabië se minister van buitelandse sake, het Saterdag gesê hulle gaan die versoek weier.

Mohammed bin Salman, kroonprins van Saoedi-Arabië, het vroeër vandeesweek in Riaad gesê die koninkryk sal “al die nodige doen en die gebeure deeglik ondersoek om resultate te kry”.

Hulle het volgehou nie Bin Salman óf koning Salman het geweet van die operasie om Khashoggi te teiken nie. Amerikaanse amptenare meen egter so 'n operasie, wat insluit dat 15 mans glo van Riaad gestuur is, sou nooit uitgevoer kon word sonder Bin Salman se goedkeuring nie.

Al-Jubeir het 'n beroep op die publiek gedoen om te wag totdat die ondersoek afgehandel is.

Toe hy gevra is hoe die moord gepleeg is sonder Bin Salman se medewete, het Al-Jubeir gesê: “Die ondersoek is nog aan die gang. Ons probeer vasstel wat gebeur het. Ons weet 'n fout is gemaak. Ons weet mense het hul magte oorskry en hulle weet ons ondersoek hulle.”

Al-Jubeir het gesê dié wat verantwoordelik is vir die moord, sal gestraf en in Saoedi-Arabië vervolg word. “Meganismes sal in plek gestel word om seker te maak dit gebeur nie weer nie.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer